Die dodetal in gisteraand se terreuraanval in Nice, Frankryk, het intussen gestyg tot 84 mense, met ‘n verdere 18 wat in ‘n “uiters ernstige toestand verkeer”, volgens die jongste inligting van die Franse ministerie van binnelandse sake wat ook vir veiligheid verantwoordelik is. Die vorige syfer wat vrygestel is, was ten minste 80 mense dood, waaronder ook kinders. Daar bestaan ook 50 “lig beseerdes” en 120 ander mense wat “geraak” is, wat in ‘n skoktoestand verkeer en deur die nooddienste behandel word, het ‘n woordvoerder van die ministerie, Pierre-Henry Brandet, gesê.
Tydens die aanval deur ‘n Franse Tunisiër omstreeks elfuur gisteraand tydens die Bastille-dagvieringe in die kusstad Nice, het hy ‘n groot wit vragmotor in ‘n skare in die strandgebied ingery, asook op hulle losgebrand met ‘n outomatiese wapen. Die aanvaller is kort daarna deur die polisie doodgeskiet. Frankryk verkeer steeds in ‘n noodtoestand ná die terreuraanval verlede jaar op 13 November toe 89 mense in die Bataclan-teater in Parys deur Moslem-terroriste gedood is. In ‘n TV-uitsending in die vroeë oggendure het Frankryk se ongewilde Sosialistiese President, François Hollande, bevestig dat die Nice-voorval as ‘n “terreurdaad” beskou word, asook aangekondig dat die noodtoestand in die land met ‘n verdere drie maande verleng word.
In die VSA het Donald Trump in sy reaksie op die gebeure in Frankryk vir Barack Obama daarvan beskuldig dat hy nie wil erken dat “radikale Islamitiese terreur” vandag ‘n groot probleem is nie.