Elders lees ek op Judy Ward, ‘n vriendin van my uit die jare toe beide van ons dosente was in Johannesburg, se Facebook-blad, oor die verval in Krugersdorp. Foto’s is natuurlik die beste bewys van die verval wat nie alleen daar nie, maar in die res van ons land so opmerklik (en grusaam om te aanskou), aan die orde van die dag is. Die reaksie van mense is al voorspelbaar: “skande”. Tog wil ons nie erken dat ons hulpelose toeskouers van hierdie verval geword het nie.
En voor mens die vraag probeer beantwoord; “waar gaan dit eindig?”, kom ons ervaar so bietjie “heimwee” oor wat was, ten einde opnuut te besef hoe dramaties dinge verander het. In net sowat 27 jaar.
In 1982 het ek, na my 2-jaar diensplig, in “Johies” beland om in te skryf aan die RAU, die Afrikaanse universiteit in die “Engelse” stad. My koshuis was Afslaan wat toe geblyk het ‘n uithalerkoshuis te wees wat jaar na jaar sangfeeste, die “Baron Gawie” (die Jooltrofee) en talle sportkompetisies, waaronder natuurlik koshuisrugby, gewen het. Waar braaivleisvure omtrent gebrand het soos die “Ewige Vlam van Mamajef Kurgan in Stalingrad”. Ja, ons het selfs die akademiese trofee jaar na jaar gewen…
En waar die Weermag van jou ‘n “man” gemaak het, veral “basiese opleiding” en jy intens bewus geword het van ons land se stryd met die “vyandelike” magte wat hierdie vaderland van ons “onregereerbaar” wou maak, het jy aan die RAU die idilliese van die lewe intens beleef en allerlei akademiese argumente gehad waarom die vyande nie in hulle doel sou slaag nie. Dis nou, as mense net na jou sou wou luister!
Dit was wonderlike jare (sekerlik van die heel beste) en die RAU het dan ook beslis die mooiste meisies in ons land gehad. Daarom was dit baie lekker om klasse by te woon waar die proffie nie altyd al die aandag gekry het nie… Ja selfs in die HF Verwoerd-biblioteek (jy het reg gelees, ja!) het jou kop gereeld gedraai as jy veronderstel was om “navorsing” te doen!
Dis hier waar die sportgogga my werklik gebyt het en ek die voorreg kon smaak om aan SAU’s deel te neem aan onder meer atletiek en landloop. Oral in die land. Sorgvrye, kommervrye dae. Behalwe nou as eksamens aanbreek en jy inderhaas jou notas agtermekaar moes kry. Dis veral hier waar jy vriende ontmoet wat lewenslank jou vriende sou bly. Al bly baie van hulle nou regoor die wêreld…
Wat was lekkerder om ‘n meisie uit te neem en by Café de Paris in Hillbrow koffie te gaan drink, daarna in boeke by Estoril Books rond te snuffel of saam met pelle ‘n hoender by Fontana (wat 24 uur van die dag oop was) te gaan verorber? Ja, Hillbrow was ‘n baie veilige plek in daardie dae en die Afrikaanse kerk waarvan ek lidmaat was het selfs daar ‘n kerkgebou gehad en het ons talle eredienste daar bygewoon. Sal ek ooit die dag vergeet toe ds Tony Simpson oor die “wil van die Here” gepreek het? Hy’t onder andere gesê dat as jy teen 120 km/h in Eloffstraat af jaag met ‘n motor en jy verongeluk, jy nie moet redeneer dat dit die Here se wil is nie. Sulke onvergeetlike oomblikke wat onuitwisbare indrukke gelaat het en daar was so baie! Is dit nie trouens waar dat die meeste daarvan uit ons studentedae kom nie?
Ons universiteitslied het gepraat van “die Rand so tuis so anders”. Hoe waar was dit nie! Johannesburg met sy aangename somers en, vir ‘n Bosvelder, snerpende winters. Ek was nooit een dag spyt dat ek by die RAU studeer het nie. Uitstekende professore, waaronder my promotor professor Barrie, onder wie se bekwame leiding ek my doktorsgraad voltooi het en wat vandag al 80 jaar oud is; professor JC Sonnekus, dalk een van die beste akademici wat hierdie land ooit opgelewer het, en professor JC van der Walt wat, in my oë een van die beste dosente was wat ek ooit teëgekom het. ‘n LLB-graad wat aan die RAU verwerf is, was hoog in aansien! In elk geval, in daardie dae.
Só kan mens voortborduur oor die Goudstad. Intervarsities, ja die dag toe ons die magtige Tukkies die eerste keer die loef af gesteek het. Ons het in daardie dae nog lekker gesing op die pawiljoen met ‘n rasieleier van formaat.
Waar Koos du Plessis die lof van Pretoria besing met sy “Pretoria, Jakarandastad” het ons na Johannes Kerkorrel geluister met sy “Gee jou hart vir Hillbrow!” Dit was in daardie dae ‘n skoon, ordelike en lieflike stad om in te woon. So sou ek onder meer in Crosby (Brixton), Aucklandpark, Triomf (Sophiatown) en Florida-Glen bly voor ek einde 1994 die pad terug Bosveld toe gevat het. Ja, en selfs die Engelse van “Johburg” was nie te “onaardig” nie. ‘n Paar van ons vriende was sommer baie tuis by Pirates Club in Greenside (waar die Engelse besigheidsmanne ons arm studente se drank op Dinsdae-aande betaal het na die 8 km “time trial” en ons tot laataand in die “pub” gekuier het. Met trots het ons (ek, Deon, die twee Andre’s en Martin) in die Pirates-frokkie menige Comrades-marathons kafgedraf. My heel eerste Comrades was dan ook as ‘n lid van Pirates en nogal in ‘n silwer! Gaan kyk maar in hulle klubhuis as julle my nie glo nie!
Maar toe daal die “nuwe” Suid-Afrika op ons neer. Oor die politiek agter daardie besluit wil ek hier nie veel uitwei nie, behalwe dat elkeen wat nugter oor die saak nadink vandag moet erken, dat dit ‘n fatale besluit was gesien die gevolge wat dit nie net vir die Afrikaner inhou nie, maar vir al die mense van ons land. RAU het geheel en al verengels en sy naam verloor, so ook die bekende strate van “ons” stad, waaronder DF Malanrylaan en selfs Jan Smutsrylaan. Toe ek die ander dag verby my Alma Mater ry, was dit asof dit ‘n wildvreemde plek was. Of iemand besig is om fisies my herinneringe uit te vee. Iets in my wou weerstand bied, maar dan die besef jy jy is weerloos. Jy is tandeloos. Jy is uitgelewer.
Uitgelewer aan wat? Aan die realiteit van Afrika wat niks en niemand ontsien nie. Waar regerings nie ‘n flenter omgee vir hulle onderdane nie. Die mense (onderdane) plunder en breek omdat die regering dit doen. Dis tog die voorbeeld! Ja, in ‘n tyd waar almal so versigtig is om reguit en openlik te praat, het ek daardie eienskap nog nooit verloor nie. Dit het my my hele lewe lank “gekos”, maar my nog nooit gestuit nie. Ja, ons besluit om die welvarende land in die hande van swart meerderheidsregering te plaas, was fataal. Dit was dwaas. En wat ons moet besef — dit sal onder hierdie swart regering, waar ‘n klein groepie politici al die mag ten alle koste sal behou — tot ewige nadeel en verdriet van almal in hierdie land, nie verander nie. Ons gaan dit nie reg praat nie en is weens die getallefaktor verdoem tot ‘n hulpelose minderheid wat jaar na jaar sal kla en hier en daar probeer regstel; maar waarvan die uiteinde, tensy ons weer oor onsself kan regeer, uitwissing is. Dis nie iets wat mense wil hoor nie en ‘n onderwerp wat baie nie wil aanraak nie, maar ek daag enigeen tot ‘n debat uit om die teendeel te bewys.
Sonder ‘n vryheidsideaal lewe ons bloot van dag tot dag en jaar tot jaar. Kan ons dalk weer eie universiteite bou, dorpe skoonmaak en hofsake wen, maar weens die mag van die politiek, die hoogste kroonrat in ‘n volk en ‘n land se bestaan, sal ons deurgaans “tyd wen”, soos ‘n bekende politieke party in die tagtigerjare gepraat het, maar die finale oorwinning nie behaal nie. Trouens, sonder ‘n vryheidsideaal is die skrif vir seker aan die muur.
Johannesburg sal, tensy ons tot die besef kom dat ons êrens ‘n streep in die sand moet trek, nie net verder verval wat betref sy strate en sy geboue nie, maar dit sal by uisttek die kriminele mekka van hierdie land word. Onregeerbaar, onrehabiliteerbaar, en aan die genade van die Malema’s en hulle juigkommando’s oorgelaat.
Die vuur brand nie meer net nader aan ons nie, die rewolusionêre vuur brand nou om ons. Ons voel die hitte daarvan. Dit sal ons weldra verteer. Ja, saam met Judy treur ek ook oor ons stad van weleer, dog staan ek verwonderd oor ‘n volk wat sy durf, waarvoor hy so bekend was, verloor het!
As iemand wat nou presies twee dekades lank by die taalstryd betrokke is, van daardie fatale eerste oomblik af toe ek ‘n ietwat huiwerige praatjie oor taalregte doer in 1996 by die Franse Instituut in Johannesburg op uitnodiging van Johann Rossouw gelewer het, moes ek eers my Linux Ubuntu-rekenaar herlaai om seker te maak dat daar nie ‘n onbekende virus daarop toegesak het en ‘n Trojaanse boodskap daarop laat flits nie: In ‘n Engelstalige artikel op LitNet spreek Marlene van Niekerk haar ten gunste van die behoud van Afrikaans op universiteit uit. Kan dit waar wees?!
Verkeer haar naam nie op die lys van meer as 200 US-akademici wat hulle reeds by wyse van petisie ten gunste van ‘n Engelse Stellenbosch uitgespreek het nie? Aangevoer deur ene Sandra Liebenberg, as ek reg onthou. Ek bewaar die lys hier iewers op my rekenaar, vir die dag wanneer ons hulle almal summier gaan afdank en wegjaag soos hulle al soveel kere met ons gemaak het. Dink maar aan hoe dr. Piet Croucamp die jong Nietzsche-kenner, Louise Mabille, verneder en by Tukkies laat verdryf het, bloot omdat sy die werklikheid van verkragtings in ons land durf noem het. En “moontlike kulturele faktore” wat aanleiding daartoe mag gee.
Ek weet nie of LitNet dié sal publiseer nie, want doer in 2000 toe ek aan die KKNK op Oudtshoorn ‘n ewe huiwerige, versigtige pleidooi vir taalregte gegrond op die 1996-grondwet gelewer het, is ek vir ‘n “Nazi” uitgeskel en letterlik met Adolf Hitler vergelyk. ‘n Nog amusanter element was die berig wat iewers in ‘n Nasperspublikasie verskyn het – dit kon die ontslape Insig gewees het – dat ek by die einste KKNK “in die geselskap van ‘n jong man met blou oë en wat Afrikaans met ‘n Duitse aksent gepraat het” gesien is… Stel jou voor: ‘n jong man met blou oë! En dan die “Duitse aksent”. Dat ek nie onmiddellik na die naaste heropvoedingskamp gestuur is nie, is ‘n raaisel. Ek dank altyd die sterre dat my kinders, anders as hul vader, een en almal bruin oë het, dus sal hulle seker nie deel uitmaak van die eerste golf suiwerings van “fasciste” as die Rooiwagte, Stellenbosse professore en ander progressiewe linkses uiteindelik op skerppuntaksie besluit nie.
Vanweë my oogkleur en pro-Afrikaanse standpunt, asook kritiek op die uitverkore party, die ANC, het Peet Kruger, toenmalige redakteur van Beeld, jare lank ‘n verbod geplaas op enige artikel of selfs brief uit my pen. Marlene van Niekerk was mos self deel van die groep antifa’s wat my met geweld gedreig het tydens 2005 se Woordfees toe ek ‘n onskuldige bekendstelling van my roman Moltrein, nie eens op die kampus van Stellenbosch nie, maar in ‘n privaat boekwinkel wou bywoon, nie waar nie? Soveel mensliewende verdraagsaamheid, soveel waardering vir spraakvryheid. Maar die grusame verhale van Stalin, Pol Pot, asook Mao se kulturele revolusie, moes ons seker voorberei het op wat uit Joe Slovo se gebalde vuis sou ontspring (sien foto hier onder).
Onder die verskriklike apartheid kon ‘n sogenaamde “dissident” soos André P. Brink elke Sondag in Rapport, mondstuk van die Nasionale Party, skryf terwyl hy luidkeels in Brittanje en Frankryk gekla het oor die sensuur waaronder hy gebuk gaan. Ai, die arme man. Hoe het hy nie gely nie.
Stadigaan het ons, die taalstryders en “fasciste” wat vir Afrikaans omgee, egter gewoond geraak aan linkse sensuur. Dis ‘n sensuur wat hom in die naam van “vryheid” en “progressiwiteit” aanbied, ‘n bietjie soos Oos-Duitsland wat as die “Duitse Demokratiese Republiek” (DDR) bekendgestaan het. Jy was baie vry en het reeds in die paradys gelewe, behalwe as jy probeer het om die “anti-fascistiese skandmuur” oor te steek. Ja, dis wat dit genoem is! Die Muur is gebou, nie om mense binne in hul “progressiewe, linkse, bevryde” utopie te hou nie, sien, dit het bestaan om hulle teen die slegte invloede van buite – die “fascistiese” Wes-Duitsland – te “beskerm”. En as jy jou nie aan dié beskerming wou onderwerp nie, dan is jy met ‘n masjiengeweer neergevel. Al was jy nou ongewapen en sonder uniform. Want die revolusie is die revolusie en die onderskeid wat tussen soldaat en burgerlike in die Geneefse Konvensies staan, geld mos nie vir linkses nie. Nes vir die ANC-SAKP wat bomme in ons land gestel het, op straat of in winkelsentrums. Diegene na wie strate vernoem is of waarvan die name met eerbied geprewel word: Joe Slovo, asook Winnie en Nelson Mandela. As u vergeet het hoe hulle lyk:
Moontlik wil LitNet professor Van Niekerk – ‘n hoogleraar sonder ‘n doktorsgraad, helaas – ook teen my slegte invloed beskerm en sal dié skrywe nie geplaas word nie. Maar, raai wat, tot verdere kennisgewing, geld daar vryheid van spraak op die internet. Miskien nie in ons land nie, maar in die VSA waar daar iets soos ‘n “eerste wysiging” aan hul grondwet bestaan, kan jy sê wat jy wil. Jy mag selfs die N-woord gebruik, soos vele swart kletsrymers gereeld doen. Is dit nie skokkend nie? Dis seker waarom Amerika gereed maak om hul eie “Adolf Hitler”, Donald Trump, tot president te verkies, tot die konsternasie van linkse progressiewes wêreldwyd.
Maar kom ons los maar die Amerikaanse verkiesing; my punt is bloot dat die internet selfs iemand soos ek wat van meet af aan geëtiketteer en verguis is omdat hy dit durf waag het om die oppermag van Engels in Azanië te bevraagteken, van ‘n spreekbeurt voorsien. Want Engels is mos die taal van die nasionale demokratiese revolusie en alle revolusies wat nog kom, waaronder #RhodesMustFall, #AfrikaansMustFall, #KillABoer en wat nog. Professor Van Niekerk noem dit “fallisme”. In my studentedae het ek gelees van “fallogosentrisme” en sulke dinge, dus wonder ek nou hoe die twee bymekaar uitkom.
Ek kan sien hoekom professor Van Niekerk nie ‘n doktorsgraad nodig had om in die universitêre hiërargie te vorder nie: sowat van ‘n opeenstapeling – nogal in die Rooitaal – van kultuurmarxistiese, postmoderne gemeenplase het ‘n mens lanklaas in Suid-Afrika gesien. Dit bring vir my slegte herinneringe aan Yeoville of ‘n vervalle huis in Parktown, Johannesburg waar een of ander jong Duitse dosent en haar Griekse man “seminare” oor die (((Frankfurt-skool))) aangebied het.
Nou gaan ek seker reguit by die Menseregtekommissie verkla word, met die gebruik van die “altregse” drie hakies om die Joodse etnisiteit van die here Marcuse, Horkheimer, Adorno et al aan te dui. Benewens woorde, kan selfs punktuasie deesdae “haatspraak” verteenwoordig. Maar die hakies kan ook ironies gebruik word, en daar is sommige wat dit deesdae op hul Twitter-profiele rondom hul name aanbring, regs, links of in die middel van die spektrum. Professor Van Niekerk is blykbaar ‘n boorling van Leeu-Gamka of iewers in die Karoo en hoewel sy, soos dit elke linkse betaam, ‘n verbete Nazi- en fascis-jagter is, is sy kennelik nie Joods nie. Sy dig darem een of ander Semitiese identiteit aan die Universiteit van Stellenbosch toe, want dit mag nie Christelik wees nie, dog wel moslems:
I find it extremely unfortunate, for example, that currently some pro-Afrikaans groups are once again clamouring for a Christian Afrikaans university at Stellenbosch. This is just not okay. They must go and build their own university somewhere else. Many of the people in the Western Cape who speak Afrikaans are Muslim or agnostic. Public universities are secular institutions and should remain so. That does not mean that religion as a phenomenon of social cohesion cannot be studied and discussed in anthropological or sociological or philosophical academic contexts.
Sou mens wel ‘n departement van Joodse studies aan die Universiteit van Stellenbosch kon verdra, wonder ‘n mens? Dit klink vir my soos ‘n benadering wat ewe gemaklik by die DDR sou kon gepas het: amptelike marxistiese ateïsme, maar Judaïsme en Islam is darem welkom. Ek wil nou nie te diep in die geskiedenis van linkse revolusies ingrawe nie, maar onder Lenin is Christene by die miljoene doodgemaak, terwyl daar in Moskou ‘n spesifiek Joodse teater opgerig is. Ook aan die Universiteit van Kaapstad bestaan daar die Kaplan-sentrum vir Joodse studies waaroor die volgende op sy webblad gesê word:
The centre seeks to stimulate and promote the whole field of Jewish studies and research at the University with a special focus on the South African Jewish community. Multi-disciplinary in scope, scholars are encouraged to participate in a range of fields including history, political science, education, sociology, comparative literature and the broad spectrum of Hebrew and Judaic studies. The centre is engaged in research and acts as a co-ordinating unit in the University.
Dr. Max Price, die rektor van die Universiteit van Kaapstad, het ook so pas die Deense joernalis, Flemming Rose, verbied om ‘n lesing oor akademiese vryheid op sy kampus te lewer, vanweë sy betrokkenheid by die spotprente oor Mohammed wat in die Jyllands-Posten verskyn het. Oor die Christendom en Christus kan enigiets gesê word, maar wee diegene wat dit waag om sonder eerbied met Islam en Mohammed om te gaan.
Dus: ons salueer u, professor Van Niekerk. Hou koers! U het verstaan dat Christelike fasciste of fascistiese Christene uitgesluit moet word. Maar wat nou van die agnostiese fasciste, wonder ‘n mens? Hoewel, enige agnostiese fascis is seker per definisie ‘n nasionaal-sosialis, dus kan hulle sommer dadelik Katyn-woud toe vir ‘n skoot in die kop, nie waar nie?
Weereens het u ‘n bondgenoot in dr. Piet Croucamp, die vermaarde linkse metafisiese teoretikus wat aan die “University of Johannesburg” (die voormalige RAU waar Afrikaans helaas volledig gesneuwel het) teen die Christelike godheid as “breindood” uitgevaar het. Darem het hy niks oor Allah te sê gehad nie, want ek is seker u sou aanstoot geneem het.
Ek lag nou hardop as ek dit skryf, maar die gedagte aan ‘n “agnostiese Afrikaanse Moslem” soos u dit voorstaan, vind ek nogal amusant. Terloops, is dit voor of ná Mohamed Lahouaiej Bouhlel se heldedaad in Nice geskryf? Nice, waar die plaaslike dialek hardnekkig gepraat word en die kiesers in die 2014- munisipale verkiesing met 48% vir die sentrumregse kandidaat, Christian Estrosi, en 21% vir Marie Christine Arnautu van die Front National gestem het, is seker te regs en het daarom Allah se woede verdien, soos toegedien met ‘n twintigtonvragmotor… Toemaar, ons weet, blanke lewens het geen waarde vir Links nie. Heteroseksuele Franse gesinne op die Franse nasionale dag – by uitstek ‘n fascistiese ritueel – verdien om uitgewis te word. Only Black Lives Matter. Of Moslemlewens. Die Franse Sosialistiese regering het die publikasie van foto’s wat dalk simpatie vir die kinderslagoffers mag skep, streng verbied. Terwyl die foto van die Turkse of Arabiese drenkelingseuntjie op die strand tot vervelens toe gebeeldsend is om die “hartelose” Europeërs te laat skuldig voel dat hulle nie onmiddellik hul grense oopgooi nie. En natuurlik Hector Pieterson se foto wat al om die twee dae voor ons koppe gegooi word. Terwyl die horde Afrikanerkinders wat in die onlangse verlede deur swartes vermoor is (Willemientjie Potgieter, Danielle Esterhuizen, Kayla Meyer, Wiehan Botes, om maar enkeles te noem), in die vergetelheid bly.
Soos Van Niekerk ook vir ons suggereer, is alle blankes kollektief skuldig aan al die wandade van die geskiedenis, asook die “cultural damage wrought by European colonialism”, soos sy dit stel. Skuldig, skuldig is ons almal, aan onnoembare oortredings, soos Josef K. in Kafka se Die verhoor. Aan die ander kant dra Mohamed Lahouaiej Bouhlel of die APLA-moordenaars wat goedsmoeds met outomatiese wapens op die gemeentelede van die St. James-kerk op 25 Julie 1993 losgebrand het, geensins tot die “kollektiewe skuld” van onderskeidelik Moslems of swartes by nie. In elk geval is die APLA-“kaders” – ja, dis hoe hulle genoem word, die Franse woord vir ‘n “middelvlakbestuurder” – deur die Waarheidskommissie (WVK) kwytgeskeld. Dis nou dieselfde WVK wat soos Robert Creig bevind het dat die blanke Afrikaanssprekendes oor ‘n “outoritêre persoonlikheid” à la Theodor Adorno beskik (sien hier onder). As ons nie heropgevoed kan word nie, moet ons seker maar van kant gemaak word, want ons dra die “fout” van ons herkoms, taal en kultuur.
Kennelik verteenwoordig professor Van Niekerk se wêreld ‘n postmoderne, diverse, identiteitsondermynende soort trans-belewenis waar gewone logiese kategorieë opgehef word. Dis die mengelmoes, die menigte, die oplossing van die persoonlikheid wat Herbert Marcuse vir ons so welsprekend in An essay on liberation beskryf het. Of in daardie opstelletjie van Michel Foucault waarin hy ingeslyks die voortreflikheid van die dwelm besing en waarin Gilles Deleuze in ‘n voetnoot bygevoeg het: “Wat sal die mense van ons dink?” Dwelms help natuurlik mee om die “persoonlikheidsoplossing” en saambestaan van logies uitsluitende kategorieë te bewerkstellig. In die Kaap is daar glo geen tekort aan dwelms nie, hoor ‘n mens. Trouens, dis een van die gevolge van die De Klerk-Mandela-revolusie: ‘n dwelmsmous of twee naby elke skool. Baie “progressief”.
Maar dis deel van my beswaar teen die geagte professor Van Niekerk: sy is vir my so ‘n… outydse linkse. Het Koos Kombuis nie iewers iets oor “ou hippies” gesê nie? Dit ruik na die uitskot van Mei 1968 en die ver-linkse buitensporighede van die sewentigerjare. Anargisme, Kropotkin, ai. Hoe sleg het ons nie aangetrek toe sulke idees destyds by partytjies bespreek is nie.
Soos ek al so dikwels gesê het, het die Berlynse Muur nog nie in Suid-Afrika geval nie, want die kritiek op marxisme soos dit in Europa en veral Frankryk in die sewentigerjare gelewer is, het nog nie by ons plaasgevind nie. Veral die deel wat ‘n noodwendige verband tussen die idees van Marx en Lenin en totalitarisme, massamoord, konsentrasiekampe en alles wat daarmee saamhang, vaslê.
Vermoedelik het professor Van Niekerk in haar onsamehangende epistel van 7000 woorde vir ons alles neergeskryf wat sy weet of waarvan sy al gehoor het. Dis ongelukkig nie veel nie. As sy 22 was, sou dit miskien destyds in 1977 of iewers “potensiaal” getoon het. Hier in die nuwe millennium, met die ontploffing van idees en inligting op die internet, doen dit as intellekuele tuiste net so verslete en ghwarrerig soos die huisie in Triomf aan wat sy in haar fameuse, gelyknamige allegorie van die Afrikaner beskryf. Daardie herhalende teks waarin haar Boerehaat-onderrok so ver uithang. En waarvoor die Engelse resensente en elkeen wat die “bloedskandelike, ingeteelde Afrikaners” minag, haar só tot teen die plafon aangeprys het.
In dié opsig sou ‘n mens professor Van Niekerk as die FW de Klerk van die letterkunde kon beskryf: eers het sy sonder huiwering verraad gepleeg, maar nou ontwikkel sy so ‘n mosterd-na-die-maal-sentiment vir Afrikaans. Spyt kom altyd te laat. Of het sy en dr. Theuns Eloff van die FW de Klerk-stigting haar “verklaring” saam gekoukus? So ‘n rammelende, “progressiewe” – haar gunstelingwoord wat sy nie minder as tien keer gebruik nie! – ode aan veeltalige, anti-wit, antifa-, agnostiese, Moslem-Nie-standaardafrikaans. ‘n “Bevryde”, “fynsinnige”, soos sy dit noem, Afrikaans maar wat nogtans sy hidjab dra. Dit sou seker by die Duitse politieke stigtings groot byval vind! Dis iets wat mev. Angela Merkel, gebore in die DDR en voormalige lid van die Kommunistiese Jeugbeweging, self kon uitgedink het. Die jongste spruit van die Germaanse taalfamilie wat nou, gepas vermeng en met ‘n paar Fred Astaire-passies deur die riel gestuur, met trots die hidjab of dalk bietjie later die boerka begin dra. Hier in Johannesburg in al die streng eentalig Engelse winkelsentrums sien mens al hoe meer die dames in hul swart kleding waarvan net die oë sigbaar is. Islam is seker die nuwe feminisme.
Aan die ander kant is ek van mening dat dit nou te laat is om vir Afrikaans uit die kas te klim, by wyse van spreke. In 2000 toe dit nog gewaagd was en jy maklik as ‘n fascis, ‘n rassis en ‘n Nazi uitgeskel is as jy die Grondwet van 1996 aangehaal het, sou dit sin gemaak het. Dr. Leopold Scholtz het ‘n hele loopbaan daarop gebou en sodoende mense laat vergeet dat sy pa, G.D. Scholtz, Verwoerd se biografie geskryf het en hyself ‘n ywerige NP-propagandis was. Maar noudat die Rooiwagte van die revolusie en #AfrikaansMustFall die arme blanke bloedjies uit die biblioteke by Tukkies verjaag met gepaardgaande doodsdreigemente, wonder ‘n mens of daar nie ander motiewe daaragter skuil nie?
Eie belang, byvoorbeeld. Akademici krap mekaar se oë uit vir poste en logies is professor Van Niekerk – die hoogleraar sonder ‘n Ph.D. – nie eintlik opgelei vir enigiets behalwe die doseer van Afrikaans en Nederlands, tesame met ‘n pot-pourri van geykte linkse idees nie. Indien #AfrikaansMustFall sou slaag en die US môre geheel en Engels en Afrosentries word, dink ek nie daar gaan meer plek vir Afrikaans wees nie, selfs nie eens in die “Department of Afrikaans and Dutch” nie. Al begin professor Van Niekerk ‘n hoofbedekking of selfs ‘n boerka dra. Dis in die aard van politieke korrektheid dat dit toeneem tot op die punt waar slegs die mees ekstreme en “suiwer” gedrag aanvaarbaar is. Dit het al die revolusies sedert 1789 bewys. Jammer om u ore seer te maak met ‘n Franse aanhaling – daardie fascistiese land waar ‘n derde van die bevolking die verregse mevrou Marine Le Pen en haar ewe fascistiese niggie, Marion Maréchal-Le Pen, ondersteun – maar soos die beroemde woorde van Pierre Victurnien Vergniaud lui:
“La Révolution est comme Saturne : elle dévore ses propres enfants.”
Ten minste het die Linkerbond en die Broederbond dít in gemeen dat hulle altyd oor hul eie posisies begaan is. Vandaar dus die nuwe “konsensus” rondom die red van “veeltalige, anti-wit, antifa-, agnostiese, Moslem-Nie-standaardafrikaans”. Want terwyl die gewone Afrikaanssprekende lankal sy “grondwetlike reg om sy eie kultuur uit te leef” kwyt is, geniet die oorblyfsels van die ou Afrikanerelite steeds daardie voorreg, tesame met die kultuurmarxiste op die kampusse. Voor ons oë sien ons dus ‘n nuwe alliansie verrys, maar wat op die duur Standaardafrikaans wil vernietig ter wille van ‘n nuwe “variëteit” of kultivar wat onder die druiwepriële van Stellenbosch tot stand moet kom. Die byna Lisenkoïstiese taalkundige, dr. Gerda Odendaal, is mos onlangs by die WAT aangestel, waar die taal van binne af gerysmier gaan word, net soos hy reeds van buite af gesensureer, onderdruk en gemarginaliseer is.
Wat die heer Robert Greig betref, het ek sy onsterflike woorde gerig aan mev. Samuel elders hier op Litnet aangehaal, ‘n klassieke stukkie Boerehaat wat sleg afsteek by sy huidige pleidooi vir Afrikaans:
“I suppose this is why, when Afrikaans writers get all steamed up — as Antjie Krog does — about ‘the land’, and equate being steamy about the land or ‘belonging’ with virtue, I want to gag. It’s foreign and seems spurious …
Play it is not, and at the risk of being impertinent, one of the reasons is that Krog is not interested in individuals. The Afrikaner nationalists, horrifyingly, spoke and acted as if human beings were only members of groups, with no inherent value or interest as individuals. Their view of the human being resembles that of the Stalinists, the fascists, the Nazis. (The African ubuntu notion that “a man is only a man in relation to others” at least makes the individual the subject of the sentence.)
Krog, on the evidence of this work, and parts of Country of my Skull, does not care much for individuals — her own psyche apart — except as representatives of a class or group. To that extent she is an Afrikaner nationalist waving a new flag. The authoritarian personality remains intact.”
Wel, daar het ons dit: mev. Samuel alias Antjie Krog is ‘n fascis! Net soos die res van ons: fasciste en Nazi’s almal. ‘n Mens kan amper simpatie vir haar kry, totdat jy onthou dat sy óók ten gunste van verengelsing is, die verstek-linkse standpunt in Suid-Afrika. Krog, Max du Preez, Piet Croucamp, Anton van Niekerk, selfs Neels Blom die hengelrubriekskrywer van Business Day wat in standerd sewe my koshuiskamermaat aan die Hoër Seunskool Helpmekaar was, is almal ten gunste van uitsluitlik Engelse kampusse vir almal. Die “nuwe lords” en ‘n “lady”, sou mens hulle kon noem.
As ‘n mens nou so onder die woordryke en dikwels pretensieuse boerka van professor Van Niekerk se epistel – ‘n betoog sou ek dit nie noem nie, weens die gebrek aan enige logiese samehang – inloer, sien ‘n mens die sentrale teenstrydigheid raak. Sy probeer ‘n apologie vir die taal of dan “veeltalige, anti-wit, antifa-, agnostiese, Moslem-Nie-standaardafrikaans” konstrueer, maar sonder om van haar sentrale marxistiese veronderstellings ontslae te raak. Ten minste is ons “fasciste” konsekwent: die taal is tegelyk vir ons ‘n estetiese kleinood à la Nietzsche en ‘n wesentlike deel van ons identiteit. Skakel die Wagner aan, of Mimi Coertse wat “Heimwee” in haar pragtige sopraanstem sing.
Daarteenoor is Marlene van Niekerk soos ‘n Sowjet-tenkbestuurder in Estland wat marxistiese internasionalisme op die singende, nasionalisties begeesterde skares tydens daardie land se “sangrevolusie” probeer afdwing. Omtrent al die voorbeelde van “minderheidstale” of -kulture wat sy opnoem, het al intense tydperke van nasionalisme beleef, soortgelyk aan Afrikaans tydens die twintigste eeu. “Elke vrou is lief vir ‘n fascis”, het Sylvia Plath gesê. Geen van die kleiner kulture het nog ooit oorleef sonder ‘n saambindende nasionalisme nie. Hier is ‘n kort YouTube-video oor die Estiese sangrevolusie:
In ‘n wesentlike sin teer elkeen van ons steeds op Afrikanernasionalisme. Daarsonder sou daar geen standaardtaal, geen letterkunde, geen tradisie gewees het nie.
Van Niekerk se stuk verbale vertoon vol logiese teenstrydighede is nie veel meer as ‘n prul nie. ‘n Ewe groot prul is haar Stellenbosse geesgenoot, Gerrit Olivier, se doktorale proefskrif waarin hy die argument uitmaak dat N.P. van Wyk Louw ‘n Nazi-simpatiseerder was. Dieselfde digter waarna Robert Creig op Engels verwys as “one of the great world poets”, was dus ‘n fascis, volgens die Stellenbosse kliek van kultuurmarxiste en “laat postmoderniste”. Hulle ontdek alles ‘n bietjie “laat”, selfs die taalstryd wat al twintig jaar lank woed.
Ironies genoeg is “nasionalistiese liedere” in Estland en ander Oosseestate aan die einde van die kommunistiese tydvak verbied, net soos Steve Hofmeyr en ander Afrikaners tans verbied word om C.J. Langenhoven se “Die Stem” te sing… Gaan die Groot Verseboek wat reeds onder André P. Brink se bedenklike polities korrekte smaak deurgeloop het, voortaan geheel en al van Langenhoven en ander patriotiese, dus “fascistiese”, digters gesuiwer word? Of is “Die Stem” op papier aanvaarbaar, mits dit nie gesing word nie? Daar is altyd soveel taboes en voorskrifte as die linkses regeer, nè? Amper soos ‘n godsdienstige owerheid, kardinale of ajatollas. Nietzsche het gewaarsku dat die mens op die troon van God geplaas sou word. Toe is dit nie die witmens nie, maar die swartmens. En wee jou as jy teen jou nuwe gode sou laster… Om nie van holokos-ontkenning te praat nie, dan is dit sommer reguit tronk toe met jou, ten minste in die voorbeeldige Duitsland.
Dieselfde mense wat Steve Hofmeyr wil vervolg omdat hy C.J. Langenhoven in die openbaar met musiekbegeleiding aanhaal, het op hul gewone histeriese stemtoon gegil dat “apartheidsontkenning” tot ‘n misdaad verklaar moet word. Dit sal ons nog ‘n tree verder op die pad na ‘n totalitêre samelewing plaas, waar jy nie meer rasioneel en onbevange oor die geskiedenis mag redeneer nie, maar bloot die neergelegde waarheid, die pensée unique, soos die Franse sê, klakkeloos moet herhaal.
Ek veronderstel as ‘n mens links is, lees jy net die een helfte van alle letterkunde, filosofie, biologie, noem maar op. Die negentiende eeu, die Romantiek, Céline, Ezra Pound, Van Wyk Louw, C.M. van den Heever, die hele vroeë tydvak van Afrikaans, dít alles is “fascisties” en dus verbode. Dink maar aan Van Melle se simpatieke uitbeelding van die Rebellie in Bart Nel. Die grootste deel van die Afrikaanse letterkunde, trouens, moet brandstapel toe, behalwe nou vir ‘n handjie vol skrywers wat hulle as genoegsaam links en anti-Afrikaner onderskei het. Die triomf van Triomf, want slegs uiters negatiewe en karikaturale voorstellings van die Afrikaner sal voortaan op skrif toegelaat word.
Die “fasciste” aan die ander kant, lees alles. Dit verbaas my altyd hoe min die nuwe geslag van “gereformeerde marxiste” – wat so glad die oorskakeling van Calvinisme na kommunisme gemaak het – van hul eie helde (Marx, Engels, Lenin, Lukács, Gramsci, ens.) af weet. Ek het al gedink ek kan begin geld verdien deur klasse in marxisme op die kampusse aan te bied vir diegene wat lyk my met die grondbegrippe sukkel en moontlik hul poste gaan verloor as hulle “uitgevang” word.
Op die gevaar af dat hierdie teks nog méér onpubliseerbaar gaan raak, as ons nou regtig na die regterkant van die intellektuele spektrum toe beweeg, het ek nou die dag ‘n fassinerende stukkie raakgelees in Alain de Benoist se Vu de droite (“Vanaf Regs gesien”) oor die “oorsprong van kommunisme”. Nog ‘n eienskap van fascistiese Frankryk is dat selfs liberale politici hulself geredelik as “regs” tipeer, terwyl “links” natuurlik vir sosialiste en kommuniste uitgehou word. Só anders as hier by ons in die “Demokratiese Republiek van Suid-Afrika”, die reïnkarnasie van die DDR, waar “regs” en “regses” so ‘n konnotasie van die ontoelaatbare en sensureerbare het, nie waar nie? Is daar enigiemand behalwe ‘n paar ou omies in die HNP wat die moed sou hê om te bely: “Ek is regs”? Ek twyfel.
Die Franse skryfster Elisabeth Lévy het ‘n soort negatiewe definisie gemunt deur te sê: “My enigste politieke identiteit is dat ek nie links is nie.” Wat seker ook kan beteken: “Ek is regs.” Dis seker ‘n skandelike erkenning, binne ons konteks, maar nie in haar land, die fascistiese Frankryk nie. Enigeen wat hom vandag aan ‘n SA universiteit as “regs” tipeer, sal seker net daar deur die veiligheidsdienste van die kampus af begelei word, met sy afdankingsbrief wat per e-pos sal volg.
Nietemin moet ons erken dat elkeen wat hom vir Afrikaans beywer, eintlik binne die groter prentjie wel “regs” is. Marx en Engels se Kommunistiese manifes eindig, soos ons weet, met die woorde: “Werkers van die wêreld, verenig u!” Die Suid-Afrikaanse Kommunisteparty het nog altyd die standpunt ingeneem dat Engels as internasionale taal al medium is waardeur stamgebondenheid en verdeeldheid in “die nasie” beveg kan word. Maar dit strek veel dieper as dit, as mens nou Alain de Benoist se opsomming van ‘n Franse boek uit die dertigerjare deur Gérard Walter lees. Dit heet Les origines du communisme.
Walter het later ‘n heel deeglike geskiedenis van die Franse Kommunistiese Party geskryf en het dus iets van die onderwerp af geweet, weereens só anders as ons “gereformeerde marxiste” wat hulle somaar deur die tydsgees laat meesleur. Volgens hom – en hou maar die vlugsout byderhand, want dit mag skokkend wees – het die kommunisme sy oorsprong in die Ou Testament en die Talmoed, dus in die Judaïsme, maar ook in sekere apokriewe Joodse én Christelike boeke.
Dwarsdeur dié geskrifte loop die gedagte dat die armes en eenvoudiges van gees die enigstes is wat guns in die oë van God vind, asook die idee dat daar wraak op die rykes in die hiernamaals gaan wees, “wanneer die laastes eerste gaan wees, en die eerstes laaste”. Dis maklik om te sien hoe kommunisme bloot die sekulêre toepassing van daardie “wraak van die armes” in die hier en nou kan wees.
Professor Van Niekerk spreek haar teen die idee van ‘n Christelike Afrikaanse universiteit uit, terwyl universiteite in die Middeleeue juis uit die kloosters ontstaan het. Maar haar hele argument en dweepsug met die “agtergeblewenes” en “voorheen benadeeldes” spreek van ‘n besliste links-kommunistiese inslag, wat terug te voer is na die oudste godsdienstige geskrifte. Ook haar afwys van privaatbesit (anargisme), tegnologie en kapitalisme – terwyl sy waarskynlik ‘n rekenaar met ‘n bedryfstelsel van Microsoft of Apple gebruik – behoort tot dieselfde oer-godsdienstige ideologie wat hom in die negentiende en twintigste eeue as die kommunisme gemanifesteer het. Nietzsche het dit baie mooi in Der Antichrist opgesom:
Was ist schlecht? Aber ich sage es schon: alles, was aus Schwäche, aus Neid, aus Rache stammt. – Der Anarchist und der Christ sind Einer Herkunft…
Swakheid, nyd, wraak… Ons het gesien hoe lyk die “wraak op die blankes” in Zimbabwe, en waartoe dit lei. (Hoewel, die New York Times se korrespondent in Suid-Afrika tot onlangs, Lydia Polgreen, het gedink dat Zimbabwe ‘n klinkende sukes is. Dis net “regse” vooroordeel wat ons laat dink dat Zimbabwe nie geslaag het nie.) Die wraak wat die linkse Afrikaner insgelyks teen die meer republikeinse, onafhanklikgesinde Afrikaner sedert 1994 gepleeg het, is nie minder verskriklik nie. Voeg daarby hul leedvermaak en bose verkneukeling in alles wat ons oorkom: verengelsing, verkragting, moord, vernedering deur naamsveranderings, uitsluiting uit die stelsel, sensuur, heksejagte, strawwe vir allerlei beuselagtige ideologiese oortredings…
Van Niekerk vind ook die “Afrikaner nationalist overtones of some of the advocacy groups extremely offensive”. Ek veronderstel die blote gebruik van die “A-woord” (Afrikaner) soos Fransi Phillips dit al genoem het, “gee aanstoot”. Ons moet verdwyn, oplos in die groot menigte van agtergeblewenes, self agtergeblewene word, na die model van haar argetipiese “Afrikanerfamilie” in Triomf.
Wel, ek het nuus vir u, professor Van Niekerk. Ons “mense van die Noorde” – en ek gebruik dit om sowel ons ligging hier in die PWV as ons afkoms vanuit Noord-Europa met ons Wes-Frankiese taal aan te dui – gaan nie verdwyn om dit vir u makliker te maak om by Kylie Thomas en haar plaaslike weergawe van die Amerikaanse Black Lives Matter-beweging te flikflooi nie. Ons gaan aanhou om onverbiddellike Standaardafrikaans te praat en te skryf. Ons gaan nie die riel dans nie. Miskien sal ons volkspele doen, met ons tradisionele drag wat insgelyks aansluit by soveel ander volkere in Noord-Europa, nasies waar daar besig is om ‘n herontwaking plaas te vind en wat hulle nie langer deur aardig besoldigde, globalistiese burokrate in Brussel laat oorheers nie.
Dink ook daaraan dat ons u politieke korrektheid, u oerlinkse en onnosele konformisme, asook u ellendige gekruip by die jeugmilisie van die EFF, die sogenaamde “Student Command” op die kampusse, ewe aanstootlik vind. U en die NP-Broederbond is vinkel en koljander; u dislojaliteit en verraad is van dieselfde gehalte.
Ons droom daarvan dat die kampusse van alle vyandelike kultuurmarxiste gesuiwer sal word. Ons is siek en sat vir die gedweep en gesanik oor apartheid wat vergeleke met die 500 000 gewelddadige sterftes en die vyf miljoen aan Mbeki se “alternatiewe vigshipotese” sedert 1994 ‘n vulletjie was. Om nie te praat van die astronomiese bedrae wat verduister of gewoon gesteel is nie. Totdat ‘n wet gemaak word om “apartheidsontkenning” strafbaar te maak, sal ons dit sê. En miskien selfs daarna, vanuit ons tronkselle, terwyl ons Solsjinitsin en Arthur Koestler lees.
‘n Mens wonder: Waarom kan al die anti-blanke en anti-Afrikaanse revolusionêre nie bloot die Limpopo oorsteek en hul in die bevryde Zimbabwe gaan uitleef nie? As die utopie bevry van koloniale, rassistiese blanke invloed reeds bestaan, waarom nog talm? Waarom doseer Achille Mbembe by Wits te Jan Smutslaan 1, Milnerpark, en nie aan die Universiteit van Harare nie? Een van daardie Smutsskilderye wat deur die “progressiewe” studente aan die Universiteit van Kaapstad aan die brand gesteek is, was mooi en het ongeag die man se status as Boeregeneraal wat koloniale agterryer geword het, verdien om vir die nageslag bewaar te word. Maar Max Price het net sy handjies gewring en die “nuwe intellektuele” toegelaat om hul gang te gaan.
Daar word reeds ‘n streng soort “apartheid” tussen Regs en Links in Suid-Afrika en onder Afrikaners gehandhaaf, daarvoor sorg die linkse uitsluiting, sensuur en aggressiewe onverdraagsaamheid, amper ‘n soort gebiedshandhawing. Ons bevind ons in twee kampe; dalk praat ons binnekort soos die Serwiërs en Kroate twee verskillende tale: Kaaps en Afrikaans. Waarom nie maar in twee aparte lande woon nie, soos Serwië en Kroasië of die twee Koreas? Of die voormalige BRD en DDR? ‘n Linkse Zimbabwe en ‘n regse Suid-Afrika, siende dat elke hektaar van dié “wye en droewe land” onherroeplik en onherstelbaar deur apartheid vergiftig of beskadig is… Dit was so min of meer my insig in Moltrein: dat Suid-Afrika vir altyd deur apartheid, soos deur radioaktiwiteit, besmet is. Dis nie ‘n politieke probleem nie, maar veel erger: ‘n semantiese probleem. Ons hou daarvan hier, in ons besmette land met al sy besmette Afrikaanse name, boerewors, koeksisters, melktert, vellies (ek besit twee pare en dra dit met perverse genoegdoening; dalk word ek binnekort gearresteer vir my “rassistiese skoene”), ons fascistiese digters en skrywers uit die bose verlede, alles dinge wat aan u “aanstoot gee”.
U het die Afrikaanse tradisie afgesweer en dit vir ‘n papiersakkie gemorskos uit die VSA verruil: feminisme, “witheid”, die blanke man as boosdoener, metafisiese rassisme in al sy gedaantes, die hele vervelige, voorspelbare litanie.
Ek hou daarvan dat u u in Engels uitdruk. Doe zo voort. Mev. Samuel het reeds die wonderskone van Engels ontdek; hoekom het dit u so lank geneem? Om van u ressentiment teen alles vanaf 6 April 1652 tot nou toe ontslae te wees, is reeds vir Afrikaans ‘n besondere aanwins.
Skoppensboer het ook vandeesweek mit gespannter Aufmerksamkeit die nuwe reëls in ons agbare howe gadegeslaan. Reël nommer 1, subartikel (a) is: Bring jou pop saam. Subartikel (b) van dieselfde reël bepaal: Trek loslit aan en laat jou pop met sy skoene op die bank sit. Of verkieslik op Edelagbare se skoot.
Reël 2 is: Maak die landdros ‘n figurant in jou poppespel en kry die media om dit alles op video vas te lê. Reël 3 is: Enige uitspraak van die Algemene Vergadering van die Verenigde Nasies het regskrag in ‘n Suid-Afrikaanse Hof, veral as Zimbabwe daarvoor gestem het. En dan reël 4: Enigiets is toelaatbaar, solank jy nie “apartheidsontkenning” of “holocaust-ontkenning” pleeg nie.
Ons weet dat moord en verkragting reeds lankal in ons land “gedekriminaliseer” is. Jy mag dit ook maar onder die invloed van drank of dagga pleeg, mits jy nie agterna ‘n motor bestuur nie. Of liewer: mits jy nie agterna ‘n motor bestuur en nie R200 by jou het om die metropolisieman wat jou mag voorkeer, mee om te koop nie.
Diefstal, maar veral diefstal uit die staatskas, is nie net toelaatbaar nie; dis verpligtend. Daar bestaan ‘n hele alfabetsop van eufemistiese terme daarvoor, soos BEE, BBEE, SEB, AA, RA, en wat nog. Die enigste vorm van entrepreneurskap is tenderpreneurskap.
Omdat Skoppensboer nie ‘n dief of tenderpreneur is nie, roem hy hom allermins as “varkwagter by die nuwe bedeling”, soos oorle Izak de Villiers in ‘n toespraak voor die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns op Potjiesdorp geseg het.
Dat die bedeling egter oor al hoe meer varkwagters beskik, is gewis. In ou Rome, waar ons Romeins-Hollandse reg vandaan kom, was dit ‘n belediging om vullis voor jou buurman se huis te gooi en kon hy jou daarvoor dagvaar. In die Kaap smyt hulle sommer ontlasting voor die provinsiale parlement! Baie onromeins, maar tog “proudly South African”, soos dit deesdae op Ingels heet.
O tempora o mores! het Cicero gesê, as dit nou nie ‘n flagrant regse aanhaling is nie.
Media24, wat al die grootste Afrikaanse dagblaaie ter wêreld besit, is skaam vir Afrikaans, maar trots Suid-Afrikaans. Daarom ook trotse varkwagters wat enige varksigheid met geesdrif omhels.
Nogtans is Skoppensboer ‘n tikkie verras deur die jongste aankondiging dat Media24 die Mandy Rossouw-kleinhuisieprys aan Conrad Koch, alias Missing Jester* toegeken het.
Mnr. Wim du Minus, adjunkopperhoof van Media24, het in die blaaie van sy groep met trots vermeld:
“As vurige varkwagters by hierdie wonderlike bedeling, kan ons nie anders as om joernalistieke talent te vereer waar ons dit raaksien nie. Naas ons Legends-pryse loof ons natuurlik jaarliks die Mandy Rossouw-prys vir politieke joernalistiek uit. Persoonlik verstaan ek maar alte goed dat alle politiek om die kleinhuisie en verskeie p- en k-woorde draai, want ek is trots om te sê dat ek in die huis van ‘n nagwadrywer op Klerksdorp grootgeword het. My pa was die ruggraat van die emmerstelsel in Klerksdorp, en dit was nie die bodorp nie. Daarom, terwyl ons Conrad Koch vir sy voortreflike bydrae tot politieke joernalistiek bekroon, wysig ons terselfdertyd die titel van die prys effens na die Mandy Rossouw-kleinhuisieprys. Komende ná die toekenning van ‘n toiletprys deur Ahmed Kathrada, die Rivonia-veteraan, aan die nimlike mnr. Conrad Koch, het ons gevoel Media24 mag nie agterbly nie. Die stroom sal ons volg, is immers ons maatskappyleuse.”
In sy commendatio tydens die oorhandiging van die prys het mnr. Du Minus in ‘n gebrabbel van Kaaps, toiletterme en ge-Kochel (‘n neologisme wat vandeesweek deur die subredakteurs van Netwerk24 gemunt is) verval, wat soos volg in die gehate apartheidstaal, Standaardafrikaans, oorgesit kan word:
“Die heer Conrad Koch en sy sjarmante klein gekleurde Doppelgängertjie, die Missing Jester, het iets nuuts na hierdie bedeling se politieke kommentaar gebring: die toilet in al haar praal en glorie. Vir almal van ons wat nie Latyn op skool gehad het nie, maar net Lewensoriëntering, Wiskundige Geletterdheid en Engels Derde Addisionele Taal, verseker hy met sy stortvloed vloeke en skatologiese geswets dat ons demokrasie tot ‘n vlak verlaag word waar selfs ons Media24-varkwagters dit kan verstaan. Hoe laer alles in Suid-Afrika daal, hoe beter. Telkens as ek verby die informele nedersettings van ons medeburgers ry, sien ek naas die wonderskone inheemse argitektuur, die simbool van die Nuwe Suid-Afrika: die tydelike toilet wat my aan die edele beroep van my vader herinner. Watersuiwering was, nes Afrikanerregering, ‘n misdaad teen die mensdom! So eie aan apartheid. Laat alle riool in die riviere en spruite instroom, en alle vuilspuite soos mnr. Koch in opstand kom teen die laaste oorblyfselfs van logika en Latyn in ons samelewing! Laat die actio iniuriarum vergaan en in die plek daarvan die Kaapse papsak of emmer vol menslike ontlasting oor ons openbare debat gesprinkel word!”
Mnr. Du Minus, wat soms president Zuma vir Nkandla en sy poligamie kwalik neem, het by die glansgeleentheid met ‘n aansienlike aantal minnaresse en bywywe opgedaag wat een en almal op die betaalstaat van Media24 verkeer. “Die verskil tussen my en Zuma is,” het hy eenmaal met ‘n skewe glimlag beken, “ek trou nie met hulle nie. Die huwelik is ‘n uitgediende instelling.” Met trots het hy bygevoeg: “Ek het ook my kinders Engels grootgemaak, en nie Afrikaans nie, anders as Jacob Zuma wie se kroos steeds Zoeloe praat.”
Tiekie van den Berg, die aanlynradio-omroeper van Netwerk24, het popelend by die prysuitdeling gesê: “Ek bewonder Conrad Koch vir sy vernuftige gebruik van die c- en die f-woord in Engels. Maar die hoogtepunt vir my was toe hy gesê het dat Steve Hofmeyr ‘n vuilsiekte het. Dis politieke kommentaar uit die boonste rakke wat ons hier by Media24 nog moet bereik. Maar ons probeer hard.”
Me. Feral Haveapee van die Pity Press-koerant in die Media24-stal het insgelyks in ‘n ontwerperstabberd “kleur” aan die geleentheid verleen. “Ek is so bly dat Missing Jester sy broeklosmaakveldtog as rubriekskrywer in Pity Press kan voortsit. Hoe meer mense hy van vuilsiekte beskuldig, hoe beter vir die demokrasie.”
Mnr. Adderjan Pasop, die redakteur van ‘n Johannesburgse dagblad het insgelyks ‘n Legends-prys vir sy ondersoekende joernalistiek na nazisme op die Potchefstroom-kampus van die Noordwes-universiteit ontvang. Gevra watter duistere regse geheime hy tans ontsyfer, was hy aanvanklik ontwykend. Maar ná enkele dubbelsopies brandewyn en Fanta-lemoen, het hy teenoor Skoppensboer beken: “Man, ons ondersoek nou die Wits-Nazi’s.”
“Allawêreld!” roep Skoppensboer toe uit. “Ek het net geweet van die Potch-Nazi’s. Is daar nou Wits-Nazi’s ook?”
“Ja,” seg Adderjan. “Daar wás eens ‘n hele klomp liederlike Nazi’s by Wits wat in die departemente Afrikaans en Latyn saamgetrek was. Dit was voor die Revolusie en voor Romeins-Hollandse reg deur Zimbabwiese common law in ons land vervang is.”
“Wanneer was dit?” vra Skoppensboer toe.
“Man, dit was doer in die sewentiger- en tagtigerjare. Van die Nazi-taalkundiges daar het beweer Afrikaans is ‘n Wes-Germaanse taal wat aan Nederlands verwant is en nie ‘n Khoi-San-taal nie. Kan jy glo dat enigeen so ‘n rassistiese teorie kan verkondig? ‘n Mens sidder net by die gedagte!”
“Ja, ek kan sien dit kan jou tronkstraf besorg as jy nie versigtig is nie. Dis amper so erg soos die K-woord, ek bedoel nou die een wat nie met die toilet te maak het nie… Maar gelukkig is Wits se Afrikaanse departement darem nou afgeskaf, deur die toedoen van ‘n Stalinbos-intellektueel.”
“Juistement,” beaam Adderjan Pasop, in sy jeans en oopslaanhemp, ietwat ongeskeer. “Dit eindig egter nie daar nie. Daar was ‘n departement van klassieke tale ook by Wits waar Latyn en Grieks gedoseer is, onder andere aan regstudente. Daar was twee verregse Jode in die departement waarvan een ‘n boek ter verdediging van apartheid en blanke regering in Suid-Afrika geskryf het, South Africa after Vorster, en ‘n ander ‘n meer onlangse boek teen rasstellende aksie waarin hy ook na rasverskille in IK verwys…”
“Maar dis absoluut skokkend!” snak Skoppensboer na sy asem. “Ek hoop hulle het die doodstraf gekry, voor hy nog afgeskaf is.”
“Ongelukkig lewe albei nog,” sug Adderjan. “Een woon in Londen waar hy as advokaat praktiseer en die ander het hier in Johannesburg afgetree waar hy af en toe vir verregse Amerikaanse webwerwe artikels skryf.”
“Kan jy nou meer…” merk Skoppensboer op. “Maar Wits het darem seker die departement van klassieke tale afgeskaf, nie waar nie? ‘n Mens kan nie toelaat dat Latynse spreuke ons land en ons regstelsel verder besoedel nie.”
“O ja,” sê Adderjan. “En dis nie al nie. Ons het Dan Roodt se akademiese rekords nagegaan en uitgevind hy was in albei departemente geregistreer: Afrikaans en klassieke tale. Dit verklaar waarom hy skielik as kampvegter vir Romeins-Hollandse reg ontpop.”
“Soos Ulpianus gesê het: ‘die voorskrifte van die reg is die volgende: om deugsaam te lewe, ‘n ander nie te benadeel nie en aan iedereen te gee wat hom toekom’,” haal Skoppensboer die lang vergete spreuk aan, gelukkig nie op Latyn nie, anders was hy nou in die tjoekie vir apartheidsontkenning, fascisme of ‘n ander misdryf soos dit deesdae deur Conrad Koch en sy pop “bereg” word.
Adderjan het hom egter genoegsaam aan dubbel-Richelieus en Fanta vergryp om nie agter te kom dat Skoppensboer self uit bedenklike bronne aanhaal nie. Hy gaan voort: “Dis waarom ons nou by Media24 besluit het om die hele slopemmer oor Dan Roodt, wat as handlanger vir Steve Hofmeyr optree, om te keer. Soos Karen Zoid gesê het, ‘Roodt rym met idioot’. Hy is gevaarlik dom en ons weet almal wat dom is, is regs. Ons behoort hulle almal in konsentrasiekampe te sit of daardie Sowjetstrafkampe waar hulle jou sommer op ‘n hongerdieet laat aanhou werk het tot jy dood neerslaan. Wat was die goed se naam nou weer?”
“Goelags,” help Skoppensboer hom met dié brokkie inligting. “Dit klink asof Media24 waarlikwaar die Revolusie omhels het. Maar sê my, ek is nuuskierig oor Conrad Koch se contubernium, sy regspan van agt, waaronder twee advokate, asook ses prokureurs en klerke, wat by die Randburgse Landdroshof opgedaag het om ‘n amateur- regsvrywilliger soos Roodt aan te durf?”
“Wat is ‘n contubernium? Is jy dalk ook ‘n regse, dat jy soveel Latynse terme ken?”
“O nee!” skerm Skoppensboer. “Ek is net te veel deur apartheidsonderwys beskadig, dink ek. En verder kyk ek maar goeters op Wikipedia op. ‘n Contubernium was ‘n groep van agt Romeinse soldate, wat deur ‘n decanus aangevoer is. Tien sulkes het ‘n centuria opgemaak en agt van hulle weer ‘n kohort (480) en nege kohorte ‘n legioen.”
“Jy beter pasop, jong, netnou begin ons oor jóú ook skryf. Ons moet die rassiste en die kenners van klassieke tale met wortel en tak uitroei,” sê Adderjan dreigend.
“Ek sal beslis in my pasoppens bly,” antwoord Skoppensboer deemoedig. “Maar die advokaat van die poppespeler, mnr. Budlender, ek hoor sy pa was ‘n grootkop in NUSAS by Ikeys in die donker dae van apartheid, nie waar nie?”
“Dis waar ja,” sê Adderjan. “Ons is veral dankbaar teenoor almal wat destyds so hard teen apartheid gestry het, soos mnre Joe Slovo, Ronnie Kasrils, Ruth First, Ahmed Kathrada, Billy Nair, Denis Goldberg, Lionel “Rusty” Bernstein, Bob Hepple, Arthur Goldreich, Harold Wolpe, Jimmy Kantor, Helen Suzman en nog vele ander.”
“Dis nogal opvallend dat hulle nou nie juis tot die swart meerderheid behoort het nie, nè? Behalwe vir Mandela, wat deur die firma Witkin, Sidelsky en Eidelman as prokureursklerk in diens geneem is, ‘n paar wit base wat hom seker op die regte pad gehou het, met Das Kapital en die Ou Testament en so aan,” meen Skoppensboer.
“Ja, ek sien wat jy bedoel,” sê Adderjan. “Maar die Bybel sê mos die Jode is die uitverkore volk en wie is ons om daaroor te stry? Die Jode en die Xhosas, want hulle kry mos albei sulke operasietjies op verskillende stadia in hul lewens.”
“Ai, ai, ai,” sê Skoppensboer. “Ek sal nou maar liewer stilbly, want netnou sê ek iets Freudiaans. Miskien moet ons liewer weer politiek, ek bedoel toilet, praat. Ek sien een van die Rivonia-aangeklaagdes, Arthur Goldreich, het agterna in Israel gaan aftree en is daar oorlede. Wat is Media24 se redaksionele beleid sover dit Israel aanbetref?”
“Kyk,” sê Adderjan, “uit dankbaarheid teenoor die Joodse gemeenskap wat ons blanke Afrikaners óók van apartheid bevry het en vir ons die toilettokrasie gebring het, sal ons nooit enige kritiek teen Israel uitspreek nie. Ons het die allergrootste agting vir die Israelse boubedryf, onder andere. Weet jy dat hulle die Duitsers oortref het en ‘n veel langer en hoër muur as die Berlynse Muur tussen hulle en die Palestyne gebou het? Die Berlynse Muur was ‘n Mercedes; die Israelse Muur is ‘n Meibach of ‘n Rolls-Royce!”
Adderjan is nou duidelik begeester en ruk ‘n ietwat verfomfaaide skets uit sy sak en druk dit terstond onder my neus, met die woorde: “Kyk nou daar! Is dit nie ingenieurswerk nie?”
Hy sit sy betoog voort, selfs sonder betooghoofde van senior advokaat Steven Budlender: “723 kilometer lank: die volmaakte skeiding tussen twee volkere! Nie net bly die Israeli’s rassuiwer nie, hulle bly ook godsdienssuiwer. Die vroue dra sulke hoofbedekkings en is feministies onderdanig aan hul gades, net soos al ons feminazi’s in Skewe-Beeld elke dag bepleit. Weet jy wat was vir my die mooiste van my besoek aan Jerusalem?”
“Uhm, nee,” sê Skoppensboer. “Wat?”
“My besoek aan die Klaagmuur! Dit was vir my pragtig dat die mans en die vroue so apart van mekaar gebid het, elkeen met sy eie stukkie van die Klaagmuur. So anders as ons Afrikaners met ons primitiewe Calvinisme wat saam-saam in die kerk na die dominee sit en luister. Dis dié dat ek vir Piet Kopdoek, George Claassen en al die ander ateïste vrye teuels gee om die God van die Afrikaner sommer ook met die toiletemmer te gooi. Ons is Hom nie waardig nie.”
“Dis die beste argument vir ateïsme wat ek nog gehoor het,” sê Skoppensboer droogweg. “Nie eens Piet Kopdoek sou so iets kon uitdink nie. Dis… geniaal!”
“Ja,” sê Adderjan. “Soos André P. Brink gesê het, ons volk verdien nie om voort te bestaan nie. Was dit maar ons wat by Auschwitz omgekom het! Dan was daar nooit apartheid nie! Dan is die wêreld ‘n misdaad teen die mensdom gespaar!”
Die vermaarde joernalis en wenner van die Legends-prys vir ondersoekende joernalistiek wat so gereeld die nazisme in sy Potchefstroomse uithoeke uitsnuffel, bars eensklaps in trane uit. Eers bêre hy sorgvuldig sy skets van die Israelse muur in een van sy jeans-sakke en haal dan ‘n snesie uit die ander.
“Ek raak baie onsteld as ek oor apartheid praat,” sê hy verskonend, alvorens hy sy neus snuit. As hy tot bedaring kom, vervolg hy: “Dis waarom ek vir Virginia Keppler aangesê het om daardie ope brief aan Steve Hofmeyr te skryf, dat hy kan besef hoe verskriklik die verlede was. Eintlik het die stryd teen apartheid nog nie opgehou nie. Dit was nie genoeg om die Groepsgebiedewet af te skaf nie. Ons moet ook die groepsgebied in ons koppe afskaf. Solank as wat Steve Hofmeyr Die Stem sing, gaan dit nie gebeur nie. Ons moet weer sáám met die Rivonia-aangeklaagdes hierdie geestelike apartheid beveg totdat daar niks meer daarvan oorbly nie. Die enigste goeie ding wat Paul Kruger gedoen het, was om 40 000 Lithause Jode toe te laat om na die Transvaalse Goudveld te kom. Sodoende het hy darem vir ons leiersmateriaal verseker, want self is ons te ingeteel en primitief om te weet wat vir ons goed is. Lees maar Marlene van Niekerk se roman Triomf waarin die Afrikaner in al sy verstandelik vertraagde bloedskande ontbloot staan. As Stalinbosse intellektueel het sy al genoeg werke van die Frankfurtse Skool van Adorno, Marcuse en Horkheimer ingeadem om die Afrikaner se outoritêre kultuur in al sy agterlikheid te deurgrond.”
“Ek sien,” sê Skoppensboer. “En soos die skrywers van The Bell Curve aangetoon het, beskik die Asjkenazi-Jode oor ‘n hoër gemiddelde IK as die gewone blanke of Triomf-bewoner, nie waar nie?”
“Presies,” sê Adderjan. “Dit strek mnr. FW de Klerk tot eer dat hy voor ‘n hoër wese soos mnr. Joe Slovo, gebore Yossel Mashel Slovo in Lithaue, gebuig het. Maar ons by Media24 het die lig gesien. Nie net buig ons voor ons meerderes nie, maar ons buig veral voor Conrad Koch se pop!”
“Dieselfde pop wat Dan Roodt vandeesweek onteer het deur hom aan te raak?” por Skoppensboer hom aan.
“Ja,” antwoord Adderjan, met sy oë wat van begeestering glinster. “Hoe durf hy, wat onrein is, daardie Heilige Simbool aanraak? Hoe durf hy?”
“Kom ons drink op die toekoms sonder Steve Hofmeyr,” sê Skoppensboer en lig sy glasie wyn wat uit ‘n Kaapse bottel met ‘n Engelse etiket kom. “L’chaim**.”
“L’chaim,” beaam Adderjan en teug aan sy soveelste Richelieu-en-fanta.
* So genoem vanweë die afwesigheid van enige humor – Skoppensboer.
** “Aan die lewe” in Hebreeus as enige leser nie daarvan bewus is nie – Skoppensboer. Sien ook onderstaande videogreep uit die klassieke film met John Wayne en Kirk Douglas, Cast A Giant Shadow.
Triomf is die storie van 'n gesin armblankes, die Benades, van die woonbuurt Triomf, die voormalige Sophiatown. Dit speel kort voor die 1994-verkiesings in Suid-Afrika af. Die Benades is uit en uit ploerte, en skokkende gebeure vind in die huishouding plaas. Later in die boek word die familie se groot en skandelike geheim onthul. Die Benades se vrees vir die nagevolge van 27 April 1994, wanneer diegene waarna die Benades as "kaffers" verwys, die land in chaos sou dompel, word deurlopend as belaglik en agterlik afgemaak.
Die rolprent is die werk van die Zimbabwiese rolprentmaker, Michael Raeburn. Raeburn het tydens sy inleidende toespraak by die rolprent se voorskou te Montecasino, natuurlik die gewone snert gebesig oor hoe alle Suid-Afrikaners bevry is deur die 1994-verkiesings, blankes inkluis. Dit het my maak wonder waarom Mnr Raeburn, wat so 'n hekel aan 'n blanke regering het, nie sy kuns in Harare beoefen nie. Suid-Afrika het steeds oorblyfsels van daardie gehate vorige regering, soos 'n indrukwekkende padnetwerk en elektrisiteit wat dan en wan aangeskakel word. Zimbabwe is tog veel meer van 'n verteenwoordigende swart land, iets waaroor Mnr Raeburn so gejuig en jubel het in 1994. Waarom nie daar, in 'n Afrika-paradys, gaan rolprente maak nie?
Een van die groot temas in die boek is dat blankes deur 'n swart bewind bevry is, en dat die blanke vrese van destyds eintlik belaglik was: "Kyk, daai dom Afrikaners gaar blikkieskos op. Ha-ha-ha!" Die Benade-gesin, wat bestaan uit ingeteelde verstandelik gestremdes, voer hierdie vrees natuurlik tot belaglike uiterstes.
Raeburn, synde 'n Zimbawiër wat geen snars Afrikaans verstaan nie, het egter geen gevoel vir die meer subtiele anti-Afrikaanse momente in die boek nie, en die feit dat hy die agterlike Benades se politieke oortuigings as die belangrike element aanbied in ons huidige konteks, veroorsaak dat die toeskouer langsamerhand gedwing word om die karakters as byna simpatiek te ervaar ten spyte van hulle erge tekortkominge. Die regisseur, te oordeel aan sy insiglose toesprakie, is salig onbewus van hierdie skryende ironie wat hy deur sy eie gebreke geskep het.
Een van die karakters in die boek en die rolprent, Lambert, koop op 'n stadium onwettig 'n rewolwer by 'n swartman, vir wanneer dinge handuit ruk in Suid-Afrika. Dit was miskien op 26 April 1994 vir liberaalgesindes 'n onsinnige vrees en Lambert is 'n objek van hoon en spot in beide die boek en die rolprent, maar 14 jaar en 30 000 dooie blankes later, is dit duidelik dat Lambert se een politieke daad niks indien nie rasioneel was nie, gegewe die misdaadsyfer.
So ook wil die Benades na 'n ongenoemde bestemming iewers in die noorde vlug omdat dinge na hulle mening gaan warm word vir blankes in Suid-Afrika. Komies dat hierdie Afrikaner-gestremdes so dom kan wees, nie waar nie?
Sedert 1994 het daar egter reeds meer as 'n miljoen blankes presies dit gedoen. Dinge hét warm geword vir blankes met swart ekonomiese bemagtiging, misdaad en regstellende aksie wat menige blanke sy tasse laat pak het en na die noordelike halfrond maak vlug het. Professor Lawrence Schlemmer bereken dat een uit elke tien blankes deesdae te arm is om in 'n tradisioneel-blanke buurt te woon, grootliks as gevolg van swart rassisme teenoor blankes, vergestalt in praktyke soos regstellende aksie. Was die Benades se vrese wel so onrealisties en belaglik, 14 jaar later?
Die ander tipies linkse tema in die verhaal is: Blankes is ploerte, hulle pleeg grafiese bloedskande, steel, lieg en is minder beskaafd as 'n swart plakker. Daar is waarskynlik sulke blankes, maar dit was egter nóg in 1994, nóg in 1974, en veral nie in 1930 nuus vir enige iemand nie. Trouens, van Niekerk is nie baie oorspronklik met haar tipering van sulke Afrikaners nie. In 1991 reeds het die stukke beter geskryfde /Beertjie en sy boytjies/ uit die pen van RR Ryger by Taurus-uitgewery verskyn wat Afrikaanse ploertskap na nuwe hoogtes geneem het. /Triomf/ het eers drie jaar later in 1994 die lig gesien.
Waar van Niekerk elke moontlike verskoning gebruik om Afrikaners in haar boek by te kom, het die regisseur Raeburn egter 'n film gemaak wat alle blankes verguis. Die rolprentweergawe is dus nie soseer anti-Afrikaans as anti-blank nie. Waarskynlik sonder dat die regisseur dit bedoel het, is veral Mol, die moeder, 'n verpersoonliking van 'n Engelse ploert omdat die aktrise se Afrikaans eenvoudig nie goed genoeg is om haar karakter oortuigend te speel nie.
Tewens, die spel in die film is oor die algemeen maar gemiddeld. Treppie, Lambert se pa/broer, is 'n ewe onoortuigende agterstraat Afrikaner. Sy gesigsuitdrukkings en hebbelikhede herinner ook te sterk aan die van 'n rowwe Rooinek en hy praat ook deurentyd soos sy moeder Mol, Afrikaans met 'n effense Engelse aksent.
Die rolprent word dus gereduseer tot 'n reeks tonele waarin onderskeidelik bloedskande gepleeg word, meer gesofistikeerde kleurlinge se vleisbraai ontwrig word, vreeslik gesofistikeerde lesbiërs oorkant die straat gedwing word om te verhuis, en die armsalige verafrikaansde Engelse gesinnetjie nie weet hoe om in 'n Spur op te tree nie. Kortom 'n namaaksel van die rolprent The Beverly Hillbillies in Afrikaans, met meer kru tonele as die Amerikaanse weergawe.
As vuil taal, bloedskande, en armblankes van Engelse oorsprong jou amuseer, gaan kyk die rolprent gerus. Indien nie, sou ek eerder Pixar se satire op vetsugtige Amerikaners, Wall-e, aanbeveel. Minstens kan die hele gesin laasgenoemde geniet.