Sydney Gregan: ‘n Negatiewe toekomsverwagting?

Terwyl die tweede fase van die kommunistiese revolusie begin stoom kry en die land se wiele duidelik besig is om af te val, is die vraag: Wat nou gemaak in hierdie omstandighede?

Dis reeds baie duidelik dat die studente-onrus oor baie meer gaan as blote studiegelde. Dit gaan daaroor om die laaste vestings van die blanke te vernietig. Daarom is die pogings van studente (hoe verdienstelik ook al) om Totius se standbeeld op die Noordwes-kampus van die Pukke te beskerm, futiel. Dis futiel omdat hulle rektor en sy hele raad slapgatte is. ‘n Beter woord om sulke lafhartigheid te verwoord, ontbreek ongelukkig. Terwyl studente nog iets van hulle patriotisme wys, gee die owerhede van Afrikaanse kampusse oor en lieg hulle vir studente oor die uiteinde van hulle oorgawementaliteit.

In 1983 het enkele studente aan die RAU gewaarsku dat dit nie sal eindig by ‘n kwota anderskleurige studente nie, maar dat RAU van gedaante sal verander deur die toelating van swartes. Hulle is toe uitgelag. Dié wat gelag het, sit seker nou in Australië. Maar hulle is destyds deur die Broederbond-rektor professor Pieter de Lange verseker dat dít wat nasionaal-gesinde studente beweer het, nooit sou gebeur nie! Waarom sal dit dan anders gesteld wees op Potchefstroom? Dít terwyl dié voorslagkommunis, Blade Nzimande, juis die minister van onderwys is. Dis tog getik om anders te wil dink en droom.

Ja, elke universiteit sal omvorm word tot ‘n tipiese Afrika-instelling waar standaarde vernietig sal word sodat elkeen ‘n graad op ‘n skinkbord sal ontvang. As gesien word hoe hierdie studente optree en hoe hulle lyk, is dit ‘n ope vraag of die Afrikaner enigsins met sulke mense geassosieer wil word.

Elders in die land gaan dit nie enigsins beter nie. Terwyl die geldeenheid maandeliks verswak, word berig dat dit met die banke uitstekend gaan! Tog interessant, nè! Terwyl die gewone burgers dus maand vir maand verarm, spog banke en groot maatskappye met rekordwinste. Terwyl die land afgebreek word, juig die superelite oor hulle rykdomme wat meer word. Duidelik pas die sosialisme wat die ANC toepas hierdie bevoorregte groepie. En dít terwyl die gewone burger nog glo dat ons ‘n kapitalistiese staat is!

Die einde is nog lank nie in sig nie. Nasionaal-gesinde Afrikaners het gewaarsku dat grootskaalse onteiening sal plaasvind onder ‘n ANC-bewind. Hulle is begroet met die Rooikappie-storie dat ‘n Nee-stem destyds sou beteken dat die VSA se oorlogskepe dae later aan ons kus sou wees! Foeitog. Hoe naïef was sommige nie gewees nie. Verbeel jou, die VSA val Suid-Afrika aan omdat hy nee sou stem. Die ironie is dat die einste VSA se geduld nou kennelik opraak met ‘n regime wat hom uitdaag deur waansinnige beleidsrigtings. Eintlik hoef die VSA net weer sanksies toe te pas om hierdie wankelrige staat binne enkele dae op sy knieë te bring.

Maar terug by onteiening. Onteiening is ‘n sine qua non in ‘n sosialistiese staat. Veral in daardie state waar die regime nou “van links” deur die EFF gedwing word om aan die eise van die gepeupel te voldoen. Die ANC-regime het vir hom ‘n nomenklatuur daargestel wat die ANC aan bewind moes hou solank die ANC vir hierdie nomenklatuur sorg. Die EFF het egter ‘n knuppel in die hoenderhok geword wat die nomenklatuur benoud laat rondfladder, min wetende dat alles haarfyn beplan is. Heel moontlik nie vanuit die ANC-geledere self nie, maar in alle waarskynlikheid deur die geldmagte. Die geldmagte floreer in state waar chaos heers omdat hulle in sulke omstandighede eiendomsreg (van alles) sentraliseer in die hande van ‘n uitgesoekte elite. Absolute rykdom kan net plaasvind indien die hulpbronne gemonopoliseer word. Dit kan net gebeur in ‘n toestand van onrus en chaos. Daarom — private eiendomsreg móét en sál sneuwel. Die superkapitalistiese staat wat nou vorm aanneem, is in wese ‘n sosialistiese staat. Uiteindelik sal die verhogings wat die nomenklatuur vir hulleself so gereeld ruimskoots toestaan ook niks werd wees met ‘n geldeenheid wat waardeloos is nie. Grootskaalse armoede is inderdaad vir meeste op die horison.

Ja, op elke front lyk dit uiters droewig. Van die Afrikaanse kerke wil ek nie eers praat nie. Die kerkleiding in hierdie kerke wil die revolusie ter wille wees, eerder as die ware evangelie verkondig. Hulle einde is in klippe gekap. Die kerk het die aanvoorwerk vir hierdie revolusie gedoen en die revolusie sal hulle ook verorber. Die DA wil ten alle koste swart ondersteuners kry en dank lede af wat dit waag om ‘n positiewe opmerking oor PW Botha van alle mense te maak. Besef die DA nie dat PW die pad vir hulle oopgemaak het met sy oorgeebeleid van destyds nie? Hulle behoort hom te vereer!

Nou is die vraag: Wat van Solidariteit en Afriforum en al hulle vertakkings? Op die oog af lyk dít wat gedoen word goed vir enigeen wat die saak slegs op die korttermyn beskou. Daar word geveg vir Afrikaans, vir individue se burgerregte, en so meer, en protes word oor baie sake aangeteken. Baie mooi. Maar daar word om die dood nie gepraat van die vryheid (selfbeskikking) van die Afrikaner in sy eie land nie. En enigeen wat durf waag om te “regs” te wees, word persona non grata. Vra maar vir Dan Roodt en Steve Hofmeyr. So terloops, ek het lank laas so ‘n idiotiese opmerking gehoor soos die uitlating dat Die Stem (ons ware volkslied) mense emosioneel skade berokken! As Die Stem egter saam met die afgodslied gesing word dan is daar kwansuis geen skade nie… Ek beleef weer die absolute teendeel. Sedert 1994 kook my bloed elke keer (met onherstelbare skade) as Afrikaners (waarvan Heyneke Meyer seker die koek vat!) hierdie afgodslied sing asof dit die laaste keer is dat hulle gaan sing. Ek verneem Meyer moet ‘n nekoperasie na die Wêreldbeker ondergaan…

So waar laat dit ons? By ‘n negatiewe uitkyk oor alles in hierdie land? Waarskynlik. Dat daar geen oplossing is nie? Moontlik ja. En dis juis die probleem. Omstandighede word aangespreek, terwyl die oorsaak ten alle koste vermy word. Wat ons volk nodig het, is ‘n politieke oplossing en nie oplossings vir sosiaal-maatskaplike probleme wat vir seker sal misluk in hierdie verbrokkelende staat wat juis ten doel het om die Afrikaner ten gronde te rig nie. Jy kan alleen ‘n positiewe toekomsverwagting hê as jy ‘n politieke oplossing bedink en bewerk wat volkome vryheid vir jou volk ten doel stel.

Daarsonder moet jy nie verbaas wees as jy van dag tot dag lewe en uitkoms soek in ‘n rugbyspan wat te veel betaal word en wat boonop geheel en al aan die nuwe bedeling toegewy is nie.

Dr. S.H. Gregan is ‘n prokureur van Nylstroom en ‘n graduandus van die R.A.U. wat reeds jare lank in die politiek aktief is.

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.