Raad beslis dat Wilgehof-skoolhoof weer aangestel word

Die Onderwysdepartement in die Vrystaat het ‘n besluit deur die Raad op Arbeidsbetrekkinge in die Onderwys gekritiseer.

Die Raad het beslis dat ‘n Bloemfonteinse skoolhoof wat op aanklagte van rassisme afgedank is, weer aangestel moet word.

Hulle het ook beslis dat die laerskoolhoof van Wilgehof, Fanie Roelofse sowat R600 000 se salaris terugwerkend moet kry.

‘n Woordvoerder vir die departement, Howard Ndaba sê hulle gaan die beslissing in die Arbeidshof betwis.

Hy sê die departement is van mening dat Roelofse nie in staat is om met kinders te werk nie en dat die departement alles in hul vermoë sal doen om rassisme uit te roei.

Roelofse is afgedank ná klagtes van die Mensregtekommissie dat hy nie opgetree het teen ‘n onderwyser oor rassistiese uitlatings, die ou landsvlag en neerhalende foto’s in sy klaskamer nie.

Wilgehof-onnie deur EFF gejag

Die Trompsburg Primêre skool se beheerliggaam en ouers volstaan daarby dat ‘n onderwyser wat by die Laerskool Wilgehof in Bloemfontein afgedank is nadat hy ‘n ou Suid-Afrikaanse landsvlag en foto’s van die EFF-leier, Julius Malema, langs bobbejane in sy klaskamer vertoon het, as leerkrag op Trompsburg aanbly.

Die Federasie van Beheerliggame van Suid-Afrikaanse Skole (Fedsas) se Jaco Deacon sê die besluit is Maandag op ‘n vergadering met ouers en lede van die skool se beheerliggaam geneem.

Dit kom nadat die EFF Vrydag buite dié skool met plakkate betoog het om hul ontevredenheid te wys rakende Lenard Mac Kay, wat verlede week in ‘n beheerliggaampos by dié skool aangestel is.

‘n Griefskrif is aan dié skool se beheerliggaam-voorsitter, Willem Grobbelaar, oorhandig. Daarin eis die EFF dat Mac Kay in die pad gesteek word omdat hy onbevoeg is om met leerders te werk. Deacon sê Mac Kay het ook Maandagaand ‘n geleentheid gekry om op die vergadering te praat.

Die skool se beheerliggaam het besluit om Mac Kay in hul diens te hou en dat hy in die skool se “waarderaamwerk as opvoeder” inpas. Daar is dus nie aan die EFF se versoek voldoen dat Mac Kay onmiddellik uit sy pos ontslaan moet word nie, sê Deacon. Mac Kay gaan skoolhou soos wat ouers op die vergadering, asook die beheerliggaam besluit het.

Die EFF se Kgotso Morapela het Vrydag aan OFM-nuus gesê as die skool se beheerliggaam nie van Mac Kay ontslae raak nie, gaan die EFF dit nie daar laat nie en lede sal oorgaan tot ernstige aksie en Mac Kay self uit sy klaskamer verwyder.

Mac Kay is in 2014 deur die provinsiale onderwysdepartement as leerkrag by die Laerskool Wilgehof in Bloemfontein afgedank. Daar is bevind dat sy optrede onbehoorlik, skadelik en/of onaanvaarbaar was.

Die Suid-Afrikaanse Onderwyserunie (SAOU) het destyds ‘n skikking met die Suid-Afrikaanse Raad van Opvoeders (Sace) bereik, wat hom ook skuldig bevind het. SAOU tree namens Mac Kay op.

Die skikking met Sace het behels dat die skrapping van Mac Kay se naam van die onderwysersrol opgeskort gaan word vir ‘n tydperk van tien jaar.

Dít op voorwaarde dat hy hom nie weer skuldig maak aan dieselfde tipe wangedrag nie. SAOU het verlede jaar ‘n klag van onbillike ontslag by die Raad vir Arbeidsverhoudinge in die Onderwys (Ravo) ingedien. Dié arbitrasieproses is steeds aan die gang.

Mac Kay is onlangs in ‘n beheerliggaampos by die Trompsburg Primêre skool aangestel. Deacon sê die Skolewet bepaal dat beheerliggame bykomende onderwysers by skole kan aanstel as die leerkrag oor die nodige kwalifikasies beskik en aan ‘n betrokke skool se behoeftes voldoen. Hy mag dus ‘n beheerliggaampos beklee.

Wilgehof: Klaer vas vir winkeldiefstal

Craig Thiem
Craig Thiem

Die wit pa wat ‘n rasseherrie by die Laerskool Wilgehof begin het, Craig Thiem, het toe nie opgedaag vir sy afspraak met die skool se beheerraad nie.

Hy sou by dié geleentheid die beweerde rassisme van onderwysers in die skool wat hy in ’n ellelange brief uiteengesit het, met die beheerraad bespreek het, berig die Volksblad.

Victor Goliath, voorsitter van die skool se beheerraad het gesê Thiem het egter op kort kennisgewing die beheerraad laat weet dat hulle die inhoud van die brief maar sonder hom moet bespreek.

Die waarnemende skoolhoof, Louis van Biljon, sal nou in opdrag van die beheerraad aan Thiem ’n brief skryf om te hoor wanneer dit hom sal pas om met die beheerraad oor die inhoud van die brief te vergader.

Goliath sê in die brief is daar niks nuuts nie, behalwe ou bewerings. Hy sê verder word daar ook “wilde bewerings” oor ander personeellede van die skool gemaak, maar hul name word nie genoem nie.

Thiem (51) van Thomas Leithstraat, Wilgehof, moet weer eerskomende Maandag in die Bloemfonteinse landdroshof op ’n aanklag van winkeldiefstal verskyn. Hy word daarvan aangekla dat hy kruideniersware van R524 in die Pick n Pay Hypermarket in Fichardtpark gesteel het.

Wilgehof: Geen bewyse van rassisme nie, maar departement hou vol

wilgehofDie Vrystaatse Onderwysdepartement gaan voort met die ondersoek na beweerde rassisme deur ‘n graad-een onderwyser teen ‘n leerder van die Laerskool Wilgehof in Bloemfontein, in weerwil daarvan dat die Suid-Afrikaanse Menseregtekommissie geen bewyse van mishandeling kon vind nie.

Die Suid-Afrikaanse Menseregtekommissie (SAMRK) se woordvoerder Isaac Mangena sê die leerlinge, onderwysers en die Skoolbeheerliggaam (SBL) se voorsitter is tydens ‘n voorlopige ondersoek ondervra.

Hy sê dié aan die lig gebring dat die onderwyser na bewering privaat rassistiese uitlatings teenoor ‘n kollega in die skool se administrasie-afdeling geuiter het, wat glo ‘n swart werknemer gehoor is.

Mangena sê die kwessie het betrekking op werksplekdiskriminasie en moet hanteer word deur die werkgewer, die SBL, in terme van artikel 6 van die Wet op Diensbillikheid.

Die onderwyser is steeds geskors hangende die SBL se ondersoeke. Die onderwyser was die derde Wilgehof werknemer wat weens beweerde rassisme geskors is na Leonard MacKay en die skool se skoolhoof Fanie Roelofzze.