Die weer was warm, so 25 grade, maar in teenstelling met Nederland, was dit 'n droë hitte soos op die Hoëveld en dus houdbaar. 'n Soortgelyke temperatuur in Nederland is meestal klam en uitputtend wat 'n lekker stadswandeling moeilik maak. Hoewel die grootste drukte agter die rug was, was die stad nog behoorlik bont van die toeriste. Ek en my vriendin het toevallig verby 'n paar Afrikaners op die Karelsbrug geloop.
Benewens die uitstekende argitektuurstyle wat strek van neo-Goties tot Barok, van Jugendstil tot postmodern, staan hierdie stad ook vir sy kristalwerke bekend. Die binnestad het seker dosyne kristalhandelaars wat nie verleë is om hul mooiste pronkstukke ten toon te stel nie. Dit sluit in piramides, kandelaars, blompotte, ketels, blomme, karikature en diverse diersoorte wat 'n kleurryke verlokking vir die oog vorm, terwyl die strate 'n gesellige drukte het van toeriste en plaaslikes wat deur die strate flaneer.
Soos altyd is die bekendste erfenisse van die stad, die Sint Vituskatedraal, die Karelsbrug, sterrekundeklok, Joodse wyk, Pilsener Urquell, beeldskoon vroue, Antonin Dvorak, Franz Kafka, Bedrich Smetana, Jan Hus, die Golem en andere op een of ander manier sigbaar.
Die stad het egter ook in die teken gestaan van 'n grimmiger gebeurtenis. Die afgelope Augustus was dit veertig jaar gelede toe die lande van die Warskou-verdrag Praag binnegeval het om die Tsjeggoslowaakse president Alexander Dubcek te dwing om af te sien van sy "Sosialisme met 'n menslike gesig"-beleid, beter bekend as die Praagse Lente. Met hierdie beleid wou Dubcek wegbreek van die streng kommunistiese bestel van die Sowjetunie.
Bo aan die Vaclav Havel-straat – die Praagse ekwivalent van die Champs d'Elysée – is die Nasionale Boheemse Museum wat die besetting ten toon gestel het. Hierdie museum dra nog steeds die littekens van die inval. Die pleisterwerk waar artilleriegeskut getref het is nog goed te sien op die swart pilare. Aan die voet van die museum was daar 'n graffitimuur opgerig met allerlei protestekste en plakkate, soos onder andere "Dubcek! Svoboda!" (Dubcek! Vryheid!), "Potsjemu??Potsjemu? Potsjemu!!!" (Waarom?? Waarom? Waarom!!!) en wat my besonder geïnteresser het, was 'n plakkaat van 'n moeder wat haar kind vashou met in Russies onderaan geskryf: "Wat sê jy vir jou ma by die huis?"
Ook by die voet van die museum is daar twee bulte in die plaveisel met 'n brons Christuskruis daarin gelê. Op die kruis se dwarsbalk is die name Jan Palach en Jan Zajic gegraveer, 'n huldeblyk aan twee jong martelaars wat hulself aan die brand gesteek het uit protes teen die kommunistiese besetting, Palach in Januarie en Zajic in Februarie 1969. Hul gedenksteen so 'n paar meter verder is nog steeds besaai met blomme, kerse en tekste van simpatisante.
Toe ek agt jaar gelede Praag besoek het, maak ek 'n fout toe ek 'n Tsjeg wat my 'n advertensiebrief op straat uitgedeel het vriendelik bedank het met die Russiese "Spasiba". "Spasiba??!!", antwoord hierdie kêrel heel verontwaardig, maar ek het gewoon verder geloop. Eers later sou 'n Tsjeggiese kennis my vertel dat om Russies te praat in Tsjeggië nog erger is as om Engels in Parys te praat. Die Tsjegge is nog baie giftig teenoor enigiets Russies. My Tsjeggiese kennis het op 'n stadium vertel dat selfs op skool in die tagtigerjare het hulle massaal geweier om Russies as tweede taal te leer. 'n Mens kan liewer Duits praat, aangesien hierdie stad oor 'n gevestigde geskiedenis van Duitse invloed beskik. Immers, een van Praag se grootste skrywers, Franz Kafka, het in Duits geskryf.
In die sentrum van die stad loop ek toevallig verby 'n gebou met 'n interessante plakkaat voor die deur. Op die plakkaat is 'n Russiese matrosjka te sien (daardie houtpoppie met kleiner en kleiner wordende hout poppies binne-in) met sulke groot slagtande en bo-aan die teks "Museum of Communism is here". Heel frappant. Ek het 'n foto daarvan geneem en vir myself gedink dat dit is nou presies waar Kommunisme tuishoort: in 'n museum! Was die Suid-Afrikaanse regering maar so slim.
Die stad is behoorlik bruisend en 'n mens sou skaars kon dink dat hierdie 'n laeloonland is. Vir 'n bedrag so min soos 100 krone (ongeveer 45 rand) kan 'n mens vir 24 uur op die moltreine en trams deur die hele stad rondry. Elke 7 minute is daar 'n moltrein en om te wys dat die Tsjegge hul sake goed gereël het, is daar selfs 'n tydsaanduiding wanneer die volgende moltrein oppad is.
Op die heuwel by die St. Vituskatedraal en Braagse Burg is die parlementsgebou en presidensiële ampswoning. Teenoor die ingang van die parlementsgebou is 'n standbeeld van die eerste president van Tsjeggoslowakye, Thomas Masaryk. Die regterhand van Masaryk reik 'n bietjie vorentoe met sy wysvinger en middelvinger teen mekaar, en ek moes dink aan John Vorster se gunsteling brandewyn-en-Coke-bestelling ("Twee vingers. Nie meer nie en ook nie minder nie.") Inmiddels bestaan Masaryk se Tsjeggoslowakye nie meer nie. Ná die val van die Berlynse Muur het hierdie staat die Fluweelrewolusie ondergaan en is in twee geskeur, met die Tsjeggiese Republiek in die weste en Slowakye in die ooste. Praag is nog steeds die hoofstad van Tsjeggië en Bratislawa is sedert 1989 die hoofstad van Slowakye.
Daar is duidelike veranderinge besig om te gebeur in Praag. Ou fabrieke en industrieë word gesloop en nuwe hipermoderne kantoorgeboue is besig om opgerig te word. Net soos in die geval van baie Europese stede vind die meeste bouwerke aan nuwe wolkekrabbers plaas buite die ou stadsentrum, en eksklusiewe motorhandelaars soos Maserati en Lamborghini kan 'n mens ook deesdae daar aantref. Daar was ook betreklik min boemelaars in die hoofstad, en ek vermoed dat baie van hulle Sigeuners is. Daar is nuwe winkelsentrums wat geopen het sedert ek laas daar was, en ek vermoed dat oor 'n dekade Tsjeggië al heelwat vordering gemaak het om op peil te kom met die Weste.
Sedert verlede jaar behoort hierdie land aan die EU maar handhaaf voorlopig nog sy eie munteenheid. Dit lyk soos 'n slim taktiek om eers die kleiner lande te moderniseer en op peil te bring, aangesien kleiner bevolkings beter met veranderings kan omgaan. Die EU is egter goed met uitbreiding maar swak om mag te vertoon. Of die EU Amerika se politieke spierkrag ooit sal oortref, is bedenklik.
Solank hierdie kosbare juweeltjie van 'n stad beskerm sal bly vir die nageslag sal dit 'n ryk geskiedenis saamdra. Dit was deur die eeue heen 'n belangrike trekpleister vir mistici en ideoloë gewees, vandaar die begrip "Boheem", vermoed ek.
Ongelukkig was my besoek slegs beperk tot 'n naweek, anders sou ek meer uitvoerig hieroor kon skryf.
Dalk volgende keer.

Die afgelope naweek het ek besoek afgelê by die Tsjeggiese hoofstad Praag om weer ná elf jaar kontak te maak met 'n ou vriendin van my RAU-jare wat deesdae in Australië woon. Aangesien Praag 'n anderhalf uur se vlieg van Amsterdam is, het ek besluit om ná agt jaar hierdie indrukwekkende stad weer te besoek.