In sy gesaghebbende boek oor Afrika en wat ook in Afrikaans vertaal is, Negrologie, beskryf die Franse joernalis Stephen Smith Afrika as ʼn “Ubuland sonder grense”, laasgenoemde synde ʼn verwysing na die beroemde absurde klug deur Alfred Jarry, “Koning Ubu”.
Asof die onlangse voorbeeld van grondhervorming in Zimbabwe nie genoeg was nie, is Suid-Afrika se ANC-regering besig om presies dieselfde grondroofprogram in ons land van stapel te stuur. Derduisende grondeise is landwyd op boere se plase geregistreer, meesal sonder getuienis wat die toets van ʼn hofsaak sou deurstaan.
Soos daar ook gister op Praag berig is, is voedselsekerheid besig om ʼn globale kwessie te word. Katerine Serra, ʼn amptenaar van die Wêreldbank, praat van ʼn “stille hongersnood” wat die planeet bedreig. Globale voedselpryse het volgens die Verenigde Nasies se statistieke met 35% in die jaar tot einde Januarie gestyg.
100 miljoen mense in Afrika is besig om na armoede terug te keer en vele nasies maak gereed vir verdere onstabiliteit ná voedselonluste in 37 lande oor die afgelope tyd.
Om te midde van sulke omstandighede ʼn verwoestende grondhervormingsprogram deur te voer, herinner aan die manewales van Idi Amin, die legendariese Oegandese diktator wat goedsmoeds die bates van minderheidsgroepe in sy land gekonfiskeer het en agterna sy land in hongersnood gedompel het.
Ons boere en landbou-organisasies moet eenvoudig hul stemme begin dik maak oor die onhoudbare situasie wat op die duur ʼn Zimbabwe in ons land kan veroorsaak. Ook die gewone Afrikaner sal moet wakker word en besef dat die ANC se grondroofprogram hom en sy gesin wesentlik bedreig.
Tagtig persent van Zimbabwe se bevolking ontvang tans voedselhulp van Westerse nie-regeringsorganisasies soos Oxfam of die Wêreldvoedselprogram. Daar is siniese mense in Suid-Afrika wat meen dat ons ook maar uiteindelik voedsel sal moet invoer of voedselhulp sal moet ontvang. Terwille van politieke korrektheid en om aan die politieke verwagtinge van ANC-kiesers te voldoen, moet ons maar ons landbou en voedselproduksie op die altaar van politieke gedienstigheid plaas.
Gegewe die wêreldwye tekort aan voedsel wat tans geld, speel die politiek korrektes egter met vuur. Te veel Afrikalande soos Zimbabwe, Ethiopië en Swaziland, om net enkeles te noem, staan reeds bakhand om vir Suid-Afrika nog plek in die tou af te staan.
