Tans is daar opnuut die mees belaglike omstredenheid oor die voortbestaan van die Springbokembleem en oor ander beuselagtighede. Daar word intense debatte gevoer oor waar die Springbokembleem geplaas moet word op die truie – links of regs. Blanke toeskouers word doelbewus verneder deur Nazi-agtige anti-rassistiese sterre op spelers se truie aan te bring, na aanleiding van 'n verbeelde insident van sogenaamde rassisme op Ellispark wat nie een van die ander 55 000 toeskouers gesien het nie. Vreemd.
Onlangs het Butana Komphela en mede ANC-kader Cedric Frolick opnuut 'n aanslag op die spel geloods, dié keer oor die eienaarskap van die Vrystaatstadion en Kingspark. Rugby is glo 'n spel vir misdadigers. Ek buig my neer voor u kundigheid in hierdie saak, menere Komphela en Frolick, synde kaders van die mees misdadige bewind op aarde: die enorme, wanordelike kleptokrasie bekend as die ANC.
Beeld het kort daarná, met geweldige fanfare, uitgebasuin dat die twee stadions veilig is. Die ANC het 'n dekreet uitgevaardig dat Komphela buite orde was. Verskoon my as ek nie die grote ANC se voete soen, oorstelp met dankbaarheid soos 'n wafferse Vlok nie.
Moontlik is diegene reg wat meen die aanslag op rugby is 'n rookskerm bedoel om Suid-Afrika se patetiese gebrek aan prestasie by die Olimpiese Spele te vermom. Is wraaksug en nyd jeens Afrikaners ook 'n faktor? Daar kan ook ander motiewe wees. Transformasie is dikwels 'n kodewoord vir plundery, en bes moontlik wil Komphela ook 'n Smuts Ngonyama word, wat homself dik wil vreet by rugby se trog.
Die optrede van die ANC is egter voorspelbaar en geen verrassing nie. Sy vasberadenheid om alles wat blank en veral Afrikaners s'n is etnies te reinig, is geen geheim nie. Die groter verrassing is dat ons as Afrikaners toelaat dat ons deur hierdie snert gyselaar gehou word.
Dat absurde manewales oor 'n embleem voorbladnuus kan wees terwyl die internasionale ekonomie in duie stort, professor Kader Asmal erken dat daar teen 2014 'n waterkrisis sal wees en terwyl moord, verkragtings en plundery hoogty vier, spreek boekdele oor Afrikaners se prioriteite.
Dit sou nie vergesog wees om te sê dat die kapitulasie by Kodesa Afrikaners se vryheid, ekonomiese belange en persoonlike veiligheid vir 'n einde aan die internasionale rugbyboikot verruil het nie. Ek kan nie aan veel ander voordele vir Afrikaners verbonde aan die Nuwe Suid-Afrika dink nie. 'n Miljoen emigrante sedert 1994 dui daarop dat baie met my saamstem en met hulle voete gestem het.
Nes die fiasko by Eskom kan Komphela en die ANC se Machiavelliaanse transformasieplanne een, en slegs een uiteinde tot gevolg hê: dit sal rugby vernietig. Dis reeds besig om te gebeur; die Springbokke se vertonings hierdie jaar was nou nie juis wonderlik nie, en die kans is goed dat Engeland op Saterdag 22 November die Springbokke se tjank kan aftrap op Twickenham. Peter de Villiers se spelers het duidelik geen vertroue in hom nie.
Myns insiens sal die ineenstorting van Suid-Afrikaanse rugby weliswaar 'n tragiese metafoor wees vir die ANC-bewind se breë en totale onbevoegdheid, asook vir die vernietigende aard van die bewind se obsessie met rassistiese transformasie. Dit sal egter nie heeltemal 'n negatiewe uitwerking op Afrikaners hê nie.
Skielik sal ons sewe dae per week met die neerdrukkende realiteite van Suid-Afrika gekonfronteer word, en sal daar nie meer Saterdae ontvlugting wees voor die kassie of op die pawiljoen nie. Miskien sal meer Afrikaners hulself die vraag begin afvra: was die pot lensiesop – internasionale rugby – ons erflating werd? As daardie besluit deurdring, gaan ons dan stappe neem om onsself te bevry van die plaag van die ANC?
Gaan dus gerus maar voort met u vernietigingswerk, menere Komphela en Frolick, iets waarvoor die ANC 'n uitsonderlike talent het. Stel asseblief kwotas in by die hekke van Loftus: een blanke toeskouer vir elke tien swartes. Dis immers demografies-verteenwoordigend. Kies dertien swart spelers in elke span.
Vernietig rugby en kry klaar.
