Venda-bank wat Zuma-lening verskaf onder die soeklig

In ‘n eksklusiewe onderhoud op Power FM het die uitvoerende hoof VBS Mutual Bank, Andile Ramavhunga gesê die bank se lening president Zuma het groter belangstelling gewek as wat verwag is.

“Die publisiteit wat ons in die afgelope twee dae ontvang het, is net oorweldigend. Sommige daarvan is negatief, sommige daarvan positief.”

Die bank bestaan sedert 1982 en het begin met ‘n kliëntebasis van inwoners van die destydse Republiek van Venda as kliënte, wat spesialiseer in huislenings aan stamhoofde.

Die bank het drie takke in Limpopo en een in Gauteng.

Ramavhunga het gesê hy kan nie meer oor die lenig uitwei nie weens vertroulikheidklousules. Hy het ontken dat politieke invloed enige rol gespeel het in die bank se besluit.

Volgens Ramavhunga, het die bank meer as R300 miljoen se soortgelyke lenings aan ander Suid-Afrikaners goedgekeur.

Zuma het die Nasionale Vergadering Dinsdag toespreek en vrae van parlementslede beantwoord, maar voor hy kon begin, het opposisielede hul gewone manewales uitgehaal.

Die EFF het hom daarvan beskuldig dat hy sy ampseed verbreek het en het daarna uitgestap. Zuma sê die Nasionale Vergadering behoort hom nie te nooi as niemand in sy antwoorde belangstel nie.

Ander opposisiepartye het die President se lening bevraagteken vir die R7,8 miljoen om nie-veiligheidsopgraderings by sy privaatwoning op Nkandla terug te betaal.

Die EFF, self intiem vertroud met korrupsie-aanklagte, het daarop gewys dat die Openbare Beleggingskorporasie ‘n 25 persent aandeel in die bank het.

Media24 het die EFF lowend beskryf as ‘n party wat uit die “volksmond” praat.

Zuma gaan lening aan vir Nkandla-skuld

President Jacob Zuma sal glo ‘n persoonlike lening aangaan om die R7,8 miljoen wat hy skuld vir Nkandla terug te betaal.

Die Openbare Beskermer het bevind dat hy die geld wat onregmatig uit die staatskas kom vir verbeterings aan sy eie woning, moet teruggee.

City Press berig dat Zuma ‘n lening van VBS Mutual Bank ontvang het daarvoor.

Handelsbanke weier om huisverbande toe te staan aan wonings wat op stamgrond gebou is, soos in die geval van Nkandla wat aan die Ingonyama-trust behoort.

VBS is ‘n klein bank wat spesialiseer in lenings in landelike gebiede aan mense wat op kommunale trustgronde bly.

SA reg vir nuwe kernbouprogram sê Necsa

Suid-Afrika sal sy kernbouprogram, wat groot kapitaalbeleggings in kernkragsentrales beteken, met behulp van sy bestaande vermoëns uitbrei.

Die Suid-Afrikaanse Kernenergiekorporasie (Necsa), sê hulle is gereed om die nuwe kernbouprogram vir Suid-Afrika te steun.

Die adjunk-direkteur-generaal van die Departement van Energie belas met kernkrag, Zizamele Mbambo, het dit bevestig tydens ‘n besoek saam met die portefeuljekomitee rakende energie wat die Suid-Afrikaanse Kernkorporasie naby Atteridgeville in Pretoria besoek het.

Die komitee wil die gereedheid van die korporasie vasstel voor die inwerkingstelling van die kernbouprogram.

Die bodproses vir die transaksie, wat honderde miljarde rand kan beloop, sal die maand nog begin.

Mbambo sê die regering se kernkragplanne word vervat in die kernenergiebeleid van 2008 waarvolgens die land beoog om selfonderhoudend ten opsigte van kernkrag te wees.

Necsa het gesê dat die nuwe kernbouprogram sal nie alleen bydra tot energiesekuriteit nie, maar ook ekonomiese groei, die ontwikkeling van infrastruktuur, asook die ontwikkeling van vaardighede en werkskepping.

“Die belangrikste is, en in lyn met die huidige wêreldwye konsensus, dat kernkrag sal bydra tot die vermindering van Suid-Afrika se koolstofvoetspoor. Kernkrag is die sleutel in die stryd teen klimaatverandering.”

Rusland se regering sê hulle is gereed om Suid-Afrika se nuwe kernkragsentrales te help finansier – wat na raming soveel as $100 miljard kan kos – indien die staatsbeheerde Rosatom die konstruksietender kry.

Rosatom het reeds verskeie befondsingsmodelle voorgestel, het Viktor Polikarpof, die streeksvisepresident vir Suidelike Afrika, vroeër gesê in ‘n onderhoud in Kaapstad. Een voorstel is ‘n Russiese lening.

Die lening sal oor 20 jaar afbetaal kan word en Suid-Afrika sal eers begin terugbetaal wanneer die eerste aanleg in bedryf is, het hy gesê.

“Die rentekoers wat die [Russiese] regering bied, is nie baie hoog nie, en dit is regtig winsgewend,” het Polikarpof gesê. “Mens sal nie hierdie rentekoers op enige ander plek, by enige ander bank kry nie.”

Suid-Afrika beplan om 9600 megawatt se kernkrag te voeg by die nasionale netwerk en wil die eerste reaktors teen 2023 in werking stel, ‘n teiken wat Polikarpof sê haalbaar is.