praag.co.za

Die begin van die einde van PdV

Written by

in

Enkele weke gelede was die rugby-ondersteuners egter in die wolke oor die Springbokke se oorwinning in Nieu-Seeland. As ons moet eerlik wees, was daar ook 'n goeie skeutjie geluk betrokke, met 'n besonder gelukkige spring van die bal in die doodsnikke.

Ek is geen bewonderaar van Jake White nie. Die sukses wat die Springbokke in die Wêreldbeker behaal het, kan grootliks toegeskryf word aan 'n enorme gelukskoot, naamlik 'n blatante vorentoe-aangee wat Frederick Michalac in staat gestel het om die All Blacks verrassend uit te skakel op die Milleniumstadion in Wallis. White se bra beteuterde rekord as afrigter is ook gevlei deur die tegniese kundigheid van sy hulpafrigter, Eddie Jones. As iemand die dank moet kry vir die onlangse oorwinning in Nieu-Seeland, moet dit sekerlik die nadraai van Jones se kundigheid wees.

Ons kan ook nie Saterdag se neerlaag alleenlik op politieke inmengery blameer nie. Die span was een van die witste spanne in die afgelope tyd. Die spelers het eenvoudig swak gespeel en kop verloor. Hulle het waansinnige risiko's geloop, soos om kortlynstane binne hulle eie kwartgebied aan te durf, of om wilde aangeë naby die doellyn te slinger.

Wat het dan skeefgeloop? Het die ervare Springbokke skielik kop verloor en heeltemal vergeet dat Springbokrugby tradisioneel gebou is op rotsvaste verdediging en die stelselmatige vernietiging van jou opponente? Het hulle 'n kollektiewe waansin begin beleef, en begin hallusineer dat hulle almal David Campese is? Ek glo nie. Dit is geen geheim dat die instruksie vir die sogenaamde nuwe spelpatroon regstreeks van die afrigter, Pieter de Villiers, afkomstig is nie.

Dit is Pieter de Villiers wat aanhoudend hoog opgee oor hoe daar in sy era hardlooprugby gespeel gáán word, wen of verloor.

Om dit prontuit te stel: Pieter de Villiers is 'n taktiese suigeling. Jy kan nie die Wallabies en All Blacks met hulle eie spel troef, as hulle dit al vir 60 jaar doen maar jy slegs vir 6 weke nie. Pieter de Villiers verstaan klaarblyklik nie die fondament waarop Springbokrugby gebou is nie, maar het desnieteenstaande die feite en dít waarmee die spelers hulself gemaklik voel, sy onkunde op die spelers probeer afdwing.

Die netto resultaat is 'n verbouereerde Fourie du Preez (die wêreld se beste skrumskakel as sy span toegelaat word om tradisionele Springbokrugby te speel) wat soos 'n amateur in die derde span lyk. Dit het gelei tot 'n aantal gekkespulle op die doellyn en drieë vir die All Blacks.

Ewe voorspelbaar is dat die senior spelers, alhoewel hulle dit nie durf sê nie, geen vertroue het in De Villiers se afrigtingstyl nie. Jy sit as senior speler met 'n dilemma. Jou afrigter is 'n kuikentjie. Jy weet dit. Hy moet dit sekerlik self besef, maar weier jy om aan sy malligheid deel te neem, word jy vervang. Daarom tjommel jy maar voort en maak asof jy speel volgens 'n spelpatroon waarin jy geen vertroue het nie.

Soos die voormalige Britse Leeuspeler John Robbie dit vanoggend op Radio 702 stel: "We were lucky to get 0."

mystery at theОлександр Васильович Фільчаков

Comments

Leave a Reply