‘n Nuwe vlaag van grondgryp teen wittes in Zimbabwe dreig. Daar is hernieude druk om wit Zimbabwiërs gewelddadig van hul grond te vervreem, het Sapa berig.
Ten minste 20 wit grondeienaars is die afgelope weke aangesê om hul plase te verlaat, het die Zimbabwiese Commercial Farmers’ Union (CFU) aan Sapa gesê.
Boere word ‘n maand gegun om hul grond te verlaat, en word ook sonder amptelike dokumente van die ministerie van grondsake gedreig.
Die afsettings is glo hoofsaaklik in Matebeleland-Suid.
Dit volg nadat die Zimbabwiese minister van grondsake, Douglas Mombeshora, aan Bloomberg gesê het dat wit boere op kleiner plase behoort te boer.
Pres. Jacob Zuma het soortgelyke waarskuwings in sy staatsrede aan wit boere gerig met konsepwetgewing wat plaaslike boere sal dwing om slegs 12 000 ha grond te besit. Dié lappies grond is nie kommersieel lewensvatbaar nie.
Plase moet glo “formeel geregistreer word om te voorkom dat hulle afgesit word”. Volgens die Wêreldbank se 2011-verslag, leef sowat 72% van Zimbabwiërs reeds onder die broodlyn.
Van die sowat 4 000 kommersiële boere wat in 2000 70% van Zimbabwe se kos geproduseer het, is daar nou slegs tussen 300 en 400 oor en die land ly honger. Zimbabwe is ‘n netto invoerder van kos.
Die Zimbabwiese koerant Newsday het verlede maand berig wit boere gaan slegs 90 dae kry om hul plase te ontruim en die hoeveelheid grond wat elke boer mag besit, gaan beperk word.
Hans van der Merwe, hoofbestuurder van Agri SA, beweer dat Suid-Afrika oor “wetgewing beskik wat keer dat grond net gevat word” en dat daar teen die EFF opgetree word as hulle dit oortree.
