Die streek wat omtrent so groot soos Denemarke is, het ‘n reserwepotensiaal van tussen 12 en 45 miljoen vate, het die Koerdiese olieministerie gesê. Dit is gelykstaande aan ‘n derde van Irak se erkende reserwes en die wêreld se vierde grootste bron, volgens die IEA (Internasionale Energie Agentskap).
Die Koerde wat gedurende die laaste paar jaar van Saddam Hoessein se bewind onder beskerming van Amerikaanse vegvliegtuie nie hul soewereiniteit prysgegee het nie, het miljoene uit Saddam gemaak deur olie aan Turkye te smokkel in weerwil van internasionale sankies wat die VN teen Irak afgeroep het.
Toe sanksies opgehef is, moes hulle inderhaas ‘n nuwe manier vind om op te maak vir die verlore inkomste. Een so ‘n manier is om kontrakte te sluit met onafhanklike oliemaatskappye sonder die goedkeuring van Bagdad. Turkye het reeds so ‘n elektrisiteitsooreenkoms met Koerde aangegaan in ‘n ander olieryke gebied.
DNO se vordering word met belangstelling deur groter maatskappye dopgehou wat tot dusver nie kans gesien het vir die afwesigheid van enige juridiese raamwerk in Irak nie. Na wat verwag word sal DNO se deelname spanning skep tussen Koerdiese plaaslike owerhede en die sentrale regering in Bagdad.
Die noorde van Irak is taamlik rustig en vreedsaam in vergelyking met die res van die land en die toekenning van oliekontrakte aan buitelandse maatskappye kan veroorsaak dat die geweld wat reeds elders woed, uitgebrei kan word na die noorde. Indien die Koerdiese owerhede ‘n onafhanklike bron van inkomste gebruik om hul mag te konsolideer kan dit verder beteken dat die eenheid van die Irakkese staat in gedrang kan kom.
DNO sal aangewese wees op padvervoer om die olie te verskeep aangesien Bagdad nog nie toestemming verleen het om die uitvoerpyplyn te gebruik nie. Die uitvoerende beampte, Helge Eide, is nietemin optimisties oor die vooruitsigte omdat sy maatskappy “nooit verwag het” om binne twee jaar op dreef te wees nie.
DNO is of was ook in Mosambiek bedrywig waar hulle in 2004 aangekondig het dat hulle gaseksplorasie in die Sofala-provinsie gaan onderneem. Alhoewel die waarskynlikheid op net 20% geraam is, het woordvoerders aangedui dat hulle hoop om olie ook daar te vind.
‘n Ander Noorweegse speler, Statoil, het ‘n samewerkingsooreenkoms met die Suid-Afrikaanse Sasol gesluit om natuurlike gas na brandstof om te skakel mbv die uiters winsgewende Fischer-Tropsch tegnologie. Noorweë hoop om een van die grootste leweraars van energie aan Europa te word. Tans word Rusland se Gazprom bevoordeel deurdat die oormatige regulering in die EU Noorweegse mededingendheid kortwiek.
