
Sowat 26 oproeriges van Kokosi by Fochville aan die verre Wes-Rand verskyn vandag in die landdroshof op die dorp op aanklagte wat verband hou met openbare geweld.
Een persoon is dood tydens die opstande. Drie huise wat aan ANC-raadslede behoort én winkels wat deur buitelanders bedryf word, is geplunder en aangeval.
Die sekretaris-generaal van die ANC in Gauteng, David Makhura, het by ‘n verkiesingsveldtog vir jeugvrywilligers gesê die inwoners van Fochville word mislei en vir gewelddadige protesaksies gewerf.
Tientalle inwoners van die Kokosi township is reeds vroeër op ‘n waarskuwing vrygelaat nadat hulle in hegtenis geneem is op aanklagte van openbare geweld. Die geweld teen buitelanders, asook ANC-raadslede duur reeds ‘n week.
Die persoon wat doodgeskiet is, was op die dak van ‘n spazawinkel toe hy getref is. Die inwoners is glo ontevrede oor die gebrek aan behuising.
Twee en twintig inwoners van Protea-suid in Soweto verskyn ook vandag in die Protea-landdroshof op aanklagte van openbare geweld.
Geweld het die naweek weer opgevlam en skermutselings het voorgekom tussen inwoners en lede van die polisie.
Paaie is met klippe en brandende buitebande versper en verkeersligte is beskadig. Inwoners is ontevrede oor gebrekkige dienslewering in die gebied. Die betogings het Donderdag begin.
Lede van Julius Malema se EFF-party is deur Protea-suid se inwoners verjaag toe hulle in Soweto opgedaag het. Malema het vroeër aan betogers op Fochville aan die verre Wes-Rand gesê om te veg vir grond.
EWN berig egter dat sekere inwoners wel Malema se teenwoordigheid daar ondersteun het.
Die polisie het begin om strate in Protea-suid skoon te maak waarop klippe ná die oproer gegooi is. Motoriste is aangeraai om die gebied te vermy.
Intussen, het ‘n ANC-raadslid in Johannesburg verantwoordelik vir Behuising, Dan Bovu, gesê hy sal eersdaags ‘n vergadering met die inwoners belê te midde van gewelddadige betogings oor dienslewering.
Die vergadering sal die inwoners se vraag na elektrisiteit te bespreek, onder andere. Bovu sê daar is ook planne om die inwoners te hervestig.
“Protea-Suid kan nie ontwikkel word nie. Jy sal daarvan bewus wees dat Gauteng probeer het om die plek te ontwikkel, maar Geowetenskap sê dat jy nie daardie plek kan ontwikkel nie. Ja, daar is planne om mense van die Protea-Suid te hervestig.“
Chris Hani-rylaan en talle ander strate het deurgeloop onder die verwoesting. – RSG/EWN


