Agt lyke by Doornkop-goudmyn uitgehaal na brand

harmonyAgt mynwerkers se lyke, almal slagoffers van ‘n brand, is in Harmony Gold se Doornkop-goudmyn, wes van Johannesburg, uitgehaal.

‘n Brand het vroeër dié week ondergronds uitgebreek. Die departement van minerale hulpbronne het Donderdag gesê een werker word steeds vermis.

Die brand het Dinsdag omstreeks 18:00 uitgebreek ná ’n skudding wat ’n elektriese kabel laat kortsluit het.

Vlamme het begin woed en daar was ‘n grondstorting sowat 1 730 m ondergronds. Aanvanklik is 18 mynwerkers vermis.

Agt werkers is Woensdag gered en teen Woensdagaand laat het tien reddingspanne steeds onverpoosd na die ander gesoek.

James Duncan, woordvoerder vir Harmony Gold, het bevestig dat agt lyke gevind is. Die maatskappy sal later Donderdag ‘n verklaring uitreik.

Hulle identiteite, sowel as die van die oorlewendes, word in dié stadium weerhou. Een man het wonder-bo-wonder eiehands Woensdagoggend uit die skag ontsnap.

Die mynwerkersvakbond, die NUM het hul skok uitgespreek oor die dood van die agt mynwerkers aan die Wes-Rand.

Die hoofsekretaris van die NUM, Frans Baleni sê die mynmaatskappye moet volle verantwoordelikheid vir die tragedie aanvaar.

Dit is die ergste ongeluk van sy soort sedert die dood van 9 mynwerkers in 2009.

Baleni sê vrae moet gevra word oor die veiligheidstandaarde in die myn, en hoekom al die mynwerkers nie by funksionerende veiligheidskamers kon uitkom nie.

2 thoughts on “Agt lyke by Doornkop-goudmyn uitgehaal na brand”

  1. Ek wonder of hulle al probeer het om mense te kry om veiligheidsreëls na te kom – dit is erger as padreëls. Hoeveel kere sien jy kontrakteurs met hoekslypers sonder veiligheidskerms en brille werk! (Dis nie omdat die baas so gesê het nie – die volk is nou sy eie baas) Hiermee stel hulle hul eie lewens en die van omstanders in gevaar.

    In die myne gaan dit net so – veiligheidsmaatreëls is onnodig as jy nadink oor waarmee jy besig is – dan kom dit vanself. Omdat meeste mense (ongeag wie jy is) nie lekker oor hierdie goed nadink nie word veiligheidsreëls en watte vasgelê – padreëls is ook ‘n voorbeeld en hoeveel word dit verontagsaam? Die breek van reëls is mos ZA se nommer een sport en nou kry die myn en mynbestuur weer byvoorbaat die skuld vir werkers wat nie noodwendig die reëls gehoorsaam het nie.

Maak 'n opvolg-bydrae