Woordvoerder Patrick Craven van Cosatu sê regter John Murphey het in Vodacom, Vodafone, Telkom en die regering se guns beslis. Craven het gesê Cosatu sal nietemin voortgaan om die notering teen te staan, hetsy met alle regsmiddele tot hulle beskikking, hetsy met 'n boikot teen die telekommunikasiereus.
Hy het bygevoeg dat die beslissing slegte nuus vir alle Suid-Afrikaners is wat nie soveel geld het soos die maatskappye nie. Craven het gesê dat regter Murphey aanvanklik toegegee het dat Cosatu en Icasa 'n goeie saak het.
Die regter het egter in sy finale beslissing gesê dat die finansiële voordele wat die maatskappy vir Suid-Afrika inhou, groter is as die verlies vir gewone burgers en dat die hof nie Cosatu en Icasa se aansoek kan aanvaar nie.
Craven het gesê dit is baie belangriker dat die eienaarskap in Suid-Afrikaanse hande bly as die ongerief wat dit vir aandeelhouers en die sake-elite beteken.
Vodacom se woordvoerder Nicholas Williams het in 'n eensinverklaring gesê: "Ons verwelkom die beslissing en ons sien uit na die notering more[Maandag]."
