Skole open vandag regoor die land

skoolMiljoene kinders regdeur die land gaan vandag terug skool toe vir die nuwe akademiese jaar.

Skole in die binneland en aan die kus open vandag vir die eerste keer op dieselfde dag.

Die Departement van Basiese Onderwys het intussen belanghebbendes gevra om kommentaar te lewer oor die reëling om al die skole gelyktydig te laat open.

Die voorsitter van die Federasie van Skoolbeheerliggame, Paul Colditz, sê vir die eerste keer in 20 jaar werk die stelsel behoorlik.

Volgens hom het die stelsel nou volwassenheid bereik en hoewel daar altyd probleme sal wees by individuele skole, is die stelsel gereed vir die nuwe jaar wat betref handboekvoorsiening.

Die Departement van Basiese Onderwys sê hy het van die Poskantoor gebruik gemaak om handboeke af te lewer en alle skole behoort die nodige studiemateriaal te hê.

Adjunk-president Kgalema Motlanthe en die minister van Basiese Onderwys, Angie Motshekga sal vanoggend besoek aflê by die Oracle Ponelopele Sekondêre Skool in Midrand.

In Gauteng gaan premier, Nomvula Mokonyane die Realeboga Primêre Skool in Alberton besoek en in Noordwes gaan die adjunk-minister van Basiese Onderwys, Enver Surty die Holy Family Sekondêre Skool op Mogwase besoek.

Die Wes-Kaapse LUR vir Onderwys, Donald Grant sal graad eens van die Fairview Laerskool in Grassy Park op hulle eerste skooldag besoek. – RSG