François Fillon is gisteroggend aangewys as president Nicolas Sarkozy se nuwe eerste minister. Hy is 53 jaar oud en ’n voormalige parlementslid vir die Sarthe-streek in Frankryk. Fillon het oorgeneem by Dominique de Villepin, wat die pos 23 maande lank beklee het.
Die keuse het nie as ’n verrassing gekom nie. Fillon is al geruime tyd werksaam as politieke raadgewer vir Sarkozy en het ’n sleutelrol tydens die pas afgelope verkiesingsveldtog gespeel. Sy naam het dadelik die rondte begin doen toe Nicolas Sarkozy, kandidaat vir die regse UMP, op 6 Mei met 53% van die stemme as die nuwe Franse president aangewys is. Sarkozy se voorganger, Jacques Chirac, het die pos twaalf jaar lank beklee.
