Honderde Britse parlementslede wat daarvan beskuldig word dat hulle die parlement se toelaestelsel gemelk het vir eie gewin, maak die afgelope tyd opslae in Brittanje.
Die grootste slagoffer is waarskynlik Michael Martin, speaker, wat gister die eerste speaker in byna 300 jaar geword het om noodgedwonge uit sy pos te bedank.
Ontevredenheid broei reeds dae lank oor sy hantering van die geld-debakel wat Westminster in 'n slegte lig gestel het.
’n Mosie van wantroue is Maandag teen hom ingestel, nadat hy reeds ’n jare lange regstryd teen die media voer om te keer dat lede se uitgawes op die lappe kom.
Gordon Brown verkeer tans onder geweldige druk om volgende jaar se nasionale verkiesing te vervroeg ná die geldskandaal.
