Die eerste matriekvraestel het uitgelek.
Die minister van basiese onderwys, Angie Motshekga, is vandag in Limpopo waar die Lewenswetenskappe-vraestel Dinsdagoggend uitgelek het. Sy het die misdryf toegeskryf aan ‘n gebrek aan hulpbronne.
“Die eksamenkantore in Pietersburg (Polokwane) het nie telefoonlyne, fakslyne en of internetverbinding nie. Amptenare gebruik van hul private selfone en private 3G konneksie,” het sy gesê. “Die gebrek aan basiese hulpbronne is ‘n volgehoue uitdaging.”
Sy sê slegs leerders wat geraak word, sal die vraestel moet herskryf.
Die departement het gesê die polisie en die Staatsveiligheidsagentskap (SSA) sal help met die ondersoek om die skuldiges aan die pen te laat ry.
Die departement het gesê ‘n taakspan wat aangestel sal word, sal die omstandighede rondom die lekkasie ondersoek.
Aanvanklike ondersoeke het aan die lig gebring dat twee leerlinge van die Sekondêre Marude naby Thohoyandou onwettig die vraestel in die hande gekry het en gedeel het met vriende voor eksamen.
Die departement het in ‘n verklaring gesê: “Teen ongeveer 06:00 Maandagoggend (16 November 2015) het ons ‘n wenk ontvang by die departement van Basiese Onderwys dat die Lewenswetenskappe Vraestel 2 uitgelek het.”
Die departement het bevestig dat die vraestel wat gelek is, die amptelike 2015-vraestel is slegs ‘n uur voor die eksamen begin het.
Die matriekeksamen eindig op Vrydag 27 November.

