Militêre oefening eindig in chaos, sterftes

Pelikaanpunt
Pelikaanpunt

Wat veronderstel was om die hoogtepunt van ’n militêre oefening tussen agt lande in Suider-Afrika te wees, het Sondagoggend in ’n tragedie op die kus suid van Pelikaanpunt in Namibië geëindig.

Minstens twee soldate van die spesiale magte van Suid-Afrika en Malawi het gesterf, verskeie word vermis en talle is beseer in ’n fratsongeluk in ‘n stormagtige see aan die Namibiese kus.

Sedert vroeg Sondagoggend is die jongste verwikkelinge in die strategiese militêre oefening van die weermagte van die Suider-Afrikaanse Ontwikkelingsgemeenskap (SADC) in die grootste geheimhouding gedompel nadat twee vlootvaartuie van die Suid-Afrikaanse spesiale magte net suid van Paaltjies vergaan het.

Sowat 600 soldate van die weermagte van Namibië, Suid-Afrika, Angola, Malawi, Zambië, Botswana, Zimbabwe en Lesotho is tans op Walvisbaai saamgetrek vir die eerste militêre oefening van sy soort in die substreek.

Die maneuvers en opleiding het van 9 tot 29 September plaasgevind en vanoggend sou die laaste fase van die projek ten einde loop. Dit het ’n taktiese aanval in woestynoorlogvoering behels waarby alle weermagelemente betrokke sou wees vanaf die vloot, die leër en die lugmag tot die geneeskundige dienste.

Presies wat gisteroggend gebeur het, bly steeds ’n geheim van die manne en vroue in uniform, maar dit was beslis die laagtepunt van ’n beplande elite-aanval op ’n denkbeeldige “vyand” suid van Walvisbaai.

Republikein was self op die toneel sowat agt kilometer suid van Paaltjies en die feite is dat die twee Barracuda landingsvaartuie van die Suid-Afrikaanse vloot op onverklaarbare wyse omgeslaan het nog voordat die branders en die kuslyn bereik kon word. Hierdie vaartuie wat spesiaal ontwerp is op die basis van ’n rubberboot om spesiale magte vanaf duikbote en groter vlootvaartuie vir aanvalle op land te ontplooi, word as “onsinkbaar” beskou.

Volgens eerstehandse inligting was die weermagspesialiste veronderstel om ’n eerstelig-aanval op die teikenbasis uit te voer en is verskeie Barracudas as landingsvaartuie ingespan.

Twee van die bote met hul bemanning en die aanvalsmag het egter op see verdwyn. Eers nadat die twee groepe nie by die teiken opgedaag het nie, is onraad vermoed en ’n reusagtige soek- en reddingsveldtog op land en see van stapel gestuur.

Eers ná 11:00 is die wrakke van die twee vaartuie opgespoor omdat vermoed is dat die ongeluk tussen Paaltjies en Pelikaanpunt plaasgevind het.

Die twee vaartuie was egter tien kilometer van die teiken af.

In een weergawe word vertel dat die militêre kontingent van een van Namibië se buurlande per ongeluk een van die bote met vlootgrofgeskut raakgeskiet het en dat die ander boot hulle te hulp gesnel het.

Die ander weergawe is dat die bote op see verdwaal het en nie rekening gehou het met die deinings en golwe van tot drie meter nie. Nadat die eerste boot omgeslaan het, het die ander ’n reddingspoging probeer uitvoer, maar het self in die moeilikheid beland.

NamPort en die waarnemende kaptein van Walvisbaai se hawe kon gister geen lig op die werklike omstandighede en voorval werp nie en die direktoraat van maritieme sake op Walvisbaai het alle navrae na die vloot verwys.

Die vloothoofkwartier op Walvisbaai het op sy beurt alle navrae na die weermaghoofkwartier in Windhoek verwys.

Dit was uiteindelik die polisie in Windhoek wat die voorval bevestig het met ’n kort aankondiging dat twee soldate by Walvisbaai gesterf het.

Geen amptelike verklaring is egter dusver uitgereik oor die presiese aard van die voorval, die vermistes of die beseerdes nie.

Teen 15:00 gister is een van die vaartuie wel uit die water gehaal, maar die tweede boot het nog omgedop agter die branders gelê.

Om 16:00 het ’n helikopter van een van die weermagte die toneel besoek en byna onmiddellik na die Rooikop militêre basis teruggekeer. – Die Republikein

Zambiese Brit moet ‘verduidelik’ oor anti-Suid-Afrikaanse opmerkings

Guy ScottDie Zambiese owerheid gaan blykbaar sy blanke visepresident, Guy Scott, vra of die opmerkings wat hy oor Suid-Afrika en president Jacob Zuma gemaak het, “juis” oorgedra is.

Die SAUK het gister berig dat Zambië se ambassadeur (hoë kommissaris in die Statebond se terminologie) in Suid-Afrika, Muyebe Chikonde, Vrydag deur die departement van internasionale verhoudinge in Pretoria ontbied is om Scott se aanmerkings te verduidelik.

Chikonde sê dat die kommentaar nie die amptelike siening van Suid-Afrika weerspieël nie, het die uitsaaier berig.

Zambië het Suid-Afrika van noue bande verseker en het gesê dat die land Scott, wanneer hy van vakansie af terugkeer, gaan vra of die opmerkings wat aan hom toegskryf word, juis oorgedra is.

Donderdag het Suid-Afrika ‘n verduideliking van Zambië geëis ná berig wat in die Britse Guardian-koerant deur sy Johannesburgse korrespondent, David Smith, gepubliseer is.

Scott het gesê dat Zuma soos die voormalige NP-leier FW de Klerk is. “Hy [Zuma] is baie soos De Klerk. Hy sê vir ons: ‘Los Zimbabwe vir my.’ Verskoon my, wie het julle in elk geval bevry, was dit nie ons nie? Ek bedoel, ek hou nogal van hom, hy lyk na ‘n baie joviale karakter, maar ek beny hom nie sy raadgewers nie,” het Scott gesê.

Hierna het Scott teen Suid-Afrikaners uitgevaar, asook swartes.

“Die Suid-Afrikaners is baie agterlik, wat hulle historiese ontwikkeling betref… Ek haat Suid-Afrikaners… hulle dink regtig hulle is ontsettend belangrik en eintlik is hulle die oorsaak van soveel probleme in dié wêrelddeel,” is hy aangehaal

“Ek vermoed die swartes modelleer hulself op die blankes, noudat hulle aan die mag is.”

Afrika net so sonnig as korrup

Afrika is net so sonnig as wat dit helaas korrup is. En dit sonder die komplimente van apartheid.

Simon Rozendaal, ‘n Nederlandse korrespondent, het onlangs na Zambië gereis nadat Nederland, Swede en Kanada, asook verskeie hulporganisasies, die ontwikkelingshulp wat hulle bewillig het aan die Zambiese gesondheidsministerie, gestaak het. ‘n Netwerk van korrupsie is ontbloot wat aanleiding tot die opskorting van die hulpgeld gegee het.

Van die Nederlandse ontwikkelingsgeld is onder meer ‘n Hummer gekoop om op die net ses geteerde paaie in die land te gaan kerjakker. Op die voorblad van ‘n Zambiese koerant, word daar Donderdag nietemin gemeld dat Nederland Zambië natuurlik nie in die steek gaan laat nie.

Een en ander bevestig wat die ekonoom Dambisa Moyo, self Zambies, in haar boek ‘Doodlopende hulp’ skryf, naamlik dat alle hulpgeld in ‘n arm land onafwendbaar tot korrupsie lei.

Moyo dink trouens dat selfs die gewapende konflikte in Afrika deels te herlei is na skenkings van Westerse geld. Sy meen dat hulpgeld vir die volgende 25 jaar gestaak moet word sodat Afrika kan leer om op eie bene te staan.

Daarmee saam moet met die Europese tariewe op landbou-invoere weggedoen word en boere in Afrika moet vryelik kan uitvoer, sê sy. Moyo voel dat begrotingsteun eerder aan Afrikalande gegee moet word.

Die werklikheid is egter dat 20% van die Nederlandse hulp aan Zambië, wat nou gestaak is, juis begrotingshulp was!

Ten spyte van Den Haag se dwaling, het die EU intussen besluit dat Afrika meer ontwikkelingshulp behoort te kry.

Maar die voordele vir swart ontvangers van hulp is nie beperk tot Zambië nie. In dieselfde Zambiese koerant van Donderdag is ‘n berig oor die president van Senegal wat ‘n afskeidspartytjie gereël het vir ‘n amptenaar van die Internationale Monetêre Fonds, die IMF. Toe die amptenaar die koevert wat die president aan hom gegee het, op die vliegtuig onderweg na Spanje oopmaak, vind hy $200 000 daarin.

Aangesien die man van Europa is, het hy toe maar die koevert aan die Senegalese ambassade in Madrid gaan teruggee…

 

игра пупсикилобановский александр биография