praag.co.za

Tag: Dingaan

  • Karel Combrinck: Afrikanerhaat

    Karel Combrinck: Afrikanerhaat

    Hierdie kan saamgelees word met die stuk van dr Sydney Gregan getiteld ‘n Negatiewe toekomsverwagting, asook met dr Roodt se video oor rassisme.

    Dis ‘n somber onderwerp wat ‘n mens met huiwering aandurf. Tog is dit ‘n werklikheid wat ons onder die oë moet sien.

    Linksdekadentes gaan daagliks tekere oor haat en haatspraak. Soos gebruiklik is hierdie maar weer ‘n hoogs selektiewe aangeleentheid. ‘n Mens mag naamlik nie haat spreek teen swartes en Jode nie, maar teen Afrikaners en wittes in die algemeen kan jy dit maar na hartelus doen.

    Dié wat Afrikanerhaat in die wêreld aanstook, het natuurlik allerlei voorwendsels soos dat Afrikaners verantwoordelik was vir die verskriklike apartheidsbeleid, ens. Apartheid is natuurlik lank reeds verby, maar as jy met iemand in Frankryk of in Engeland of in Amerika oor Suid-Afrika praat, is die eerste en enigste ding wat in sy kop kom, apartheid. Want dit bly maar kenmerkend van die meerderheid dat hulle die klok gehoor het en maar net besotlik agterna dros. Amerika het tot in die sestigerjare nog rassesegregasie (apartheid) toegepas en dus is die Amerikaners in dieselfde sin ook verantwoordelik vir die verskriklike ideologie van rassesegregasie.

    Duidelik is Afrikanerhaat terug te voer na die Anglo-Boereoorlog. Die Engelse kon dit net nooit verwerk dat ‘n boel gopsgoggas die vermetelheid kon hê om die meerderwaardige Engelse beskawing te verwerp nie. Wat hulle ook nie kon verstaan nie, was dat as hulle meer menslik met ons te werk gegaan het, hulle miskien sonder stamp of stoot van ons Engelse sou kon maak. ‘n Groot gros van ons mense was trouens nog altyd alte gretig om Engels te word. Maar menslikheid is mos net vir swartes bedoel en dus het hulle verkies om ‘n oorlog op ons af te dwing . En, soos dit maar gaan, as jy ‘n oorlog verloor, het jy nie baie vriende nie.

    Die oorlog het natuurlik gepaardgegaan met ‘n massa anti-Afrikanerpropaganda, byvoorbeeld oor ons agterlikheid en « boorishness » ; propaganda wat die manier waarop die wêreld ons sien, tot in lengte van dae beduiwel het. En nog steeds duur dit voort.

    Deel van die propaganda wat hulle onder meer oor ons die wêreld ingestuur het, is die storie dat Afrikaners sg. Nazi’s of fasciste is. Die storie het sy oorsprong daarin dat sommige leiers van die Nasionale Party gedurende die laaste wêreldoorlog gekant was teen genl Smuts se pro-Britse oorlogspoging teen Duitsland. Die meeste Afrikaners het natuurlik wel deelgeneem aan die Geallieerde kant, maar dit liewer daar gelaat. Feit is dat die helfte van die aardbol in daardie tyd die Duitse oorlogspoging gesteun het. Italië was ‘n militêre diktatuur wat ‘n direkte bondgenoot van Duitsland was en so ook Spanje onder genl Franco. In Frankryk het die Franse regering, onder veldmaarskalk Pétain aktief met die Duitsers saamgewerk. Selfs die Swede het lekker munt geslaan uit die staal wat hulle aan die Nazi’s voorsien het. Vandag word nóg die Italianers, nóg die Spanjaarde, nóg die Franse, nóg die Swede as Nazi’s of fasciste beskryf. Inteendeel beskou hierdie lande en veral die Franse en Swede, ons as Nazi’s en fasciste. Dit was eers nadat die Duitsers die oorlog verloor het dat die Franse skielik ontdek het hulle is nie fasciste nie. Wonderlik hoe mense se koppe werk, of nie werk nie .

    Die Engelse wêreldryk was gebou rondom die idee van rasse- en kulturele meerderwaardigheid. In die meeste gebiede waar hulle hul mag uitgebrei het, was dit ten koste van mense wat inderdaad baie minder ontwikkel en minder gekultiveer was as hulle; Indië, Australië, Noord-Amerika en groot gedeeltes van Afrika. Maar in Suid-Afrika was dit ewe skielik ‘n ander prentjie. Hier het hulle te doen gekry met mense wat eksponente by uitstek was van hulle eie Viktoriaanse ideaal : Wit, Christelik, konserwatief, hardwerkend, patrioties, dapper en alles behalwe primitief. En dit het hulle voor die dilemma geplaas van hoe hulle die oorrompeling van hierdie volkie teenoor die wêreld kon regverdig. Hulle kon dit slegs doen deur vir die wêreld te vertel dat hulle hier was om die arme onskuldige swartes teen die wrede, brutale Boors te beskerm.

    En dan natuurlik het hulle knaend, gedurende die Anglo-Boereoorlog self, maar ook daarna en tot vandag toe die « minderwaardige » rasse ingespan om die Afrikaner te vernietig.

    Soos dit met elke volk op aarde gaan, het ons self ook foute gemaak het. Ons laat dit maar aan ons vyande om ons daarvoor te kruisig. Hulle weet tog so goed hoe om dit te doen.

    Afrikaners is reeds vir jare die lieflingshaatobjek van die dekadente linkses. Soos ons weet, is anti-rassisme hulle godsdiens en die Afrikaners is dan nou juis die aartsverteenwoordigers van rassisme. Hulle het dus op « godsdienstige » gronde die reg om ons te haat. Dis as’t ware hulle plig. Voeg daarby dat ons as Afrikaners daarin geslaag het om ‘n moderne, vooruitstrewende staat te skep uit die barre aarde wat ons omring, terwyl die swart massas van Afrika, dikwels in veel meer gunstige omstandighede nie daarin kon slaag nie, dan is die tafel gedek vir ‘n fees van Afrikanerhaat. Ons is naamlik die lewende bewys van die ongeldigheid van hulle ideologie van rassegelykheid. Gaan die veldtog teen Afrikaans aan die universiteite nie juis daarom nie dat die geleentheid van Afrikaners ontneem moet word om te bewys dat hulle beter kan presteer – en dit boonop in Afrikaans nie?

    Daar is geen risiko van teenkanting verbonde daaraan om Afrikaners te haat nie . Dit kos niks en jy het die menigte aan jou kant. Jou pad na fatsoenlikheid en eerbaarheid lê oop as jy maar net die Afrikaner verguis. En dis tog so gerieflik om alles wat met die wêreld verkeerd is op iemand te kan projekteer. Die verskynsel is so oud soos die mensdom self. Soek ‘n sondebok. « Kruisig hom, kruisig hom ».

    Is daar iets aan die haat teen Afrikaners te doen, veral in die lig daarvan dat baie Afrikaners self lustig aan die haatveldtog meedoen? Waarskynlik nie. Miskien het die pluimsaad reeds te ver gewaai. Ons gaan dit net nie regkry dat die wêreld van ons hou nie. Ons mag dit wel regkry dat hulle weer op ons ag slaan, maar die kanse is skraal. Die wêreld sien ons as ‘n boel rassiste wat hulle verdiende loon gekry het en nou tot die verlede behoort, van die kaart afgevee byna soos die Protestante na die herroeping van die Edik van Nantes. En baie Afrikaners sien dit ook so.

    Met die Departement van Inligting het ons ‘n redelik energieke poging aangewend om ons beeld in die wêreld te probeer verbeter, maar die resultaat was dat selfs ons eie mense die Department van Inligting gehaat het en een van P.W Botha se groot begeertes was om die Department te breek sodat hy Connie Mulder kon elimineer as konkurrent en met behulp van die steun van Naspers eerste minister kon word.

    Dit lyk asof die tyd nader kom dat die haat teen Afrikaners gaan oorkook. Is die Afrikaner daarop voorbereid? Of het hy ander prioriteite? Watter ander prioritiete kan daar wees as jou fisieke voortbestaan in die weegskaal is? P.W. Botha en F.W. de Klerk het ons veiligheid en ons toekoms aan Nelson Mandela en die ANC verpand. Die prys wat ons vir die ooreenkoms moes betaal, was die oorgawe van ons weermag. Nelson Mandela was as’t ware hulle lewenspolis. En noudat Nelson Mandela dood is, en ons weermag is weg, watter waarborg vir ons veiligheid is daar nou? Ons sit in Dingaan se kraal en ons wapens is buite. Sal ons ooit leer, of is dit nou in elk geval te laat ?

    Ons hier op Praag doen wat ons kan om ons boodskap te bring en te waarsku. Alle lof en waardering hiervoor aan dr Roodt. Vir al die redes hierbo genoem, sal Praag ook gehaat word. Dit is egter ‘n bewys daarvan dat ons miskien nie so onbeduidend is soos die gemeenskap van dekadentes wil voorgee nie. Dit lyk of ons tussen twee keuses is : Óf ons stry voort en word daarvoor gehaat, of ons doen niks en word in elk geval uitgeroei. Dis dus duidelik dat niksdoen nie ‘n opsie is nie. Maar vir baie van ons volksgenote is dit wel. Ons sal moet saamleef met die waarheid dat ons grootste struikelblok steeds ander Afrikaners gaan wees. Feite van die lewe.

    Mense sal vra: Nou wat is die oplossing? Vanselfsprekend is daar nie ‘n eenvoudige antwoord nie. Dis ook nie seker of dit ons rol is hier op Praag om politieke oplossings aan te bied nie. Ons eerste prioriteit moet wees om die Afrikaners minstens bewus te maak van die haglike situasie waarin hulle verkeer en dat ons voortbestaan as Afrikaners die moeite werd is om voor te veg. As ons daarin kan slaag om die wil te skep om as volk voort te bestaan, het ons reeds ver gevorder.

    Daar was al voorstelle om ‘n belastingbetalersparty op die been te bring. Dit klink interessant, maar dit moet nog gedoen word. Ons moet sekerlik ook Afrikanerbesighede skep en dié steun wat reeds bestaan. Dit is in die verlede ook gedoen en het gewerk. Ons koopkrag is een van ons sterkste wapens. Ook moet ons die howe tot die maksimum gebruik om ons regte af te dwing. En dan is daar nog betogings, demonstrasies en optogte waaraan alle Afrikaners moet meedoen. Dis nie die indiwiduele gesigte wat saakmaak nie. Dis die getalle. En stille protes is net geen protes nie.

    Uiteindelik bly daar die ideaal van ons eie onafhanklike en vrye grondgebied. Sal ons daarsonder ooit weer werklik ‘n volk kan wees?

    En dan die derduisende verarmde Afrikaners in die plakkerskampe: As hulle bloot aan hulle lot oorgelaat word, dan is alles wat ons kwytraak, maar net ydel praatjies. In Desember 1939 is die Reddingsdaadbond onder leiding van ds J.D. Kestell gestig om verarmde Afrikaners weer op die been te help. Hulle slagspreuk was, « ‘n Volk red homself » en dis wat hulle gedoen het. Waarom nie weer nie?

  • Geloftedag vir Afrikaners ’n dag van ootmoediging en uitredding

    Geloftedag vir Afrikaners ’n dag van ootmoediging en uitredding

    marthinus_van_bartdeur Marthinus van Bart

    Die onthulling ’n eeu gelede van die Nasionale Vrouemonument in Bloemfontein word op Geloftedag, eerskomende Maandag, 16 Desember, luisterryk herdenk.

    Die Federasie van Afrikaanse Kultuurvereniginge (FAK) neem prominent aan die verrigtinge deel. Dr. Danie Langner, besturende direkteur van die FAK en hoofleier van die Voortrekkers, lei die vroeë biduur om 06:30 in die Tweetoringkerk.

    Die FAK stel twee nuwe, belangwekkende boeke, gepas vir hierdie geleentheid, bekend wat verband hou met die monument en dit waarvoor dit staan: Die Nasionale Vrouemonument: Honderdjarige Herdenking – Verlede – Hede – Toekoms en Konsentrasiekampsterftes gedurende die Anglo-Boereoorlog 1899-1902.

    In 1913 het die Vrouemonumentkommissie Geloftedag (indertyd bekend as Dingaansdag) as die onthullingsdag van die Nasionale Vrouemonument met voorbedagte rade gekies. Naas die Protestantse Meerdere Vierdae (soos vasgestel deur die Dordse Sinode) Paasfees, Pinkster, Hemelvaartsdag en Kersdag, was Geloftedag  ­– as verootmoedigingsdag voor die Almagtige – die plegtigste gedenkdag op die kultureel-religieuse kalender van die Afrikaner.

    Prof. J.D. (Totius) du Toit, leraar, teoloog, Bybelvertaler en Taalstryder, skryf op 23 Januarie 1948 in Die Kerkblad onder meer: “Dingaansdag is ’n gedenkdag. Dat die Voortrekkers daarby gevoeg het ‘soos ’n Sabbat’, is verstaanbaar. En die uitkoms het bewys dat hulle reg was om dié voorwaarde aan die dag [16 Desember] te verbind. Soos ’n Sabbat wil sê: In alle stilte, in alle erns, want dit betaam ons, gedagtig aan die groot redding wat God beskik het.”

    VROUEMONUMENT100
    Een van die twee boeke wat op 16 Desember 2013 bekendgestel word

    Die hoofmotief met die Vrouemonument en die onthullingsplegtigheid, soos pres. M.T. Steyn dit voorsien het, was verootmoediging voor die Almagtige ter nagedagtenis van die duisende vroue en kinders wat hulself vir die vryheidstryd van die Afrikanervolk opgoffer het.

    Dit was die Voortrekkers wat die Gelofte van 1838 voor die aanvang van die Slag van Bloedrivier afgelê het, wat Geloftedag ingestel het as ’n dag van dank en ootmoediging – omdat God hulle van uitdelging deur die oormag Zoeloe-impi’s van Dingaan gered het, ’n oorwinning dus ter beskerming van die volkseie.

    Die bewoording van die plegtige gelofte, voorgelees deur Sarel Cilliers, lui:

    “Hier staan ons voor die heilige God van hemel en aarde om hom ’n gelofte te doen dat as Hy met Sy beskerming met ons wil wees en ons vyand in ons hand gee, ons dan dié dag en dié datum elke jaar as ’n verjaardag én dankdag, soos ’n Sabbat, tot Sy eer sal vier; en dat ons ook aan ons kinders sal sê dat hulle in die toekoms dié dag steeds moet vier tot gedagtenis ook vir ons opkomende geslagte. Aldus sal dan aan God die eer van die oorwinning gegee word.”

    Volgens die Voortrekkers se beskouing is met die Slag van Bloedrivier op 16 Desember 1838 die mag van ’n heidense tiran gebreek deur die ingryping van ’n regverdige God. Dit was die oorwinning van die ordende beskawing, die deugdelike waarna Steyn in 1913 in sy toespraak by die Vrouemonument verwys het, oor destruktiewe wanorde.

    Dat die Voortrekkers die Slag van Bloedrivier ­– of enige van die ander konflikte met inheemse volke – per se beskou het as “’n oorwinning oor ’n primitiewe volk”, soos so dikwels aangevoer is en steeds word, is bloot onwaar.

    Op 11 Oktober 1881, ná afloop van die Eerste Vryheidsoorlog waarin die Afrikaners van die Transvaalse Boererepubliek (Zuid-Afrikaansche Republiek) in die Slag van Majuba ’n klinkende oorwinning oor die imperialistiese Britse besettingsleër behaal het, het pres. Paul Kruger in die Volksraad verklaar Geloftedag moet voortaan op 16 Desember ’n amptelike gedenkdag wees “ten einde ons voor God te verootmoedig vir die groot dinge en wonders gedoen…”

    Kruger het ook gesê: “Dit was die dag waarop die Here die Voortrekkers eenmaal van Dingaan gered het, en wat die vorige jaar [1880] die begin was van ’n nog groter uitredding [van Britse oorheersing].”

    Op 16 Desember 1881 by Paardekraal, Krugersdorp, het Kruger as hoofspreker gesê:

    “Ons het hier gekom om fees te vier, en u weet dit dat ons en u doel niks anders is nie as om meer en meer die wil van die Here te laat verstaan en ons op Sy leiding te wys, sodat die ouers aan hulle kinders en kindskinders tot in die verste nageslag kan vertel wat God aan ons gedoen het. U weet dat ons land vir meer as vier jaar [van Britse oorheersing] van ons ontneem is om ons afwykinge miskien; maar u weet dit ook: God kasty wie hy liefhet.”

    Met 1913 se onthulling van die Nasionale Vrouemonument het die Afrikaners Geloftedag steeds in hierdie lig gesien. Die Britse welsynwerker Emily Hobhouse van Cornwallis het haar misgis toe sy in haar (voorgelese) toespraak na Dingaansdag verwys het as “die dag waarop julle [Afrikaners] ’n oorwinning oor ’n primitiewe volk gedenk.”

    Dié siening berus op ’n wanbegrip van die bedoeling van die Gelofte, naamlik om afhanklikheid van die Allerhoogste te bely en dank te betuig dat die uitdelging van ’n maatskaplik-kulturele gemeenskap verhoed is, ’n belangrike klemverskuiwing dus.

    Hobhouse sê voorts dat deur die swart lyding in die Anglo-Boereoorlog [waarin duisende swartes aan die kant van die Britte teen betaling teen die Boere geveg het en hul vroue en kinders met gepaardgaande brutaliteite vir die konsentrasiekampe opgeruim, hul plase afgebrand en geplunder het] is voldoende boete gedoen vir die swart geweldpleging wat teen die Voortrekkers [lees Afrikaners] gepleeg is. Daarom moet daar vergifnis wees, en  moet daar vergewe en vergeet word.

    Soos reeds aangetoon, is daar op die Afrikaner-kalender inderdaad geen nasionale dag waarop die Afrikaners enige oorwinning oor enige ander volk in die verlede gedenk het of tans gedenk nie.

    Die Engelse weergawe van Hobhouse se toespraak is namens haar aan die skare by die Vrouemonument voorgelees. Sy was nie teenwoordig nie omdat sy op die treinreis van Kaapstad na die onthullingsverrigtinge ongesteld geraak en by Beaufort-Wes moes afklim. Sy het wel 4 000 eksemplare van die toespraak in onderskeidelik Engels en Nederlandse Afrikaans na Bloemfontein aangestuur om by die onthulling te laat uitdeel.

    Charlie Fichard, ’n agterkleinseun van president Steyn, het die Engelse weergawe namens Hobhouse voorgelees. Na afloop van die toespraak is beleefd hande geklap.

    Die indertydse “kroonprins” van die Britse Empire, adv. J.C. (Jan) Smuts, het Hobhouse met die skryf van die toespraak gehelp en die kernboodskap wat dit uitgedra het was in sy kenmerkende styl van onverbloemde Britse internasionalisme. Selfs die selektiewe verwysing in die toespraak na die Griekse staatsman Perikles se beroemde begrafnisrede (sonder om hom by die naam te noem) was so reg uit Smuts se saalsak. (Deneys Reitz vertel in Kommando oor die Anglo-Boereoorlog hoe behep Smuts tydens sy epiese tog van Gatsrand na Namakwaland met geskrifte in die oorspronklike Grieks was wat hy in sy saalsak saamgery het.)

    En vir Hobhouse om ’n pleidooi te lewer dat Geloftedag verander word na Internasionale Vrouedag en dat die Nasionale Vrouemonument tot wêreld-monument vir alle vroue verklaar moet word, was vir daardie plegtige Afrikaner-geleentheid, slegs tien jaar ná die verskriklike lyding van die Anglo-Boereoorlog, onvanpas, gesien die bedoeling, naamlik om eer te betoon aan “onze heldinnen en lieve kinderen”.

    Uiteraard staan die Vrouemonument by implikasie daar tot eer van alle vroue van alle tye wat vir die vryheid van hul volk binne hul perke gestry het, letterlik en figuurlik gesproke.

    Hobhouse het ’n brandende ambisie gehad om ’n politikus te wees, maar in haar eie Britse Ryk, aan wie sy in haar toespraak haar trou herbevestig het en haar diplomaties van die Afrikaners gedistansieër het, het vroue nie eens gewone stemreg gehad nie.

    Die denkmodel van heerskappy en seëviering oor “primitiewe volke” wat sy so gerieflik op die Afrikanervolk gesuperponeer het, is egter kenmerkend van die rasbehepte Britse jingoïsme, wat in sommige gevalle selfs die eugenetiek (rasverbeteringsleer) as regverdiging vir ras-chauvinisme wil bysleep. Britse meerderwaardigheid is die rookskerm vir heerssug, magsug en hebsug, waarvoor en waarmee die Britse Ryk oor driehonderd jaar bloedig regoor die hele aardbol uitgebou is. Vandaar die uitdrukking: “The sun never sets over the British Empire.” Waarop F.W. Reitz droogweg opgemerk het: “Inderdaad, God vertrou die Engelse nie in die donker nie.”

    In die Britte se oorlogspropaganda teen die Boere, soos teen alle ander rebelse volke wêreldwyd wat weerstand gebied het om gewelddadig aan die Union Jack onderwerp te word, is die slagoffers konsekwent as primitiewe onmense (untermenschen) uitgebeeld. In die era van Britse skynliberalisme, ingelei deur die sogenaamde verbod op slawehandel van 1807 af en in 1838 met die vrylating van slawe, toe slawehandel minder winsgewend geword het en die opiumhandel toegeneem het, was beskuldigings van rassehaat teen weerbarstige volke deel van die Britse oorlogsarsenaal. Daarmee het hulle hul slagoffers gebrandmerk, sodat Britse onderwerping en die plundering van die slagoffers se eiendom oënskynlik regverdig kon word. Dié refrein, wat vandag steeds in die arena’s van die wêreldpolitiek eggo, is dat daar geen beter regverdiging voor is om ’n volk te verdelg as wanneer daardie volk hom aan rassehaat skuldig maak nie.

    Die historikus Erik Stockenström merk in 1925 in sy geskrif Lotgevalle van die Voortrekkers in Natal, 1838-1843 op dat die Voortrekkers deur hul vernietiging van die mag van Dingaan ’n groot diens aan ook die swart bevolkings van die land bewys het. Dingaan en sy voorganger, Tsjaka, wat deur eersgenoemde vermoor is om die koningskap oor die Zoeloes te bekom, het tienduisende, selfs miljoene, inboorlinge in Suid-Afrika vankant gemaak en hele landstreke ontvolk. Deur die vernietiging van daardie bloedige dwingelandy het die Trekkers die algehele uitroeiing van groot getalle swart stamme voorkom.

    Hulle was nie die verdelgers van swart mense nie, soos wat Brits-empiristiese sakelui, sendelinge, skynfilantrope en heerssugtige politici die wêreld wou [en steeds wil] wysmaak nie, maar inteendeel die redders, beskermers en handhawers van ’n vreedsame en beskaafde gemeenskap, skryf Stockenström.

    Hy skryf voorts:

    “Diepsinnige simpatie, selfs met die gewonde vyand op die slagveld, humane behandeling van krygsgevangenes in hul mag, die beskerming van swakkes en weerloses – ook aan die kant van die vyand – was die karakteristieke kentekens van die nasate van die Voortrekkers, die Boere en Afrikaners.”

    In weerwil van alle beskuldigings van rassehaat jeens die Afrikaners, lui die refrein van die Stem van Suid-Afrika, die Afrikaners se eie volkslied, “Ons sal lewe, ons sal sterwe, ons vir jou Suid-Afrika”.

    Marthinus van Bart (e-pos: kultuurkroniek[by]gmail.com) is ‘n skrywer en voormalige redaksielid van Die Burger waar hy jare lank die blad met Afrikanergeskiedenis, Kultuurkroniek, behartig het. Sy mees onlangse boek is ‘n onthulling van die oorwegende rol wat Brittanje in die Kaapse slawehandel gespeel het, Kaap van slawe.

  • Zuma-gesprekke dui op swakheid

    ‘n ope brief aan Dan Roodt

    Beste Dan,

    Soos jy weet, ondersteun ek jou nog altyd en deurgaans. Daar is wat my betref ook geen ander Afrikanerleier wat toegerus is om die ideologiese leierskap te verskaf soos deur jou bedien nie. Sonder ‘n ideologiese raamwerk het ons geen rasionele rigtingaanwyser nie. Selfs Afriforum, wat waardevolle werk doen, spreek meestal die simptome van die huidige bestel aan. In die ideologiese sfeer oortref PRAAG alle ander Afrikanerbewegings.

    Hoewel ek jou argumente rondom verlede week se gesprek met Zuma begryp, is ek soos baie Afrikaners tog besorgd oor hierdie gesprek. Behalwe dat die geheime aard daarvan vir Zuma die geleentheid sou gee om in die toekoms hom van enige verklarings te distansieer, is daar ‘n ander fundamentele probleem met verdere gesprekke in die geheel.

    Ek dink nie daar kan meer twyfel bestaan dat die regime en vernaam Zuma juis ‘n strategie het om waardelose gesprekke met almal en nog wie te voer nie. Indien dit nie valse beloftes aan die landbougemeenskap is nie, is dit leuens aan buitelandse beleggers, waardelose gesprekke met Afrikaners, beloftes aan die swart vakbonde en die lys is nog baie langer. Deur nie die uitnodiging te aanvaar om saam met Zuma te gaan eet nie, het Steve Hofmeyer ‘n baie sterk boodskap gestuur, wat grootliks verwater is deurdat die res wel die uitnodiging aanvaar het.

    Ek dink nie die analogie tussen die huidige gesprekke met die ANC en dié van voor 1994 is geldig nie en wel om die volgende redes:

    1. In daardie dae het ons die mag van die ganse staat gehad. Daar was dus ‘n daadwerklike rede waarom die ANC ten minste in die korttermyn hul beloftes gestand sou doen. Ek reken dat enige gesprekke nou net ‘n gespreksforum sonder angel is.
    2. Wat ons wel tot nou gesien het, is dat die regime geensins hulle woord hou oor enige saak nie. Ek dink daar bestaan ‘n wanbegrip by Afrikaners oor die aard en doel van samesprekinge in die Afrikakultuur. Terwyl ons as Nederduitse gemeenskap oor eeue heen ‘n regsbegrip rondom ooreenkomste en kontrakte gevorm het, het daardie gesofistikeerde ontwikkeling nooit in die Afrikakultuur plaasgevind nie. Hierdie wanbegrip het ook Piet Retief en sy geselskap se lewens gekos en het aanleiding tot Bloukrans en Bloedrivier gegee. In Afrika geld die ooreenkoms net so lank albei partye oor mag in die brutale vorm beskik. Toe die Retiefgeselskap hul wapens neergelê het, het die ooreenkoms geëindig. Die oomblik as enige van die partye mag verloor of afstaan, verval die ooreenkoms. Dit is die begrip wat Roelf Meyer glad nie verstaan het nie. Uit sy naïewe Westerse raamwerk het Meyer in goeder trou onderhandel. Sedertien betaal ons in bloed en aanduidings is dat ons op ‘n massale bloedbad, veel erger as Bloukrans, mag afstuur.
    3. Dit was juis weens die NP-onderhandelaars se liberale aanname, naamlik dat die Afrikaan dieselfde begrip rondom ooreenkomste as ons huldig, dat die ANC so suksesvol met diplomasie was. Die ANC se sukses was nie omdat hulle kwansuis goeie onderhandelaars was nie, maar eerder omdat ons leiers weens hul Westerse konsep van kontraktereg so naïef was. Om aan te neem dat ons dus, vandag, met gesprekvoering dieselfde sukses as die ANC vóór 1994, sal bereik, is om van voor af weer daardie fout te maak. Weereens huldig dit die mistasting dat die Afrikaan oor dieselfde begrip rondom ooreekomste as ons beskik. Ek betwyfel dus of enige gesprekke op hierdie stadium met die regime (insluitende Zuma) enigsins iets sal oplewer. Ons beskik doodeenvoudig nie oor die tipe mag wat vrees by die Afrikaan inboesem nie.
    4. Die voortgesette gesprekke met Zuma skep die indruk van ons desperaatheid en oënskynlike weerloosheid. Eintlik hoef Zuma ons niks toe te gee nie, want soos uit bostaande geargumenteer is, is daar nog geen werklike afskrikmiddel aan ons kant nie. Deur dus verdere gesprekke te voer, lyk ons eerder soos bedelaars wat kom bakhand staan en dit beklemtoon hulle (die ANC se) mag oor ons. Die gevolg is dat ons swak postureer en dus na ‘n maklik oorwinbare, selfs weerlose, vyand lyk. Hierdie benadering binne die Afrikaverband is juis baie waarskynlik om ‘n geweldsaanval op ons uit te lok. Indien ons Steve Hofmeyer se “hardegat”-houding inneem, begin ons in die Afrikaverband sterker postureer. Gesprekvoering op hierdie stadium doen oneindig meer kwaad as goed.

    Ons kan ons ook nie bekommer oor wat die Weste sal sê rakende ons agenda of benadering nie. Ons maak in elk geval ‘n fout as ons dink dat ons oortuigde vriende in die vorm buitelandse regerings het. In die uur van nood gaan nóg Amerika, nóg Europa ons tot hulp snel en sal ons ten volle op onsself aangewese wees. Ons het geen aanspreeklikheid teenoor die buiteland nie. Ons is alleen teenoor onsself en God aanpsreeklik.

    Myns insiens moet alle gesprekke wat met Zuma en die regime gevoer word, ook deur die landboufederasies, in die geheel gestaak word. Alle gesprekke dui op ‘n poging om in goeder trou te onderhandel, want dit is presies die onderliggende aard van onderhandelinge. In die afwesigheid van brutale mag, aan ons kant, laat enige poging in goeder trou ons swak vertoon. (Met “brutaal” bedoel ek nie geweld nie, maar wel die vermoë om dit te kan toepas ingeval van ‘n bedreiging.) Dis om hierdie rede dat, ten spyte daarvan dat die landboufedrasies die minister se drumpel deurtrap, plaasmoorde net toeneem. Die Afrikaan sien die een wat om genade of vergunning vra as ‘n swakkeling. Dit is juis die gesprekvoering wat verdere geweld uitlok.

    Die enigste nie-gewelddadige bedingingsproses wat ons durf volg met enige arm van die regime is deur die howe. Die adverseriële aard van die hofgeding is die enigste bedingingsvorm wat nie ons postuur afbreek nie.

    Verder moet meelopers soos Pieter Mulder geïsoleer word. Die klem moet eerder val op die opbou van ‘n Afrikanerowerheid soos telkemale deur Anton Barnard gepropageer is. Tesame met laasgenoemde, is die oprigting van ‘n paramillitêre beweging ‘n prioriteit. Eers wanneer ons weer mag begin projekteer, durf ons in gesprek met Zuma of enige regimefunksionaris tree.

    бурение артезианской скважиныФільчаков прокурор

  • Dingaan, die held

    Dingaan beklee dieselfde status in die Afrikanergeskiedenis as Adolf Hitler in die Joodse geskiedenis. Nie net het Dingaan Piet Retief en sy geselskap van tagtig op ʼn geslepe wyse gevange geneem en doodgemartel nie, maar hy het ook 500 mense – hoofsaaklik vroue en kinders – by Bloukrans en Weenen in ʼn massamoord laat uitwis.

    Die ANC beskik oor geen morele kompas meer nie en is reeds kop in een mus met Mugabe. Binnekort sal die party seker ook vir Charles Taylor, Idi Amin en Mengistu Haile Miriam, Afrikaleiers wat een en almal die gruweldade van Dingaan geëwenaar of oortref het, tot helde verklaar.

    Die Voortrekkers se bedoelings was vreedsaam; vandaar ook die feit dat onskuldige vroue en kinders onverhoeds deur die Zoeloe-impi’s betrap en vermoor is. Tot die lafhartige moord op Piet Retief en sy geselskap plaasgevind het, was daar geen sprake van kwade bedoelings aan die kant van die Voortrekkers nie.

    Die situasie van die Natalse Voortrekkers in 1838 toon ooreenkomste met die buitelanders in hedendaagse Suid-Afrika. Hulle was vlugtelinge wat die Britse verdrukking in die Kaap nie langer kon verdra nie, maar het slagoffers van Dingaan se xenofobie geword.

    Sbu Ndebele wil met sy verklaring sy volslae minagting vir die Afrikaner en die lewens van Afrikanervroue en –kinders wat deur Dingaan geneem is, oordra.

    Die feit dat onskuldige Afrikaanse vroue en kinders vandag weereens soos op 17 Februarie 1838 aangeval en vermoor word, toon dat “hoe meer dinge verander, hoe meer bly hulle dieselfde”.

    Met sy verheerliking van die volksmoordenaar Dingaan, dra Ndebele ook die boodskap oor dat daar hoegenaamd geen gemeenskaplike waardestelsel of siening van die geskiedenis in Suid-Afrika bestaan nie. Dingaan se barbaarse filosofie van "mag wat reg is", is ook die ANC s’n. Daarom gaan die geskiedenis herskryf word om van Dingaan ʼn held te maak en van Piet Retief en sy mede-Voortrekkers naïewe slagoffers wat in hul swakheid en goedgelowigheid ʼn verskriklike dood oor hulself gebring het.

    Danksy die xenofobiese houding wat die ANC teenoor die Afrikaner se geskiedenis, taal en kultuur ingeneem het, is daar vandag geen toekoms meer vir ons in Suid-Afrika nie.

    Hoe ironies dat die Afrikaner meer as anderhalfeeu ná sy heroïese Groot Trek met al sy ontberinge nog steeds na ʼn vaderland op soek is. In weerwil van die kolossale bydraes wat hy met sy belastings en kundigheid aan Suid-Afrika gemaak het, word hy steeds as vreemdeling gesien waaroor daar telkens ʼn nuwe pogrom afgeroep kan word.

    zoom отзывылобановский александр досье