Khulubuse Zuma se dringende aansoek om eise ter waarde van meer as R1.5 miljard teen Aurora Empowerment Systems tersyde gestel te kry, is Dinsdag in die Pretoriase hooggeregshof van die hand gewys.
Regter Eberhardt Bertelsmann het die aansoek word met koste van die hand gewys.
Zwelinzima Vavi, algemene sekretaris van Cosatu, het die uitspraak as ‘n oorwinning vir werkers beskryf. Sowat 5 300 voormalige Pamodzi-werknemers word geraak.
Die uitspraak beteken dat die Pamodzi-likwidateurs hul hofgeding teen die Aurora-direkteure op 23 Maart kan voortsit.
Die NUM het ook die uitspraak verwelkom en gesê: “Khulubuse Zuma en sy sakevennote by Aurora moet al die geld wat hulle aan mynwerkers skuld oorbetaal.”
“Duisende van hierdie werkers leef nog steeds in armoede. Hulle het nie kos nie, nie water nie en sommige van hulle is siek. Daar is selfs persone wat oorlede is weens stres wat hierdie gevoellose tenderpreneurs veroorsaak het.”
Aurora se likwidateurs het die hof genader om die maatskappy se direkteurs aanspreeklik te hou vir die batestropery van die gelikwideerde Pamodzi-goudmyne in Springs, Gauteng en Orkney.
Aurora is in 2009 deur likwidateurs aangestel om Pamodzi se myne te bestuur nadat die maatskappy bankrot verklaar is.
Maandag word gewy aan die stryd teen tuberkulose wêreldwyd om bewustheid aan te help.
Soos met misdaad, is Suid-Afrika ook hoog op die lys lande waar hierdie siekte voorkom.
Die tema vanjaar is: “Bereik die drie-miljoen”. Dit is die aantal mense, uit die sowat 9-miljoen mense met TB, wat na raming jaarliks wêreldwyd oor die hoof gesien word deur openbare gesondheidsorginstellings.
Die land kry na raming 500.000 nuwe TB-gevalle elke jaar, en spog met die tweede hoogste aantal TB-gevalle ter wêreld.
Daarbenewens het Suid-Afrika ook die vierde hoogste voorkoms van TB wat weerstandig is teen verskeie soorte behandelings.
Een uit elke 25 mense in die land wat met TB gediagnoseer word, ontwikkel weerstandige tuberkulose.
Die fokus plaaslik sal wees om TB in die afgesonderde gemeenskappe te teiken.
Daar sal aan mynwerkers besondere aandag geskenk word, aangesien die goudmynbedryf die grootste aantal siekes oplewer.
Goudmyne het die hoogste koers van tuberkulose (TB) in die bedryf.
Duisende mynwerkers het ‘n longsiekte wat veroorsaak word deur mynstof, genaamd silikose, wat hul kanse om TB op te doen, verhoog.
Die NUM se nasionale voorsitter vir gesondheid en veiligheid Peter Bailey skat dat vir elke “een noodlottige ongeluk, vyf werkers as gevolg van dié beroepsiekte sterf “.
Duisende voormalige mynwerkers sterf stilweg by hul huise op die platteland, sonder dat die mynbedryf enige politieke ongemak daaroor verduur.
Agt mynwerkers se lyke, almal slagoffers van ‘n brand, is in Harmony Gold se Doornkop-goudmyn, wes van Johannesburg, uitgehaal.
‘n Brand het vroeër dié week ondergronds uitgebreek. Die departement van minerale hulpbronne het Donderdag gesê een werker word steeds vermis.
Die brand het Dinsdag omstreeks 18:00 uitgebreek ná ’n skudding wat ’n elektriese kabel laat kortsluit het.
Vlamme het begin woed en daar was ‘n grondstorting sowat 1 730 m ondergronds. Aanvanklik is 18 mynwerkers vermis.
Agt werkers is Woensdag gered en teen Woensdagaand laat het tien reddingspanne steeds onverpoosd na die ander gesoek.
James Duncan, woordvoerder vir Harmony Gold, het bevestig dat agt lyke gevind is. Die maatskappy sal later Donderdag ‘n verklaring uitreik.
Hulle identiteite, sowel as die van die oorlewendes, word in dié stadium weerhou. Een man het wonder-bo-wonder eiehands Woensdagoggend uit die skag ontsnap.
Die mynwerkersvakbond, die NUM het hul skok uitgespreek oor die dood van die agt mynwerkers aan die Wes-Rand.
Die hoofsekretaris van die NUM, Frans Baleni sê die mynmaatskappye moet volle verantwoordelikheid vir die tragedie aanvaar.
Dit is die ergste ongeluk van sy soort sedert die dood van 9 mynwerkers in 2009.
Baleni sê vrae moet gevra word oor die veiligheidstandaarde in die myn, en hoekom al die mynwerkers nie by funksionerende veiligheidskamers kon uitkom nie.
Toneel uit ‘n polisievideo van die ritueel wat op stakende mynwerkers uitgevoer is
deur Jonisayi Maromo en Gavin Emmanuel
‘n Groot groep kaal mynwerkers het die dag voor die Marikana-skietery rituele op ‘n koppie beoefen, het die Farlam-kommissie Vrydag aangehoor.
Brigadier Adriaan Calitz van die polisie het getuig dat ‘n wit Toyota-bakkie op 15 Augustus verlede jaar emmers by ‘n koppie naby die Nkaneng-plakkerskamp in Marikana naby Rustenburg in die Noordwesprovinsie afgelaai het.
”;n Groep stakers het na die bakkie toe gegaan en dit omring. Ek het dit aan die (GOK) gesamentlike operasieskomitee gerapporteer dat sommige van ons lede gedink het die emmers bevat moetie,” het hy gesê.
Ná 4 nm. het ‘n polisiehelikopter wat die toneel gepatrolleer het, verslag gedoen dat omtrent 800 kaal stakers agter die koppie geskuil het “en dat ‘n tradisionele geneser met hulle besig was”.
Die volgende dag is 34 mense, meesal stakende mynwerkers, tydens ‘n botsing met die polisie doodgeskiet. Agt-en-sewentig is gewond terwyl hulle uitmekaar gespat en naby die Lonmin-platinamyn in Marikana ontwapen is.
Die Farlam-kommissie is later daardie maand aangestel om die omstandighede rondom die skietery te ondersoek, asook die dood van 10 ander mense, waaronder twee polisiemmanne en twee veiligheidswagte, gedurende die voorafgaande week.
Calitz, een van die polisie-offisiere wat tydens die arbeidsonrus aan die Marikana-operasie toegewys is, het Vrydag tydens die kommissie se openbare verhoor in Centurion getuienis gelewer.
Hy het gesê die wit Toyota-bakkie is waargeneem waar dit stowwe in emmers aan die mynwerkers gelewer het.
“Die helikopter het verslag gedoen dat die ongeveer 800 kaal stakers besig was om rituele uit te voer.”
Calitz het gesê dat een van die versetsleiers, wat as Noki geëien is, herhaaldelik die polisie aangesê het om die koppie te verlaat.
Mnr. Noki het na vore gekom en gesê dat hulle nie meer met die SAPD (Suid-Afrikaanse Polisiediens) gaan praat nie en dat hulle met die mynbestuur deur hul prokureur, Shapiro, wil praat. Hy het toe na die groep teruggestap,” het Calitz gesê.
“‘n Kort rukkie later het die bui van ‘n groep van ongeveer 300 mans merkbaar verander, want hulle het groter aggresssie getoon deur hul wapens teen mekaar te slaan en het heen en weer in ‘n hegte eenheid beweeg.”
In Maart het die kommissie aangehoor dat die sangoma wat blykbaar die rituele op die betogende mynwerkers uitgevoer het, doodgeskiet is.
Ishmael Semenya het namens die polisie die sangoma se dood by die openbare verhoor aangekondig.
Indertyd het hy gesê dat die polisie gepoog het om die 69-jarige sangoma, Alton “Ndzabe” Zikhuthele Joja, na die kommissie te bring om te getuig.
In Junie het die Nasionale Vervolgingsgesag gesê dat Lindelani Mkhize, 28, wat daarvan beskuldig word dat hy die sangoma gedood het, in die Bizana-landdroshof verskyn het.
Mkhize is in sy tuisdorp, KwaMaphumulo, in Kwazulu-Natal in hegtenis geneem.
Joja sou voor die Farlam-kommissie oor sy rol, en dié van sy seuns, getuig het, betreffende die rituele wat op die stakende mynwerkers uitgevoer is.
Die rituele was blykbaar veronderstel om die mynwerkers onsigbaar in die aangesig van geweervuur te maak.
Vyf gewapende mans het Joja geskiet toe hy na hul voertuig voor sy huis stap om hulle te vra wat hulle daar soek.
Die skieters het op die vlug geslaan. Hul motor is later verlate en uitgebrand met ‘n geweer daarbinne gevind .
Joja het by sy aankoms by ‘n plaaslike hospitaal gesterf..
Die openbare verhoor word Maandag voortgesit. – Sapa