De facto is ons grense reeds opgehef, want elke Jan Rap en sy maat kan maar hier kom woon en werk, asook gratis onderwys en gesondheidsdienste ontvang. En al poog die plaaslike bevolking om so ʼn onwettige immigrant met geweld te verdryf, sal biskop Paul Verryn van die sentrale Metodistekerk in Johannesburg hom onderdak bied en die media hulself oorgee aan histrioniese betuigings van simpatie met sogenaamde slagoffers van xenofobie.
Hoeveel onwettiges verkeer binne ons landsgrense? Hoeveel van hulle het reeds ID-boekies by die korrupte departement van binnelandse sake aangekoop, soos ʼn episode van die program Special Assignment ʼn tyd gelede aan ons getoon het? Het die begrip “Suid-Afrikaanse burger” – in die lig van die verval van ons grense – nog enige sin?
Demograwe skat die aantal buitelanders binne ons grense tussen 10 en 15 miljoen. Met ander woorde, een kwart tot een derde van die land se inwoners is onwettiges! ʼn Staat wat nie sy grense kan beheer nie, het misluk. Want eie aan die definisie van ʼn spesifieke staat is tog die geografiese entiteit wat daardie land uitmaak.
Suid-Afrika begin by Kaap Agulhas en eindig aan die Limpopo. Of altans, so het ons jare lank gedink. Post-Zimbabwe en die helfte van daardie land se bevolking wat suid verskuif het, kan ons net sowel van ʼn Suider-Afrika praat wat tot aan die Zambesi of selfs die Kongo strek.
Zimbabwe en sy $100 miljard-dollarnote wat geen brood kan koop nie is gereeld, byna te gereeld, in die nuus. Dog Suid-Afrika se horde oorselfversekerde kommentators wy min rubriekspasie aan die Panafrikanisme wat onder Mbeki en sy buitelandse minister, Nkosazana Dhlamini-Zuma, gedy het.
Die begin van ʼn etniese konflik op 12 Mei vanjaar wat aan ons as “xenofobie” voorgehou is, was maar ʼn vulletjie vergeleke met die soort oorlog wat gaan ontstaan indien die drome van een groot Saogland wat Mbeki en naïewe sakemanne saam-saam koester ooit bewaarheid word. Die veertien state van die Suider-Afrikaanse Ontwikkelingsgemeenskap (SAOG) modelleer hulself op die Europese Unie. Volgens ʼn verklaring verlede week gaan die subkontinent teen 2018 ʼn gemeenskaplike geldeenheid hê, ʼn Saogdollar of –kwatsja. Ons hoop maar die Reserwebank verhuis nie Harare toe nie, want Harare is so min of meer in die middel van Saogland.
Die punt omtrent die Europese Unie is egter dat alle lidlande ekonomies, polities en kultureel stabiel is. Tagtig miljoen Duitsers gaan nie môre die Ryn oorsteek ter wille van ʼn hoër lewenstandaard in Frankryk nie, want hulle beskik oor ʼn vergelykbare inkomste per kop as Frankryk s’n.
Die Demokratiese Republiek van die Kongo en Zimbabwe is egter lande waar die gemiddelde inwoner onderskeidelik dertig en vyftig keer armer as ʼn Suid-Afrikaner is. Die blink liggies van Johannesburg, Pretoria en Kaapstad oefen dus ʼn onweerstaanbare aantrekkingskrag op die bykans 200 miljoen mense in die SAOG-streek uit en dit sou wensdenkery wees om te dink dat die toevloei van arm, ongeskoolde buitelanders hierheen gestuit of selfs gerem gaan word. Inteendeel, soos wat die ANC se imperiale droom van een groot Suider-Afrika verwesenlik word, gaan die stroom ekonomiese vlugtelinge oor die Limpopo versnel.
ʼn Meer sinistere interpretasie van SAOG-integrasie is dat sowel die Weste as Afrika eintlik erken het dat die lande suid van die Kongorivier nooit werklik gaan ontwikkel nie en dat die beskikbare rykdom en infrastuktuur in Suid-Afrika onder 200 miljoen mense verdeel behoort te word. Biskop Paul Verryn het onlangs op RSG, nogal in Engels op ʼn Afrikaanstalige radiostasie, ʼn roerende pleidooi gelewer dat al ons landsgrense formeel afgeskaf moet word sodat die groot suidwaartse migrasie vinniger en ongehinderd kan plaasvind.
Oral waar ek kom, probeer ek mense aan die verstand bring dat onwettige immigrasie, asook die komende wettige migrasie van Saoglanders na hul ekonomiese hartland in die PWV-gebied, ʼn veel groter probleem as misdaad is. Ja, dis waar, duisende mense sterf, word verkrag of vermink deur misdadigers, maar indien ons in ʼn oorlog betrokke was, sou ons bevolking ook daaronder gely het. State en volke oorleef oorloë, soos die platgeslane Duitsland en Japan ná die tweede wêreldoorlog aan ons getoon het.
Suid-Afrika as ʼn staat, om van die reënboognasie nie eens te praat nie, staan egter op die punt om in iets groters op te los. Dit gaan geen gestruktureerde Europese Unie wees waar ekonomiese en politieke integrasie deur desentralisering en groter magte aan streke en provinsies gebalanseer word nie, maar ʼn demografiese gletser wat onstuitbaar in die rigting van sy ekonomiese swaartepunt gaan gly.
Die geweld van enkele maande gelede was te wyte aan arm, ongeskoolde mense wat om dieselfde hulpbronne in ʼn reeds oorbevolkte PWV meeding. Soos wat die demografiese druk op behuising en infrastruktuur toeneem, sal die etniese drukkoker hier by ons insgelyks ontploffingspunt bereik.
Blykbaar is Lagos in Nigerië ʼn stad wat oorspronklik vir 100 000 mense deur die koloniale owerheid ontwerp is, maar wat tans 14 miljoen mense in die allerhaglikste omstandighede huisves. Hoewel die gemiddelde Nigeriër op R14 per dag moet oorleef, is Lagos ook die duurste stad in Afrika waar ʼn ete in ʼn restaurant jou R1200 kos. ʼn Drankie kos R120 en ʼn pak ontbytkos in die supermark R96. Waarskynlik het die infrastruktuurbeplanners in die PWV-gebied ʼn bevolking van twee tot drie miljoen voorsien, wat binne ʼn kort bestek tot tien miljoen vermeeder het. Maar kan die PWV twintig miljoen of selfs veertig miljoen mense hanteer wat in eindelose plakkerskampe volgens hul eie etniese patrone saamleef, meer dikwels teen vyandelike groepe veg?
Nou onlangs het twee bekende swart vroue in die land, Wendy Luhabe en Ramphele Mamphele, erken dat die eertydse Bantoe-onderwys aan hulle ʼn veel beter opvoeding verskaf het as dít wat vandag in die meeste SA skole onderwys genoem word. Komende van swart vroue is dit seker wysheid, want toe ek iets in dié trant sewe jaar gelede by die KKNK op Oudtshoorn kwytgeraak het, is ek as rassis en apartheidsapologeet uitgekryt.
Apartheid het in ons land ʼn afskuwelike fiksie geword, wat niks met ons geskiedkundige belewenis te make het nie. Selfs die ergste oordrywings oor apartheid gaan egter oortref word deur die postapartheidsnagmerrie wat uiteindelik tot die ondergang van Suid-Afrika, die eertydse sameflansing van twee Britse kolonies en twee Boererepublieke, moet lei.
Afrikaners, veral in die huidige tydvak, vind dit moeilik om vir hulself ʼn toekoms los van Suid-Afrika in ʼn eie staat of gebied te sien. Die volkstaatgedagte is eenvoudig nie polities korrek nie. Moontlik sal die naderende werklikheid van ʼn Saog-imperium met ʼn groot Lagos of Luanda in die PWV-gebied egter ons mense oor hul toekoms aan die dink sit. Ons kan onsself seker apart van die DRK, Malawi en Zimbabwe begin sien, nie waar nie?
Die Afrikaner het al soveel tyd verspeel om aan sy eie politieke toekoms te begin dink dat mens soms vrees dat dit al te laat is met emigrasie as enigste redelike uitweg. Maar chaos en revolusies is soms goeie stimulante vir denke, soos die geskiedenis keer op keer bewys het.
Dat daar meer chaos op pad is, is gewis.

Onwettige immigrasie is besig om Suid-Afrika onherroepelik te verander. In die volksmond praat mense al geruime tyd daarvan dat “De Klerk die land weggegee het”. Tot onlangs het ons gedink dat hy Suid-Afrika, sy rykdom en sy instellings op ʼn skinkbord aan die Xhosas oorhandig het sodat hulle hul swartbemagtigingspartytjie kan hou.
Die herrie rondom Zapiro se spotprent van Zuma wat regstaan om die regstelsel te verkrag is interessant aangesien dit 'n illustrasie van pro-Xhosa en anti-Zoeloe Britse disinformasie verteenwoordig.
So ʼn tyd terug het ek die film “Jarhead” gesien. Ek hou nogal van oorlogflieks, veral dié met ʼn boodskap. Ek gaan my nie hier as ʼn kenner op die gebied van films uitleen nie, maar daar was een stukkie in die film wat nogal opvallende ooreenkomste met die situasie in Suid-Afrika getoon het. Ek wil wel hier stel dat ek nie oorlog aanhang en verromantiseer nie; ek hou net van oorlogfilms.
Die afgelope naweek het ek besoek afgelê by die Tsjeggiese hoofstad Praag om weer ná elf jaar kontak te maak met 'n ou vriendin van my RAU-jare wat deesdae in Australië woon. Aangesien Praag 'n anderhalf uur se vlieg van Amsterdam is, het ek besluit om ná agt jaar hierdie indrukwekkende stad weer te besoek.