Agt lyke by Doornkop-goudmyn uitgehaal na brand

harmonyAgt mynwerkers se lyke, almal slagoffers van ‘n brand, is in Harmony Gold se Doornkop-goudmyn, wes van Johannesburg, uitgehaal.

‘n Brand het vroeër dié week ondergronds uitgebreek. Die departement van minerale hulpbronne het Donderdag gesê een werker word steeds vermis.

Die brand het Dinsdag omstreeks 18:00 uitgebreek ná ’n skudding wat ’n elektriese kabel laat kortsluit het.

Vlamme het begin woed en daar was ‘n grondstorting sowat 1 730 m ondergronds. Aanvanklik is 18 mynwerkers vermis.

Agt werkers is Woensdag gered en teen Woensdagaand laat het tien reddingspanne steeds onverpoosd na die ander gesoek.

James Duncan, woordvoerder vir Harmony Gold, het bevestig dat agt lyke gevind is. Die maatskappy sal later Donderdag ‘n verklaring uitreik.

Hulle identiteite, sowel as die van die oorlewendes, word in dié stadium weerhou. Een man het wonder-bo-wonder eiehands Woensdagoggend uit die skag ontsnap.

Die mynwerkersvakbond, die NUM het hul skok uitgespreek oor die dood van die agt mynwerkers aan die Wes-Rand.

Die hoofsekretaris van die NUM, Frans Baleni sê die mynmaatskappye moet volle verantwoordelikheid vir die tragedie aanvaar.

Dit is die ergste ongeluk van sy soort sedert die dood van 9 mynwerkers in 2009.

Baleni sê vrae moet gevra word oor die veiligheidstandaarde in die myn, en hoekom al die mynwerkers nie by funksionerende veiligheidskamers kon uitkom nie.