Wilgehof-onnie deur EFF gejag

Die Trompsburg Primêre skool se beheerliggaam en ouers volstaan daarby dat ‘n onderwyser wat by die Laerskool Wilgehof in Bloemfontein afgedank is nadat hy ‘n ou Suid-Afrikaanse landsvlag en foto’s van die EFF-leier, Julius Malema, langs bobbejane in sy klaskamer vertoon het, as leerkrag op Trompsburg aanbly.

Die Federasie van Beheerliggame van Suid-Afrikaanse Skole (Fedsas) se Jaco Deacon sê die besluit is Maandag op ‘n vergadering met ouers en lede van die skool se beheerliggaam geneem.

Dit kom nadat die EFF Vrydag buite dié skool met plakkate betoog het om hul ontevredenheid te wys rakende Lenard Mac Kay, wat verlede week in ‘n beheerliggaampos by dié skool aangestel is.

‘n Griefskrif is aan dié skool se beheerliggaam-voorsitter, Willem Grobbelaar, oorhandig. Daarin eis die EFF dat Mac Kay in die pad gesteek word omdat hy onbevoeg is om met leerders te werk. Deacon sê Mac Kay het ook Maandagaand ‘n geleentheid gekry om op die vergadering te praat.

Die skool se beheerliggaam het besluit om Mac Kay in hul diens te hou en dat hy in die skool se “waarderaamwerk as opvoeder” inpas. Daar is dus nie aan die EFF se versoek voldoen dat Mac Kay onmiddellik uit sy pos ontslaan moet word nie, sê Deacon. Mac Kay gaan skoolhou soos wat ouers op die vergadering, asook die beheerliggaam besluit het.

Die EFF se Kgotso Morapela het Vrydag aan OFM-nuus gesê as die skool se beheerliggaam nie van Mac Kay ontslae raak nie, gaan die EFF dit nie daar laat nie en lede sal oorgaan tot ernstige aksie en Mac Kay self uit sy klaskamer verwyder.

Mac Kay is in 2014 deur die provinsiale onderwysdepartement as leerkrag by die Laerskool Wilgehof in Bloemfontein afgedank. Daar is bevind dat sy optrede onbehoorlik, skadelik en/of onaanvaarbaar was.

Die Suid-Afrikaanse Onderwyserunie (SAOU) het destyds ‘n skikking met die Suid-Afrikaanse Raad van Opvoeders (Sace) bereik, wat hom ook skuldig bevind het. SAOU tree namens Mac Kay op.

Die skikking met Sace het behels dat die skrapping van Mac Kay se naam van die onderwysersrol opgeskort gaan word vir ‘n tydperk van tien jaar.

Dít op voorwaarde dat hy hom nie weer skuldig maak aan dieselfde tipe wangedrag nie. SAOU het verlede jaar ‘n klag van onbillike ontslag by die Raad vir Arbeidsverhoudinge in die Onderwys (Ravo) ingedien. Dié arbitrasieproses is steeds aan die gang.

Mac Kay is onlangs in ‘n beheerliggaampos by die Trompsburg Primêre skool aangestel. Deacon sê die Skolewet bepaal dat beheerliggame bykomende onderwysers by skole kan aanstel as die leerkrag oor die nodige kwalifikasies beskik en aan ‘n betrokke skool se behoeftes voldoen. Hy mag dus ‘n beheerliggaampos beklee.

‘Harry Potter se prof’ oorlede

Die akteur Alan Rickman, bekend vir sy rolle as Professor Snape in die Harry Potter-reeks, en die Sheriff van Nottingham in Robin Hood: Prince of Thieves, is Donderdag in die ouderdom van 69 jaar oorlede.

Die ster se familie het aan die BBC gesê Rickman het aan kanker gely.

Hy was ook te sien in die films Love Actually en het onlangs die rol van Judge Turpin in die filmweergawe van Stephen Sondheim se musiekblyspel, Sweeney Todd: The Demon Barber of Fleet Street, vertolk.

In 1995 het hy ‘n Golden Globe, Emmy-toekenning en Screen Actors Guild-toekenning vir sy vertolking van Rasputin in Rasputin: Dark Servant of Destiny, ontvang.

Onderwyser voor na 13-jarige verkrag is

rape8’n Onderwyser van Noordwes sal na verwagting vandeesweek in die Lehurutshe-landdroshof verskyn nadat hy na bewering ’n 13-jarige leerling verkrag het.

Die leerkrag van Dinokana naby Zeerust sal Dinsdag in die hof verskyn vir ’n formele borgtogaansoek, het kapt. Pelonomi Makau, polisiewoordvoerder, Maandag gesê.

Op 6 November het hy glo die meisie gevra om na skool te bly, waarna hy haar na die skool se toilette geneem en glo verkrag het.

Makau het gesê die meisie is na ’n hospitaal geneem, waar daar vasgestel is dat sy verkrag is.

Die skoolhoof het die volgende dag die leerkrag na ’n polisiekantoor geneem. Hy is steeds in aanhouding. -Sapa

Onderwyser verkrag glo 11-jarige

Dutywa’n Onderwyser wat daarvan beskuldig word dat hy ’n 11-jarige leerling verkrag het, het Woensdag in die Dutywa-landdroshof in die Oos-Kaap verskyn.

Die saak is tot Vrydag uitgestel.

Kapt. Jackson Manatha, polisiewoordvoerder, het gesê die onderwyser is Maandag in hegtenis geneem en sal in aanhouding bly.

Volgens Manatha het die leerkrag die meisie glo Vrydagaand gebel en gevra dat sy geld terugbring wat hy aan haar gegee het.

Met haar aankoms het hy haar glo gevra om in ’n verhouding met hom te wees. Toe sy hom ignoreer, het hy haar na ’n nabygeleë veld gesleep en haar na bewering verkrag.

Die meisie het haar ouers van die voorval vertel en ’n klag is gelê. – Sapa

Saak uitgestel vir onderwyser wat naakfoto stuur

hydepark‘n Onderwyser wat geskors is nadat hy na bewering ‘n naakfoto van homself aan ‘n 16-jarige leerling gestuur het, sal weer  in November in die hof verskyn, het die polisie in Gauteng gesê.

“Hy sal weer op 6 November 2013 in die hof verskyn,” het ao. Moses Maphakela, polisiewoordvoerder, gesê.

Die onderwyser van die Hoërskool Hyde Park in Johannesburg is en in Augustus in hegtenis geneem en sal in die Alexandra-landdroshof verskyn.

Eyewitness News het vroeër berig die onderwyser het glo laat die aand op 30 Julie ‘n gesprek op die boodskapdiens WhatsApp met die leerling se ma gehad nadat sy hom onder die indruk gebring het dat hy met die seun self gesels.

Die onderwyser het na bewering seksuele foto’s na die seun se selfoon gestuur, asook seksuele voorstelle gemaak.

Volgens die ma het dit die skool langer as ‘n week geneem om die onderwyser te skors en sy het toe ‘n strafregtelike klag teen hom ingedien. Die skool het glo langer as ‘n week geneem om die onderwyser te skors.

Die seun en ma se name word weerhou om sy identiteit te beskerm. – Sapa