AOB vergader in Shanghai

Nadat die Afrika Ontwikkelingsbank 13 Afrikalande se skuld van ongeveer 50 miljard Rand onlangs afgeskryf het om as voorbeeld te dien vir skenkerlande, het die Bank vir die tweede keer in sy geskiedenis buite die kontinent vergader.

Die Algemene Vergadering sal hierdie week heel simbolies in Sjanghai, China se ekonomiese hoofstad, plaasvind. China is toenemend bedrywig in Afrika en dit sal die eerste keer wees dat die byeenkoms in Asië plaasvind.

‘n Fototentoonstelling van Chinese leiers is prominent by die vergaderplek uitgestal en dien as agtergrond vir die talle hooggeplaastes se persontmoetings. Van Mao tot Hu Jintao se belangrikste oomblikke pryk  in swart-en-wit teen die moderne mure.

Die Chinese minister van Buitelandse Sake het benadruk dat dit vir sy land ‘n belangrike gebeurtenis is. Die handelsverkeer tussen Afrika en Asië het gestyg tussen 2001 en 2005 na sowat 700 miljard Rand volgens beskikbare syfers.

Tweeduisend mense word Woensdag en Donderdag by die Algemene Vergadering verwag, waaronder lede van die Spesiale Fonds vir Nigerië. Die byeenkoms volg op die spitsberaad in Beijing in November waar 48 Afrikalande teenwoordig was. China is duidelik daartoe verbind om nie net ekonomies nie, maar ook polities op die vasteland betrokke te raak.

Chinese investering in veral die oliebedryf het aansienlik gestyg en ook handel tussen die twee kontinente het vyfvoudig toegeneem.

Die Afrika Ontwikkelingsbank sien die skuldverligting as ‘n navolgenswaardige stap vir skenkerlande, soos die G-8, omdat dit die 13 lande volgens hulle in staat sal stel om ekonomiese groei aan te moedig. Die lande waarvan die skuld in April afgeskryf is, is naamlik Benin, Burkina Faso, Etihopië, Ghana, Madagaskar, Mali, Mosambiek, Niger, Rwanda, Senegal, Tanzanië, Uganda en Zambië.

China beskou tans die Afrika-vasteland as ‘n bron van stemme om besluite by die VN te bekragtig, benewens die olie, minerale, hout en landbouprodukte wat die kontinent ook voorsien. Die Asiese reus word daarom dikwels van neo-kolonialisme deur die Weste beskuldig. Dieselfde kritiek is egter afwesig by die meeste Afrikalande.

Een so ‘n geval waar China onder Westerse druk staan, is Soedan, omdat China 60% van die olieproduksie opslurp en die huidige regering daarom teen die VN se verkose strafmaatreëls soos sanksies, beskerm.

China het nietemin toegegee dat Darfoer groot aandag internasionaal geniet. Hulle het ook aangekondig dat ‘n spesiale pos geskep sal word vir ‘n afgevaardigde om voltyds aandag te skenk aan die gebied om sodoende “’n nuwe soort strategiese bondgenootskap te vestig”. 

“Die meeste Afrikane beskou die rol wat China speel as positief,” sê Peter Draper van die Institute for International Affairs in Johannesburg, “want hulle het al genoeg lesse gehad van die Weste oor hoe hulle behoort te ontwikkel.”

Die tema van die byeenkoms van die AOB in Sjanghai is trouens “Afrika-Asië, Bondgenote van Ontwikkeling” waar die Afrika-afvaardiging van 53 “inspirasie gaan put uit die voorbeeld van Asië om armoede te verlig”.

купить детскую шапочку для новорожденногоАлександр Фильчаков

Maak 'n opvolg-bydrae