Demokratiese kongresleiers wil die $700 miljard Wallstraatreddingsfonds tap om die motorvervaardigers mee te help, maar die Withuis en Republikeinse leiers het gesê dat die industrie nie enige nuwe fondse moet kry nie.
President George W. Bush en Republikeinse amptenare het voorgestel dat die $25 miljard pakket wat in September deur die kongres goedgekeur is, eerder aangewend moet word om vervaardigers te help om fabrieke se toerusting te verander sodat hulle kleiner, meer ekonomiese voertuie kan vervaardig, om die vervaardigers se huidige ekonomiese probleme te verlig.
Voertuigvervaardigers se uitvoerende beamptes, wat gesteun word deur Demokratiese leiers, dring daarop aan dat hulle nog 'n $25 miljard hulplening benodig om die ineenstorting van een of meer van die maatskappye voor die einde van die jaar te voorkom. Dit sal die regeringshulp aan die bedryf op $50 miljard te staan bring vir die jaar.
Die debat het ontstaan nadat die finansiële situasie vir General Motorsgroep en Chrysler meer desperaat geword het. General Motors het gesê dat hulle teen die einde van die jaar uit kapitaal kan raak sonder regeringshulp.

Die Saoediese tenkskip, Sirius Star, is deur seerowers oorgeneem, terwyl die skip 2 miljoen vate olie aan boord gehad het, het die Amerikaanse vloot en die skip se operateurs gesê.
Kongolese rebellemagte het Maandag gesê dat hulle nuwe gebied ingeneem het en het gedreig met meer aanvalle teen regeringsmagte terwyl 'n VN-woordvoerder gewaarsku het daarteen dat vinnige optrede van die VN-vredesmag verwag word.
'n Man is in suidelike Tanzanië gearresteer nadat hy sy albino vrou wou verkoop aan Kongolese handelaars, het polisie Woensdag gesê.
Die beweerde ontdekking van tekens van uraan by 'n plek wat in 2007 deur Israeliese vliegtuie met bomme platgemaak is, het vrese laat toeneem dat dié midde oosterse staat se stelling dat kernmateriaal net vir skadelose doeleindes vervaardig word nie die waarheid is nie. Diplomate het gesê dat uraanspore gevind is by 'n moontlike geheime kernreaktor in Sirië.