Sy heel eerste stap was egter om, nadat hy die presidentsverkiesing gewen het, dadelik die sluiting van die gevangenis in Guantanamo aan te kondig. Die beskuldigdes sou ook nie militêr verhoor word nie.
Maar die probleme wat sy laasgenoemde besluit meegebring het, het die president Donderdag laat besluit om weer die weermag se regstelsel in te span, hierdie keer met aanpassings om die "regverdigheid" te verbeter.
Menseregtegroepe is woedend oor die twee besluite en beskuldig Obama daarvan dat hy terugkeer na sy voorganger, Bush, se onmenswaardige beleid.
Aanvanklik het die Withuis gesê hulle sal 2 000 nuwe foto's van marteling en mishandeling vrystel, maar nadat militêre raadgewers gewaarsku het dat dit die VSA se magte in Irak en Afghanistan aan groter risiko kan blootstel, het die Oabama-administrasie van die plan afgesien.
"Die bekendmaking van hierdie foto's sal nie enige bykomende waarde toevoeg aan ons begrip van wat 'n klein aantal individue gedoen het nie," het Oabam Donderdag gesê. "Om die waarheid te sê, sal die direkte gevolg van die vrystelling daarvan, glo ek, anti-Amerikaanse sentiment verder aanblaas en ons troepe in groter gevaar stel."
In Europa is Obama se besluit met skok ontvang. In Duitsland het die Tageszeitung berig dat die mensregtemisdade wat tydens Bush se termyn gepleeg is nou nie gestraf sal word nie. Hulle het Obama van 'n toesmeerdery beskuldig.
Die Financial Times Deutschland bekla eweneens die feit dat Obama nie sy beloftes van deursigtigheid en etiese gedrag gestand doen nie, maar meen dat dit om veiligheidsredes verstaanbaar is.
Die Süddeutsche Zeitung tref die vergelyking met Suid-Afrika. Die koerant skryf dat Obama 'n pynlike besluit sal moet neem. "Die VSA sal die kwessie van marteling en mishandeling wat hulle gebruik moet konfronteer, op dieselfde wyse as wat ander lande hulle verledes hanteer het. Dit sou 'n korrekte stap wees om 'n liggaam op te rig soos die Waarheids- en versoeningskommissie in Suid-Afrika. Anders sal die skandvlek van sy voorganger op Obama reflekteer."
