Twee oliepyplyne in Nigeri? verwoes

ImageNigerië se prominentste militantegroep, die Beweging vir die Bevryding van die Niger-delta (Mend), het gister gesê hulle het twee oiliepyplyne in die suidelike Niger-delta verwoes.

Dit was die jongste aanval in die hewigste geweld in maande wat dié gebied getref het.

’n Private sekerheidsamptenaar, wat anoniem wil bly omdat hy nie by magte is om met die media te praat nie, het gesê aanvallers het Sondagoggend dina­miet gegooi en geskiet na ’n olie-aanleg wat gesamentlik deur Royal Dutch en Shell bedryf word.

Mend beweer twee Filippynse matrose wat van ’n diensboot ontvoer is, is Vrydag dood toe die Nigeriese weermag die kamp aangeval het waar hulle saam met 13 makkers aangehou is.

Die Nigeriese weermag het gesê die Filippyne is vroeër in die week gyselaar geneem toe militante vegters met sekerheidspersoneel gebots en ’n olieboot met sy skeepslui gekaap het. Hulle het toe gewapende helikopters en kanonbote na die kamp, wat deur die militanteleier Government Tompolo beheer word, gestuur en ses gyselaars en hul boot bevry. Geen melding is gemaak van die ander gyselaars nie.

Dié geweld was die ergste sedert September, toe militante verskeie oliepyplyne verwoes het ná botsings met regeringsmagte.

Die baaie en moerasse van die Niger-delta, waar ru-olie deur Afrika se grootste verskaffer gepomp word, is deurspek met militante se kampe van verskillende faksies.

Die militante beweer hulle wil die federale regering dwing om meer olie-inkomste na die suidelike oliegebied, wat ondanks ses dekades van olieproduksie steeds ellendig arm is, te kanaliseer. Die regering beweer egter hul hoofdoel is om die olie te steel.

Weens jare lange militante-aktiwiteite en ’n gebrek aan onderhoud aan die infrastruktuur, produseer Nigerië net sowat driekwart van sy vermoë.

Sedert 2006 is meer as 200 buitelandse werkers in die suidelike oliegebiede ontvoer. Hulle is meestal ongeskonde vrygelaat nadat lospryse betaal is, hoewel twee in verbroude reddingspogings dood is.

Buiten die Filippyne, is sover bekend net een ander buitelandse gyselaar tans in aanhouding, naamlik Mathew Maguire, ’n Brit wat meer as ses maande gelede ontvoer is. Mend het Woensdag in ’n verklaring gesê hulle mag Maguire dalk binnekort vrylaat in reaksie op wat hulle beskou as “positiewe” opmerkings deur die Britse ambassadeur, mnr. Bob Dewar, tydens sy onlangse ontmoeting met die Nigeriese minister van inligting oor die “onregverdige situasie in die Niger-delta”. “Hierdie is net die begin van ’n reeks aanvalle,” het Mend gesê.

раскрутка сайтаАлександр Фильчаков Васильевич

Maak 'n opvolg-bydrae