Nie plek vir witte in Zambië se nuwe regering

Die nuutverkose pres. Edgar Lungu van Zambië, het Maandag aangekondig dat visepresident­ Guy Scott, Afrika se enigste onlangse wit staatshoof­, nie deel sal wees van sy regering nie.

Lungu het verlede week die verkiesing naelskraap gewen.

Scott was waarnemende president­ sedert Sata se dood. Hy was die eerste wit leier sedert die einde van apartheid.

Scott is vervang deur me. Inonge Wina, ’n voormalige minister belas met geslagsake­ en voorsitter van die Patriotic­ Front.

Scott en Lungu was voorheen in ‘n magstryd betrokke. Scott het Lungu, wat as hoofsekretaris­ vir die regerende party gedien het, kort na Sata se dood afgedank, maar moes hom later noodgedwonge weer aanstel na betogings deur ondersteuners­.

‘n Sending van die Suider-Afrikaanse Ontwikkelingsgemeenskap­ het pas die verkiesings in Zambië vry en regverdig verklaar ondanks onderlinge onverdraagsaamheid­ onder politieke­ ­partye wat tot sporadiese voorvalle­ ­van geweld gelei het.

Geen voorvalle van geweld is op stemdag self aangemeld deur die waarnemersending van nege SAOG-lidlande­ wat na die tien provinsies van Zambië ontplooi is nie.

Die verkiesing is genoodsaak deur die skielike afsterwe op 28 Oktober 2014 van pres. Michael Chilufya Sata.

Swaar reën het egter logistieke en administratiewe uitdagings ontwrig en die stemproses in die wiele gery.

“Zambië is bekend as ’n vreedsame land en ons vra alle politieke partye om op so ’n wyse op te tree dat vrede, veiligheid en stabiliteit in die land gehandhaaf­ ­word,” lui SAOG se verklaring.­

Waarnemerspan na Zambië waar verkiesingstryd warm word

‘n Waarnemersending, SEOM, van die SAOG het in Lusaka, Zambië, aangekom om te verseker dat die land se presidentstussenverkiesing op 20 Januarie vreedsaam, vry en regverdig verloop.

Maite Nkoana-Mashabane, Suid-Afrika se minister van internasionale betrekkinge en samewerking wat die waarnemerspan lei, het in Lusaka gesê SEOM sal hom deur die grondwetlike waarborge van vryheid en die regte van die burgers laat lei.

Sy sê altesaam 65 waarnemers sal landwyd ontplooi word om toesig oor die kiesproses te hou. Hulle sal ook ná afloop van die verkiesing seker maak die uitslag word aanvaar en gerespekteer, en sou dit betwis word, verseker dat die proses kragtens wetgewing geskied.

Die verkiesing is ingevolge dié land se grondwet afgekondig en gee gehoor aan die bepaling dat ’n tussenverkiesing binne 90 dae ná ’n president se afsterwe gehou moet word.

Die Zambiese staatshoof, pres. Michael Sata (77), is op 28 Oktober verlede jaar ná ’n kort siekbed in Londen oorlede, waarna die 70-jarige Guy Scott, ‘n witte, die leisels oorgeneem het. Hy was voorheen die adjunkpresident.

Scott kan egter nie president word nie weens ’n konstitusionele bepaling wat hom verhoed omdat sy ouers nie in Zambië gebore is nie.

Zambiërs het in November teen Scott betoog toe hy probeer het om Edgar Lungu, sekretaris-generaal van die Patriotiese Front (PF), af te dank. Honderde Lungu-ondersteuners het oornag na Lusaka opgeruk. Lungu staan midde in die opvolgstryd.

Talle Zambiërs glo Scott se poging om Lungu af te dank, was om Lungu se kanse om die PF se presidentskandidaat te word in die wiele te ry. Scott is glo ’n bondgenoot van Wynter Kabimba, ’n voormalige minister van justisie en Lungu se teenstander.

Dokumente wat toon hoe Lungu skuldig bevind aan professionele wangedrag deur die Wetlike Vereniging van Zambië nadat hy geld uit ‘n kliënt se rekening gesteel het wat hy beweer hy het verteenwoordig, het opgeduik in die media.

Lungu is ook die land se minister van verdediging. Hy is deur Sata uitgesonder as ’n tussentydse leier voordat Sata die land verlaat het om mediese behandeling in Londen te ontvang.

Zambië se wit president verander besluit na oproer

Zambië se eerste wit president moes vinnig ‘n ongewilde besluit omkeer nadat sy swart kiesers openlik in opstand gekom het.

President Guy Scott se aangekondiging dat hy Edgar Lungu, wat ook as die minister van verdediging en justisie waargeneem het, se afdanking gekanselleer het, het gemoedere weer kalmeer.

Scott is Dinsdag daarvan beskuldig dat hy nie die Zambiese kultuur respekteer nie, nadat hy die leier van die regerende party afgedank het terwyl die land nog rou oor die afsterwe van president Michael Sata.

Sata het Lungu as die opsigter-president aangewys terwyl hy in Londen vir mediese behandeling was. Scott, sy amptelike adjunk, is egter op 28 Oktober as die president aangestel ná Sata se afsterwe.

Talle lede van die Patriotic Front (PF) het deur die nag in Lusaka in opstand gekom, bande aan die brand gesteek en gedreig om voertuie te beskadig.

Sata se begrafnis vind op 11 November plaas.

Scott kan egter nie oor drie maande aan die presidensiële verkiesing deelneem nie, aangesien sy ouers nie in Zambië gebore is nie, maar ontleders meen die afdanking van Lungu sonder redes, is ‘n aanduiding dat Scott wel sal staan as kandidaat.

Hy is in 1944 gebore in die destydse Noord-Rhodesië nadat sy pa geëmigreer uit Glasgow as ‘n dokter om op die spoorweë te werk.

As ekonoom wat aan Cambridge gestudeer het, het hy die politiek betree in 1990.

Sommige Zambiërs het aangedui dat hulle nie omgee om ʼn wit president te hê nie, maar ander meen Scott sal kolonialisme laat herleef.

Zambië, die destydse Noord-Rhodesië, het in 1964 onafhanklikheid verkry van Brittanje. Die land se eerste president was Kenneth Kaunda.

Zambiese Brit moet ‘verduidelik’ oor anti-Suid-Afrikaanse opmerkings

Guy ScottDie Zambiese owerheid gaan blykbaar sy blanke visepresident, Guy Scott, vra of die opmerkings wat hy oor Suid-Afrika en president Jacob Zuma gemaak het, “juis” oorgedra is.

Die SAUK het gister berig dat Zambië se ambassadeur (hoë kommissaris in die Statebond se terminologie) in Suid-Afrika, Muyebe Chikonde, Vrydag deur die departement van internasionale verhoudinge in Pretoria ontbied is om Scott se aanmerkings te verduidelik.

Chikonde sê dat die kommentaar nie die amptelike siening van Suid-Afrika weerspieël nie, het die uitsaaier berig.

Zambië het Suid-Afrika van noue bande verseker en het gesê dat die land Scott, wanneer hy van vakansie af terugkeer, gaan vra of die opmerkings wat aan hom toegskryf word, juis oorgedra is.

Donderdag het Suid-Afrika ‘n verduideliking van Zambië geëis ná berig wat in die Britse Guardian-koerant deur sy Johannesburgse korrespondent, David Smith, gepubliseer is.

Scott het gesê dat Zuma soos die voormalige NP-leier FW de Klerk is. “Hy [Zuma] is baie soos De Klerk. Hy sê vir ons: ‘Los Zimbabwe vir my.’ Verskoon my, wie het julle in elk geval bevry, was dit nie ons nie? Ek bedoel, ek hou nogal van hom, hy lyk na ‘n baie joviale karakter, maar ek beny hom nie sy raadgewers nie,” het Scott gesê.

Hierna het Scott teen Suid-Afrikaners uitgevaar, asook swartes.

“Die Suid-Afrikaners is baie agterlik, wat hulle historiese ontwikkeling betref… Ek haat Suid-Afrikaners… hulle dink regtig hulle is ontsettend belangrik en eintlik is hulle die oorsaak van soveel probleme in dié wêrelddeel,” is hy aangehaal

“Ek vermoed die swartes modelleer hulself op die blankes, noudat hulle aan die mag is.”