Fillon se familie is welgesteld. Hy het internasionale politiek studeer en op ’n jong ouderdom aktief by Franse partypolitiek betrokke geraak. Hy staan bekend as ’n uitstekende onderhandelaar. Hy het as minister gedien onder Balladur, Juppe en Raffarin en word as ’n ervare politikus beskou. Daar word verwag dat hy ’n sleutelrol gaan speel in die sosiale en ekonomiese hervormings wat Sarkozy beplan om deur te voer.
Fillon sal Vrydag die name van sy vyftien nuwe kabinetslede bekendmaak. Sarkozy het tydens die verkiesing onderneem om ewe veel mans en vroue aan te stel en om ook sentrististiese en linkse politici te betrek.
Na alle verwagting gaan Bernard Kouchner die nuwe minister van buitelandse sake word – ’n verstommende keuse. Kouchner, ’n voormalige dokter, sosialistiese minister en stigter van Médecins sans Frontières, is bekend vir sy voorliefde vir die kalklig. Hy is getroud met een van Frankryk se bekendste joernaliste, Christine Ockrent. Hy het homself baie ongewild gemaak deur in 2003 openlik standpunt in te neem ten gunste van die oorlog in Irak. Hy het verder nog altyd ’n pro-Israel-houding ingeneem wat hom die vyandskap van Moslemstate op die hals gehaal het. Hy word vandag nog gespot oor ’n insident wat in Desember 2002 op ’n strand in Mogadisjoe, Somalië, tydens die Verenigde Nasies se mislukte humanitêre sending plaasgevind het. Kouchner het naamlik ’n sak rys by ’n noodlenigingswerker gegryp en oor sy skouer geswaai toe hy ’n TV-span sien aankom.
Daar is baie ongelukkigheid in die UMP oor Sarkozy se vreemde keuse en twyfel bestaan of Kouchner oor die nodige takt beskik om sy nuwe portefeulje suksesvol te hanteer.
