
Die Sweedse Demokrate, wat saam met die Franse Front National, die Vlaams Belang en ander partye deel van die regse groepering in die Europese Parlement gaan uitmaak, het twee setels in Straatsburg, waar die parlement geleë is, ontvang. Dié kleiner Sweedse party het in die pas afgelope Europese verkiesing sy steun vanaf 5 persent tot bykans 10 persent verdubbel.
Volgens die invloedryke politieke kommentator van die Londense Financial Times, Gideon Rachman, sou dit ‘n “fatale fout” wees om die swaai na regs in Europa te ignoreer. In gister se Financial Times skryf hy:
Dit is hoogs waarskynlik dat Europa se leiers gaan poog om die uitslae van die Europese verkiesings af te lag en hul toevlug tot alledaagse politiek gaan neem. Dit sou ‘n groot, moontlik fatale, fout wees.
Nie net verwerp ‘n toenemende aantal kiesers in al die EU-lande die immigrasiepolitiek van die Europese en Brusselse elite nie, maar ook hul ekonomiese beleid en die oorgawe van nasionale soewereiniteit aan die supranasionale instelling wat die Europese Unie verteenwoordig. Ongeveer ‘n kwart van Europese kiesers stem nou vir “nie-tradisionele” partye of partye wat buite die hoofstroom van die politiek staan en dus sonder enige werklike politieke mag is.
Terwyl die tradisioneel linkse Sosiaal-Demokratiese Party in Swede 24,5 persent van die stem op hom verenig het, het die Groenparty ook sterk vordering gemaak met 15,2 persent van stemme.
‘n Nuweling in Swede is die Feministiese Insiatief wat ‘n enkele setel in die Europese Parlement met 5,3 persent van die stemme verower het.
Hierteenoor het die Gematigde Party in Swede ‘n daling in steun ondervind en 13,5 persent aangeteken. Die voorheen gewilde “Rowersparty” het slegs 2,2 persent ontvang en moes albei sy huidige setels in die Europese Parlement afstaan. Swede is ook die tuiste van ‘n internetroofkykkultuur met die wêreldberoemde en berugte “The Pirate Bay” waar gebruikers gratis musiek en rolprente kan aflaai.
Swede het 20 verteenwoordigers in die Europese Parlement teenoor Frankryk se 74 of Duitsland se 99 LEP’s (Lede van die Europese Parlement) in Straatsburg. Dit beteken dat daardie 20 setels nou onder 9 Sweedse partye verdeel moet word, terwyl daar voorheen 8 partye in die Europarlement verteenwoordig was.
Die volledige uitslag van die Europese verkiesing in Swede lyk so:
Linkse Party 6,3 persent
Sosiaal-Demokrate 24,4 persent
Groenparty 15,3 persent
Liberale (Folkpartiet) 10,0 persent
Christen-Demokrate 6,0 persent
Gematigde Party 13,6 persent
Sweedse Demokrate 9,7 persent
Rowersparty 2,2 persent
Feministiese Inisiatief 5,3 persent
Sentrumparty: 6,5 persent
