Die groot ironie: Max Price kanselleer meningsvryheid-lesing by UK

Deel op

Die ironie kan nie groter wees nie. ‘n Spreker wat uitgenooi is om die jaarlikse akademiese meningsvryheidlesing aan die Universiteit van Kaapstad (UK) te lewer, is verhinder deur die Universiteit se Uitvoerende Raad.

NUUT!

In Maart 2015 het die die Universiteit van Kaapstad se komitee besluit om Flemming Rose (foto hierbo), ‘n prominente aktivis vir die vryheid van uitdrukking, uit te nooi om die 2016 T.B. Davie-gedenklesing op 11 Augustus aan te bied.

As die kultuurredakteur van die Deense koerant, die Jyllands-Posten, het Rose in September 2005 ‘n paar tekeninge en spotprente gepubliseer wat die profeet Mohammed uitbeeld. Die doel van hierdie oefening was om die mate waarin kunstenaars self-sensuur toepas, te belig.

Max Price, die “progressiewe” visekanselier, verbete multikulturalis en nou sensor, het sy besluit verdedig en gesê Rose se teenwoordigheid sal die kampus “verdeel” en “geweld” veroorsaak.

Die kampus is reeds verdeel, oor allerlei kwessies, veral oor ras en meningsvryheid. Maar Price kan sulke sensuur met gemak toepas omdat die mense wat nie saamstem met hom oor hierdie aangeleentheid nie, onwaarskynlik ‘n verwoestende brand sal veroorsaak.

Die tweede rede wat Price aanvoer, naamlik “sekuriteit”, is sy eie maaksel.

Indien geweld uitbreek op die kampus van UK oor Rose se besoek, is dit Max Price wat self daarvoor verantwoordelik sal wees want hy het al die elemente ingenooi en aangemoedig om onverdraagsaam op te tree.

Maar dit het almal reeds geweet.

Universiteite gaan eersdaag tewens verplig wees om personeel af te dank en begrotings in te kort indien daar nie teen die einde van die jaar ‘n volhoubare oplossing is vir studente se eise vir gratis onderwys nie.

Universiteite Suid-Afrika, ‘n organisasie wat al 26 universiteite in die land verteenwoordig, sê al die instellings is onder geweldige finansiële druk.

Die uitvoerende hoof, Ahmed Bawa, het gewaarsku dat universiteite nie nog ‘n jaar só sal kan voortbestaan sonder om fooie te verhoog nie.

Hy het verwys na die Universiteit van Kaapstad wat sy personeelbegroting met 100 miljoen rand wil probeer besnoei, omdat hy wyses moet vind om volhoubaar te bly.

Die regering het geen verhoging vir vanjaar ingestel nie ná wydverspreide studentebetogings verlede jaar.

Universiteite SA sê die Universiteit van Rhodes, wat onlangs in die nuus was oor sy finansiële probleme, is nie die enigste universiteit nie.

‘n Polemiek woed intussen, aangesien die hoof van die Dept. Filosofie aan die UK, David Benatar, intussen skerp kritiek teen Price se besluit op Politicsweb uitgespreek het.

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.