Langer skooldag in die vooruitsig

skoolSkooldae kan met tot ’n uur per dag gerek word om leerlinge die geleentheid te gee om ’n derde inheemse taal aan te leer.

Elke skooldag sal tussen 24 minute en ’n uur langer wees, het die Cape Times berig.
Dit is vervat in die konsepbeleid wat skole sal dwing om ’n bykomende inheemse taal aan te bied.
Volgens dié beleid sal ’n derde taal geleidelik vanaf gr. R tot 12 aangebied word.
Angie Motshekga, minister van basiese onderwys, het twee weke gelede gesê die beleid sal van volgende jaar by 10 skole in elke distrik van elke provinsie ingestel word.
Gr. R tot 2 se leertyd sal met twee uur ’n week verleng word, terwyl  gr. 3-leerlinge se skooldag met drie uur per week verleng sal word.
Gr. 4 tot 12-leerlinge sal elke dag ’n uur langer by die skool moet bly.