362 jaar van voorbereiding vir ‘n oorname

Verstommend is die feit dat swartmense in SA, na die persepsie van die wêreld, vir 362 jaar sedert 1652 deur blankes onderdruk is, maar dat swartes in 1993 bevoeg geag is om oor die lotgevalle van ‘n Westers georiënteerde samelewing by die stembus te oordeel en tewens daarna die ekonomiese, politieke en staatkundige mag volledig oorgeneem het.

Stelselmatige oorname

In feite is die einste swartes vir 362 jaar voorberei om die mag oor te neem. Reeds hier in die 1700s is swartes in blanke huishoudings opgeneem … het hulle ons slaapkamers binnegedring … het hulle ons beddens opgemaak … het hulle ons kos gemaak … het hulle ons kinders op hulle ruê gedra- “pepa” … het hulle stelselmatig ons boerderye bedryf, ens.

Dr Christo LandmanSoos iemand op ‘n keer skertsend gesê het: “gee my sewe k’s dan doen ek die werk self”! Dit is presies wat oor honderde jare gebeur het. Witmense het hulle gewys hoe om dinge te doen maar swartmense moes dit doen … of het dit gedoen. Dit was nie net tot hande-arbeid beperk nie, maar het ook vakkundige beroepe behels. Vandag bv. kom ‘n tegnikus van ‘n bekende sekuriteitsmaatskappy die stelsel bywerk. Hy is swart. Die elektrisiën wat uitgestuur word na my huis is swart. Die bankklerk wat my by die bank bedien, is swart. Ek laat bloed trek vir analise-doeleindes en raai, dit is ‘n swart suster. En so kan ek aangaan.

En dan sit hulle letterlik in die parlement en lees hulle toesprake af, want wie geskryf het wat hulle sê, weet nugter alleen. Voor die “nuwe orde” is sake oor en weer deur opponerende groepe gedebatteer. Nou is dít wat gesê word gewoon wet.

Transformasie

Terwyl daar sogenaamd ‘n politieke kompromis bereik is, is daardie onderhandelinge lank reeds vergete. Dit verteenwoordig wesentlik ‘n oorname van die stelsel. Die stelsel was eens ‘n Westerse, gedifferensieerde samelewingsorde, met verdeling van magte (die trias politica), met ‘n vrye ekonomie en liberale asook gemeenskapswaardes. Die stelsel het ook voorsiening gemaak vir stamtradisies, -owerhede en –grondgebied.

Nou beteken transformasie afrikanisering. Ja ubuntu (medemenslikheid) beteken in die nuwe orde die aanvaarding van Afrika-waardes as normatief; ‘n konteks wat voorskriftelik en afdwingbaar is. Aanvaar jy dit, is jy een van die groter groep. Aanvaar jy dit nie, is dit rassistiese meerderwaardigheid.

Hiervolgens besit “the people” alles … die grond, die minerale rykdomme, water, ens. “The people” beteken kortom in die Bantoetale “die swartes”, want ‘n onderskeid word gemaak tussen abantu en abelungu (die wittes). Die staat wat niks anders as die diktatuur van die swartes is nie, besit alles vir abantu in trust.

Sowat twee jaar gelede hou die Artikel-185-kommissie ‘n tweejaarlikse beraad oor transformasie. Sowat sewe honderd abantu is teenwoordig. Daar was darem so tien abelungu. Die uiteindelike besluit van die beraad is dat transformasie beteken dat SA nie meer ‘n buitepos van die Westerse wêreld is nie, maar ‘n ware Afrikaland waar Afrikawaardes en -norme heers. Die wittes wat daar was het met hulle monde toe gesit!

Swakpunt in die mondering

Hulle het nou die mag en wat nou? Wel, die rekord sedert 1993 toon dat die nuwe magshebbers nie oor die vermoë beskik om uitkomsgebaseerde regering en dienste te lewer nie. Sien, hulle het vir 362 jaar die werk gedoen … maar nie geleer om te administreer nie. Die gevolg hiervan is eenvoudig dat, terwyl hulle graag teer op Westerse beskawingsdinge – soos duur Duitse motors, Italiaanse leerskoene, Franse donkerbrille, Skotse wisky, Chester Barry- Engelse pakke klere, ens. – die abantu nog steeds afhanklik is van Westerse beskawingsgoedere. Van dienslewering en diensteverskaffing is daar weinig sprake.

Hoe nou gemaak?

Die marxiste in Rusland het eens ‘n beroep gedoen op die werkers om hulleself te organiseer. In 1917 was daar die bekende oorname van die kommunisme! In Suid-Afrika is die wekroep aan Afrikaners: organiseer julleself … konsolideer julle getalle op beperkte georgrafiese gebiede (soos Orania en Kleinfontein) … mobiliseer julle vakkundige vermoëns en administratiewe vaardighede ten behoewe van julleself … dan sal julle oorleef.

Die kommunistiese Duitse Demokratiese Republiek van Oos-Duitsland het nie ideologies ineen gestort nie, maar weens hulle onvermoë om met die tegnologiese en administratiewe vaardighede van Wes-Duitsland (die Bondsrepubliek) mee te ding.

Intussen sal Afrika maar deur die evolusionêre proses van ‘n devolusie van mag, differensiasie van funksies en desentralisasie na gemeenskappe moet worstel. Hoe lank weet ‘n mens nie, want die wederkoms kan dalk plaasvind voor dit werklik gebeur. Is nog 2000 jaar lank genoeg?

‘Die Weste stereotipeer nog altyd vir Rusland’: Russia Today-redaktrise

Margarita Simonjan, 33, hoofredaktrise van Russia Today. Sy het dié pos op die ouderdom van 25 ontvang.
Margarita Simonjan, 33, hoofredaktrise van Russia Today. Sy is reeds op die ouderdom van 25 in dié pos aangestel.

Margarita Simonjan, 33, is die hoofredaktrise van die staatsbeheerde satellietnuusnetwerk, Russia Today. In hierdie onderhoud, wat met die Duitse tydskrif Der Spiegel gevoer is, beweer sy dat Westerse joernaliste steeds verkies om Rusland as ‘n booswig te skilder en dat haar stasie geen uitlaatklep vir regeringspropaganda bied nie.

Die Russiese president, Wladimir Poetin, het ‘n anti-CNN vir Westerse gehore geskep deur middel van die internasionale satellietnuusnetwerk, Russia Today. Hy het die netwerk van stapel gestuur ten einde “die monopolie van die Angel-Saksiese massamedia te verbreek”. Die regering het kennelik in sy doel geslaag, want die netwerk geniet meer kykers in die vernaamste stede van die Verenigde State as enige buitelandse uitsaaier.

In Washington skakel 13 keer soveel kykers op Russia Today in as op sy Duitse eweknie, Deutsche Welle. ‘n Totaal van 2 miljoen Britte volg die program. Op YouTube het Russia Today, wat in Moskou geleë is, onlangs die miljardgrens verbygesteek, die eerste uitsaaier ter wêreld wat dit regkry. Die hoofredaktrise, Margarita Simonjan, 33, sien die uitsaaier as ‘n soort ministerie van mediaverdediging vir Rusland.

U netwerk sien sigself as ‘n teenvoeter vir die vernaamste Amerikaanse uitsaaiers. Hoe het u daarin geslaag om die CNN-legende, Larry King, 79, van alle mense af te rokkel?

Simonjan: U sal hom daardie vraag moet vra, maar ek weet dat hy hoogs tevrede is om weer in spel te kom.

Wat kan Russia Today aan King bied wat ander nie kan nie?

Simonjan: Ek kan uit een van sy onlangse onderhoude aanhaal: “Ek het gedink ek kan aftree, maar ek is versot op my werk. Ek het nie gedink ek sal dit mis nie, maar ek mis dit wel.”

U netwerk word deur die Russiese regering befonds. Wat staan in u missieverklaring?

Simonjan: As u op enige gewone dag op CNN of die BBC inskakel, is 80 tot 90 persent van die berigte identies. Ons wil wys dat daar baie meer stories daarbuite bestaan as die 10-per-dag wat ‘n mens gewoonlik teëkom. Ek sê nie dat mense nét na ons program moet kyk nie, ek sê hulle behoort dit óók te kyk.

Die Russiese media het ‘n ietwat meer dramatiese siening van u doelwitte. Vele vergelyk u netwerk met die departement van verdediging. U het dit self al gesê, as Rusland gaan oorlog maak…

Simonjan: … dan sal ons by die geveg betrokke raak, ja. Dit is op die land se regte, gewapende konflikte van toepassing. Onthou u die oorlog in Augustus 2008? Op daardie tydstip het die meeste Westerse mediahuise gereageer asof hulle Georgië se departement van verdediging was.

In 2008 het Russiese troepe die Georgiese grondgebied binnegeval nadat president Mikheil Saakasjwili die bevel gegee het om Suid-Ossetië aan te val, ‘n separatistiese republiek wat noue bande met Rusland handhaaf.

Simonjan: Al die Westerse uitsaaiers het slegs die Georgiese kant van die verhaal weergegee. Saakasjwili is op al die netwerke vertoon; sy verklarings is op alle programme uitgesaai. Daar is gesê dat Rusland die oorlog begin het. Daar is gesê dat die land se troepe ‘n besige mark in die provinsiale dorpie Gori gebombardeer het. Ons het dadelik ons korrespondente soontoe gestuur, wat geen spoor van hetsy ‘n geskietery, hetsy bombardemente, kon vind nie. Westerse uitsaaiers het hul dekking in die geheel op die lyding van Georgiese burgerlikes gefokus. Daar was geen verwysing na Suid-Ossetiërs nie, wat intussen elke nag artillerie-aanvalle deur Saakasjwilli moes verduur. Dit was suiwer pro-Georgiese propaganda.

Dit was nie só eensydig nie. SPIEGEL het byvoorbeeld vroeg reeds verslag gedoen dat dit Saakasjwilli was wat die eerste skoot geskiet het. ‘n Komitee van die Europese Unie het tot dieselfde gevolgtrekking gekom.

Simonjan: Sekerlik, maar bloot agterna! Hoeveel mense het werklik die EU-verslag gelees? Die meerderheid mense glo tot vandag toe dat Rusland die oorlog geheel en al sonder provokasie begin het. Die bose Rusland bespring arme klein Georgië.

Dis nie ongewoon om Rusland in die rol van aggressor te sien nie.

Simonjan: Daarteen maak ek beswaar! Rusland het geen oorlog met ‘n ander land oor die afgelope 20 jaar begin nie. By hoeveel gewapende konflikte was Amerika in dieselfde tyd betrokke? Aan hoeveel oorloë het Europa deelgeneem?

Hoe verklaar u Rusland se negatiewe beeld?

Simonjan: Die Weste het nog nooit van die Koue-Oorlog-stereotipe afgesien nie. Een ding wat min joernaliste verstaan, is dat Rusland die Sowjetunie van binne af begin afskaf het. Dit was ons wat besef het dat kommunisme ;’n mislukking was. Ons het verstaan dat dit verkeerd was om ons wil op ander volkere af te dwing. Ons het die Oosblok sy vryheid gegun. Vandag is ons ‘n ander land, met ‘n heel anderse mentaliteit — iets wat Westerse joernaliste soms moeilik vind om te begryp. U, byvoorbeeld, het vroeër verklaar dat Rusland aggressief opgetree het sonder om dit met feite te staaf.

Is Russia Today se oogmerk om objektief verslag te doen? Of gaan dit ten eerste en bowenal daaroor om ‘n perspektief te bied wat anders as dié van die Westerse media is?

Simonjan: Het u al baie voorbeelde van objektiewe verslaggewing in die algemeen raakgesien?

Daar word pogings aangewend om objektief te wees. Maar u netwerk dek net een kant, en bied die Siriese diktator Bashar Assad ‘n platform vir sy politieke boodskap aan.

Simonjan: Daar is mense wat na Assad se politieke teenstanders as die “demokratiese opposisie” verwys. Maar selfs die rebelle het vroue verkrag en kinders vermoor. Neem byvoorbeeld vir Saakasjwilli. Hy word deur die BBC as ‘n held voorgehou. Vir ander verteenwoordig hy ‘n verdrukker. Daar is geen objektiwiteit nie – slegs benaderings van die waarheid deur soveel stemme as moontlik.

Die Russiese opposisie word slegs by uitsondering op u netwerk getoon, behalwe as ‘n teiken vir smeerveldtogte. U het selfs die Russiese woernaalskrywer en dissident Roestern Adagamof van pedofilie sonder die geringste bewys daarvan beskuldig.

Simonjan: Waarom het ons oor Adagamof berig? Want hy was besig om hom in die openbaar as ‘n kampvegter vir geregtigheid  te posisioneer

Die beskuldigings wat teenoor hom gemaak is, is uitsluitlik gegrond op verklarings deur sy gewese vrou wat sê dat hy baie jare gelede ‘n minderjarige meisie in Noorweë seksueel mishandel het. Die owerheid het weens ‘n gebrek aan getuienis verseg om ‘n klag teen hom aanhangig te maak.

Simonjan: Ons het hom nie vervolg nie; ons het bloot ‘n verslag uitgesaai. Ons het ook gepoog om ‘n verklaring van die vrou en van Adagamof te verkry. Sou die Duitse media versuim om oor ‘n politieke aktivis wat daarvan beskuldig word dat hy ‘n 12-jarige meisie seksueel mishandel het, te berig? Ek het self met die eggenote gepraat, en ek het beslis nie die indruk gekry dat sy kranksinnig is nie.

Hoe het dit gebeur dat u netwerk die eerste was om beeldmateriaal van die inhegtenisname van ‘n CIA-spioen in Moskou gedurende Meimaand te verkry? Hoe nou werk u met die owerheid saam?

Simonjan: Ons het daardie beeldmateriaal van ‘n agentskap verkry op dieselfde manier as wat elke ander Russiese televisienetwerk te werk gaan. Dit was nie eksklusiewe materiaal nie. Ons was eenvoudig vinniger as die ander om dit te publiseer. – Spiegel Online