Iran vuur missiel af met enorme trefafstand

Iran het gister ’n missiel met ’n trefafstand van byna 2 000 km gelanseer en pres. Mahmoed Ahmadinedjad het gesê die Islamitiese staat kan enige aanvaller “hel toe stuur”, het die amptelike media berig.

Die trefafstand van die grond-tot-grond-missiel die Sejil is byna dieselfde as ’n ander Iranse missiel, Sjahab 3.

Ontleders sê dié wapen is binne trefafstand van Amerikaanse en Israelse basisse in die Persiese Golf.

Die Iranse staatstelevisiediens het beeldmateriaal uitgesaai van ’n missiel wat in die lug beweeg en ’n rookwolk agterlaat.

Ahmadinedjad het die lansering aangekondig op dieselfde dag as wat ’n invloedryke geestelike outoriteit die begin van ’n veldtog vir aanstaande maand se presidentsverkiesing aangekondig het. Die outoriteit het Ahmadinedjad en drie teenstanders as kandidate goedgekeur.

Die geharde Ahmadinedjad se hoofteenstanders in die verkiesing op 12 Junie is gematigdes wat die gespanne betrekkinge met die Weste wil aanspreek.

Ahmadinedjad het by ’n saamtrek in die provinsie Semnan, waar die lansering glo plaasgevind het, gesê Iran het die vermoë om enige militêre basis van waar ’n “koeël” op dié land gevuur word “hel toe te stuur”.

Hy het Israel uitgesonder. “Die Sioniste-regime bedreig Iran militêr met sy vals dreigemente.”

Die Israelse adjunkminister van buitelandse sake, mnr. Danny Ayalon, sê Iran is in staat om Europa asook sy land te tref.

’n Militêre kenner in Londen het die missiellansering beskryf as Iran se reaksie op die Israelse premier, Benyamin Netanyahu, se huidige besoek aan Washington, Netanyahu het die Joodse staat se bekommernisse oor Iran benadruk. “Elke keer wanneer hulle (Iran) dit doen (’n lansering), is dit in reaksie op ’n bepaalde gebeurtenis,” het mnr. Andrew Brookes van die Internasionale Instituut van Strategiese Studies gesê.

детские качели купитьлобановский александр игоревич класс

Maak 'n opvolg-bydrae