Mongolië, een van die grootste lande op aarde met die ylste bevolking, se 2,9 miljoen mense is nog grotendeels, soos in prehistoriese tye,
Nomadehutte in Mongoli?
nomadies. Behalwe die byna 40% wat in die hoostad Oelan Bator woon, bly perdry vir die res 'n onafskeidbare deel van hul daaglikse bestaan.
Mongolië was een van die lande wat Amerika se inval in Irak ondersteun het en voer tans 'n delikate diplomatieke balanseertoertjie uit tussen sy bure Rusland en China, asook die VSA. Nadat die kommunistiese regime van 1924 in 1991 tot 'n val gekom het, het die land merendeels uit die openbare oog verdwyn.
Tot onlangs, toe grootskaalse onluste die hoofstad getref het. Die oproer is gevoed deur ontevredenheid met die uitslag van parlementêre verkiesings wat op 29 Junie gehou is. Die eertydse kommuniste van die Mongoolse Revolusionêre Party het aangekondig dat hulle met 'n aansienlike meerderheid gewen het nog voordat die uitslae amptelik aangekondig is.
Duisende mense het daarna die strate ingevaar om te protesteer teen die MRP se eiewil. Die situasie het die volgende dag hande uitgeruk toe die skare met behulp van petrolbomme deur die polisieversperrings voor die MRP se hoofkantoor gebars het. Dié heldhaftige daad lyk op die soort "Oranje Revolusies" wat Rusland se satelliete teister.
Die MRP het beslis veld gewen agv moeilike ekonomiese kwessies en veral korrupsie. Die Wall Street Journal het voor die algemene verkiesing van 24 Junie egter geskryf dat die Revolusionêres waarskynlik gaan verloor.
Die toestand in die land bekommer die VSA en die Amerikaanse media stel deesdae weer intens belang in wat in die verafgeleë Oelan Bator gebeur. Die Washington Post het 'n dag ná die verkiesing die rede daarvoor verskaf: Rusland stel te veel in sy eertydse bondgenoot belang.
Mongolië was nie net in die verlede afhanklik van Rusland nie, maar bly dit in 'n mate steeds omdat Rusland 80% van sy olie-invoere lewer.
Alhoewel 'n groot deel van die land in die Steppe lê, bevat die Mongoolse bodem 'n hele aantal rykdomme waarvan uraan sekerlik die belangrikste verteenwoordig. Daar is ook steenkool, koper en wolfram wat wag om ontgin te word.
Die wêreld se uraanreserwes lyk min of meer as volg: Australië – 27 persent, Kasakhstan – 17 persent, Kanada – 15 persent, Suid-Afrika – 11 persent, Namibië – 8 persent, Brasilië – 7 persent, Rusland – 5 persent en die VSA en Oesbhekistan 4 persent elk. Mongolië beklee die derde plek op die lys.
Volgens die Wall Street Journal besit Russiese aandeelhouers reeds 49 % van die aandele in die land se spoorweë, bedryf die kopersmelter en beheer die hele goudproduksie.
Amerika is bekommerd dat Rusland beplan om 'n kernaanleg in Mongolië te bou in die lig daarvan dat Russiese militariste hegte bande met die land gesmee het. Mongolië het, ten spyte daarvan dat die land oor geen seetoegang beskik nie, ook 'n vloot wat die Russe goedgunstiglik help onderhou. Die VSA glo dat Mongoolse skepe allerlei bedenklike seereise na Noord-Korea en Sirië onderneem.
Trouens, die Washington Post se artikel eindig deur te waarsku dat die tyd uitloop vir die VSA om in die situasie in te gryp. Wat die Wall Street Journal betref, is dit nie meer lank voordat Mongolië terugkeer na 'n ekonomiese satelliet van Rusland en die VSA alle invloed verloor nie.
Mededinging om strategiese grondstowwe raak al hoe feller. Waar die Koue Oorlog 'n stryd van idees was, verteenwoordig materiële welvaart met oliereserwes wat uiteindelik gaan opdroog, deesdae die wekroep sover dit internasionale aangeleenthede aangaan.
online casinosФільчаков Олександр Васильович прокурор