Ebiblioteekboek oor Naspers beskikbaar

Die kort boek deur Anton Harber oor Naspers en Koos Bekker, Gorilla in the room, is so pas opgelaai by PRAAG se ebiblioteek. Dit kan gratis deur betalende PRAAG-lede uitgeneem word.

‘n Resensie daarvan sal binnekort hier verskyn.

Ons is ook besig om vele ander eboeke beskikbaar te maak, onder andere klassieke Afrikaanse speurverhale uit die veertiger- en vyftigerjare wat ons besig is om te digitaliseer. Steun asb. vir PRAAG in hierdie broodnodige bewaringsprojek, om die rykdom van Afrikaanse boeke en kultuur vir die huidige geslag deur eboeke te ontsluit.

Terwyl ‘n intekening op ‘n enkele koerant veel meer kos, bied lidmaatskap van PRAAG en Klub digiTAAL, ons ebiblioteek, toegang tot ‘n magdom boeke en inligting wat voortdurend bygewerk word. Teen slegs R60 per maand verkry u nie net lidmaatskap van ons ebiblioteek nie, maar ondersteun ook vir PRAAG, die mees dinamiese Afrikaanse organisasie wat sal sorg dat Afrikaners en Afrikaans in die een-en-twintigste eeu oorleef. Sluit hier aan by:

PRAAG (ons lede is outomaties ook lid van Klub digiTAAL)

Klub digiTAAL (vir mense wat slegs lid van die ebiblioteek wil wees en nie ook van PRAAG nie)

Фильчаков прокурор харьков

‘Die neus’ verval in clichés, swak smaak

Die neus deur Deborah Steinmair. Uitgewer: Human & Rousseau. Prys: R180
Gratis as eboek uitneembaar deur alle PRAAG-lede hier.

Ek was aanvanklik heel opgewonde om Deborah Steinmair se jongste roman, Die neus, te begin lees. Die boek bevat ‘n aantal boheemse, selfs eksentrieke karakters wat die leser met hul aweregse gewoontes en uitsprake amuseer.

Op een stadium in die teks is drie van hulle, vergesel deur ‘n Labrador-gidshond en ‘n pou in ‘n outydse Volskwagen-kewer op pad Pretoria. Soos dit gestel word: “Op die ou end lyk hul deputasie na ’n rondreisende sirkus. Dit bestaan uit: Jesse, Aga, Rob die gidshond, Flaubert die pou en … Xun Wu.” Laasgenoemde is ‘n Chinese dwerg wat ‘n toenemend bose rol in die verhaal speel.

Die neus gee voor om ‘n soort postmoderne speurverhaal te wees waarin die hoofkarakter, Aga Gruber, haar eie herkoms probeer naspeur. Van haar familielede het op ‘n geheimsinnige manier gesterf. Sy word ook aanvanklik dopgehou deur ‘n buurman en die Chinese dwerg wat al hoe meer in haar lewe inmeng. Aga dra ‘n fedora en het ‘n besonder prominente reukorgaan, vandaar die boek se titel.

Die Duitse skrywer Patrick Suskind het natuurlik al ‘n literêre blitsverkoper genaamd Das Parfum in 1985 laat verskyn, dus is ‘n besinning oor reuk en neuse kwalik oorspronklik. Hier en daar filosofeer die verteller ook oor hoe reuk eintlik die bedekte oorsprong van ‘n sesde sintuig en voorgevoelens kan wees, iets waaroor Aga of Agathe (haar volle naam) Gruber in oormaat beskik. Sy weet dikwels presies waar om te kyk of waar om te grawe om foto’s, briewe of ander legkaartstukke te vind waarmee die duistere verlede van haar pa, ‘n geniale olfaktoriese wetenskaplike, ontrafel mag word.

Soos gesê, is ek aanvanklik deur die gegewe geboei. Ook kan Deborah Steinmair ‘n goeie Afrikaans skryf, wanneer sy nie haar karakters, soos veral die agterplaaswerktuigkundige Claude, ‘n oordrewe Engfrikaans laat praat nie. Ongelukkig is ‘n kennis van Afrikaans nie genoeg om as skrywer te kwalifiseer nie.

Want in die tweede helfte van die boek word die aanvanklike geheimsinnighede en belofte eenvoudig nie vervul nie. Die intellektuele uitdaging van haar gegewe blyk vir Steinmair op die duur te groot te wees. Al het sy hoeveel oor die rol van reuk by massasielkunde opgelees (agter in die boek verskyn ‘n lang lys internetskakels as ‘n soort bibliografie), kry sy dit nie reg om iets meer as ‘n ietwat eksentrieke verhaaltjie uit haar stof te tower nie.

Die Nazi’s is na hoeveel Hollywood-films, asook rekenaarspeletjies, ‘n onderwerp wat enige skrywer net met omsigtigheid kan benader omdat die gevaar dat ‘n mens in volslae clichés mag verval, so enorm is. Almal van ons het al die flieks gesien en miljoene tieners het oor die afgelope aantal jare een van die gewildste rekenaarspeletjies, Call of Duty World at War, asook die latere weergawe, Call of Duty Black Ops, gespeel waarin sogenaamde Nazi-zombies as vyande (en teikens) figureer. Een van die amateuragtige aanlynromans wat tans in Afrikaans te lees is – die skrywer erken rondborstig dat hy nie Afrikaans kan spel nie – Doodstraal, maak ook van ‘n Nazi-gegewe gebruik.

Pleks van ‘n “doodstraal” is reuk of die wetenskaplike manipulasie daarvan, die “geheime wapen” waaroor moorde in Die neus gepleeg word. Ook blyk Aga Gruber se moeder een van die berugte Lebensborn-baba’s uit die tweede wêreldoorlog te wees en haar pa, hoewel ‘n Nazi-hater en Sionis, was op die spoor van olfaktoriese metodes om massas mense te beheer of te manipuleer.

Deesdae en waarskynlik vanweë die Naspers-monopolie wat alle fasette van die Afrikaanse kultuur dooddruk, is daar lyk my nie meer goeie uitgewers of redakteurs by Human & Rousseau en ander NB-filiale in die Kaap oor nie. Eintlik is dit hartseer dat Steinmair se teks nie bietjie van sy gemeenplasighede en politieke korrektheid wat plek-plek deurslaan, gesuiwer is nie. Want die potensiaal was daar om ‘n ironiese, slim vermenging van literêre en speurverhaalkodes te pleeg. Dit kon so effens op die model van Umberto Eco of een van my gunsteling- Franse skrywers, Jean Echenoz, geskied het. In Les grandes blondes (Die lang blondines) bied Echenoz ‘n verhaal oor ‘n beeldskone model en sosiopaat wat mans na hartelus vermoor, met hope ironiese implikasies vir die eietydse verbruikersmaatskappy, asook ons obsessie met beeldskone, lang blondines. (Lees gerus ook die novelle deur Echenoz wat PRAAG as Een jaar uitgegee het.)

Pleks van ons op die duur te verveel en te irriteer, kon Steinmair ons dalk geamuseer en geprikkel het. Maar as die twee vriendinne, Aga en Jesse, uiteindelik blyk een of ander lesbiese aantrekkingskrag (nogal “magneties”) tussen mekaar begin voel, hoor ek al een of ander preek oor geslagslykheid en seksuele voorkeur. Net soos wat die Vodacom-advertensies ons ‘n tyd gelede oortuig het dat swartmense selfone baie beter as blankes verstaan, tower Steinmair ook ‘n aangenome jong swartman op, nogal met die Afrikaanse naam Theunis, hoewel hy ook blykbaar ‘n Thabo is, met ‘n hartstog vir Morse-kode en tegnologie.

By hierdie punt rafel die roman vir my heeltemal uit en word dit net nog ‘n sinnelose prul uit Kaapstad wat iewers in die hovaardige redaksiekantore van die Afrikanervyand in Heerengracht bewimpel is.

Elke oordeel oor ‘n boek is seker subjektief, maar uiteindelik onderskei alle groot skrywers hulle deur hul goeie smaak, of ‘n soort varsheid en oorspronklikheid wat uiteindelik die koring van die kaf skei. Die elemente van swak smaak wat in Die neus opstapel, raak op die duur net te veel. As Steinmair boonop Proust in Engels aanhaal – nogal die beroemde passasie oor die madeleine-koekie wat ek al iewers aanlyn in Afrikaans vertaal het, nogal op Litnet as ek reg onthou – dan gooi ‘n mens jou hande in die lug.

Is daar enigiets meer kitsch vir ‘n Afrikaanse skrywer as om Proust in Engels aan te haal? Toegegee, C.K. Scott Moncrieff en Terence Kilmartin het ‘n heel leesbare vertaling van Proust in Engels gemaak wat in ‘n aantreklike hardebanduitgawe in drie dele by Chatto & Windus verskyn het en waarvan ek insgelyks ‘n eksemplaar besit. Maar daar is sekere ongeskrewe reëls vir ‘n Afrikaanse skrywer en ek sou sê een daarvan is om nie Proust in die Rooitaal voor jou leser te smyt nie. Dis sooo… filistyns, so nouveau riche, so Naspers! Dis kort duskant die Sondag se bladsy drie. Dan kan jy maar net sowel vir Julius Malema of Kenny Kunene nooi om saam soesji van skamel geklede dames se lywe af te kom eet. Dit raak blote vertoon, smuk, ‘n bietjie kopieer-en-plak om “literêre gewig” aan jou middelmatige Nazi-storie te verleen.

Weereens, dit kon so anders gewees het. Want ek vermoed die probleem lê nie soseer by Steinmair nie, maar by die Umwelt waarvan daar ook in die boek sprake is. Ons omgewing en veral die media- en uitgewersmonopolie, is nie meer bevorderlik vir goeie of interessante letterkunde nie.

Die vernuftige, slim, ironiese, speelse postmoderne speurroman wat kodes vermeng bly daarom uit by Die neus. Pleks daarvan neem die kitsch en “kamp” situasies of karakters oor en daaragter skuil, wel, bloedweinig met substansie.

Nóg die leser wat op soek is na ‘n behoorlike speurverhaal of roman noir, nóg die literêre leser gaan deur Die neus bevredig word. Dis egter nie te lank nie, en hier en daar skryf Steinmair ‘n paar mooi sinne. Dus kan dit ‘n verveelde aandjie of middag vul.

Maar iewers moet daar beter boeke in Afrikaans versteek wees. Waar is hulle? wonder ‘n mens.

Neem hierdie boek gratis uit by PRAAG se ebiblioteek. Indien u nog nie lid is nie, sluit hier by Klub digiTAAL of by PRAAG aan.

Олександр Васильович Фільчаков

Gustav Venter se ‘Alrina Smal’ beeld ons ondraaglike situasie uit

Die Amigdala van Alrina Smal, roman deur Gustav Venter. Uitgewer: Praag. Prys: R180. ISBN-nr.: 9781920128128. As eboek beskikbaar in die volgende formate: PDF, Epub en Kindle/Mobi.

‘n Uitgewer van my is tydens Mandela se bewind, in die tyd toe ons nog almal mooi drome gedroom het oor die land, deur ‘n swart bende  verkrag  terwyl sy in Magnoliadal besig was om selfmoord te pleeg. Ek is nooit gekonfronteer met hoe sy die verkragting beleef het nie, omdat sy die geheim daarvan na haar graf saamgeneem het. Net soos wat ons, tot met die onlangse verkyning van Die Amigdala van Alrina Smal, genadiglik nooit gekonfronteer is met die laaste belewenisse van soveel geweldslagoffers in die onlangse geskiedenis van ons land nie.

Alrina Smal, ‘n saggeaarde klein meisie met ligte oë en vel en die gewone Afrikanerskuldgevoelens oor die Afrikanererfsonde, wat op die gewone Afrikanermanier reageer deur haar gewig in te gooi  by die opheffing van voorheen benadeeldes in die Nuwe Suid-Afrika, word in die veiligheid van haar huis aangerand. Alrina is ‘n karakter met wie enige welwillende Afrikaner, en daar is baie van hulle, sou kon identifiseer. Dis iemand vir wie ‘n mens net die beste gun, en die spanning in die verhaal hang nou saam met die leser se onwillekeurige betrokkenheid by die goeie, intelligente, sensitiewe vrou met ‘n desperate drang om polities korrek op te tree. Alrina se man betrap die skuldige ‘n oomblik voor dat hy haar fisies sou verkrag, wat “Dít wat met haar gebeur het” statisties klassifiseer as ‘n vlak-twee-aanranding. Die ergste wat haar van “Dít wat met haar gebeur het” bybly, is nie die feit dat sy haar privaatheid en veiligheid inboet na die ondervinding nie, maar dat sy ‘n onverwagse fobie vir alle swart mense ontwikkel. Die skuldgevoelens wat hiermee saamgaan, bring die vraag na vore:“In watter mate het ‘n mens ‘n reg op jou eie subjektiewe maar gegronde vrese?”  En ook: “In watter mate het iemand wat binne ‘n gewelddadige samwelewing leef en nie sy of haar eie vrese gegun word nie, hoegenaamd enige regte?” Dit sou natuurlik beantwoord kon word met die teenvraag: “In watter mate kan iemand met die erfsonde van ‘n Afrikaner hoegenaamd op enige regte aanspraak maak?”

Die pogings om Alrina van haar vrese te genees, is so talryk as wat hulle lagwekkend is:  sy beweeg deur ‘n hele lys van beraders, ontvang  skietlesse, word  deur dikvellige en bemoeisieke omgeegroepies en herbore Christene bepreek en geestelik vermink en ontmoet uiteindelik vir dr. Ters van  Jaarsveld wat, ten spyte van haar heelhartige samewerking, tevergeefs probeer om haar met konfrontasieterapie van haar vrees te genees. Uiteindelike “verlossing” kom op die dag nadat sy aan die einde van ‘n radikale behandelingsmetode uit die kliniek ontslaan word, en die verlossing word terloops toegedien deur Righteous Khumalo  in die uitvoering van sy daaglikse “besigheid”.  

Die karakters in die boek kon my bure in Suid-Afrika gewees het: Die a-politiese, ambisieuse en opportunistiese Ters van Jaarsveld wat die genesing van Alrina Smal sien as ‘n kans om groot naam te maak in ‘n politieke bestel waar haar polities inkorrekte siekte, ‘n onvermoë om haar swart medemens te vertrou en as gelyke te behandel,  as die nr. 1-siekte in die samelewing gereken word. Die vraag of dit ‘n siekte of net ‘n normale reaksie sou wees, kom wel ter sprake in sy kantoor, maar weens die ongerief en gewetenswroeging  wat vrees vir ‘n swart mens in Suid-Afrika tot gevolg het, is dit duidelik dat Ters van Jaarsveld goeie werk doen deur sy radikale ingryping in haar lewe.

Nog ‘n karakter is Alrina se geniale broer wat in Amerika sy doktorsgraad in argitektuur behaal het: ‘n kunssinnige man wat pragtig skilder en klavier speel, maar tot Alrina se teleurstelling die pad byster raak na ‘n onderneming waartydens sy swart vennote hom uitgebuit en sy vrou hom gevolglik verlaat het.  Hy gaan bly in die Koue Bokkeveld waar hy in die aande Rachmaninof speel by die vuur en ‘n Afrikanerstad ontwerp.

Dan is daar die groepie gelowige vroue wat Alrina se fobie aan die sonde toeskryf en haar daarvan probeer verlos op ‘n manier wat haar verder geestelik vermink, en die groepsterapie waartydens sy ‘n gomgatrassis ontmoet wat vir ‘n nag lank deur ‘n bende verkrag is en op wie se opmerkings Alrina tevergeefs sukkel om antwoorde te vind.        

Die boek is uitgegee deur PRAAG, wat dit by voorbaat in sekere literêre kringe “verdag” maak. Net ‘n ideologies oneerlike resensent sou egter kans sien om die aangrypende en uitmergelende vertelstyl, deeglike, fyn gedetailleerde analises van die protagonis se sielkundige belewenisse en emosionele motiverings en die ontstellende eerlikheid waarmee veral die misdaadsituasie in die land bekyk word, te misken. Daarby is die slot, aan die einde van ‘n boek waarin ‘n mens voortdurend op jou tande moet kners om die situasie wat in der waarheid ‘n weerspieëling van ons eie werklikheid is,  te hanteer.  Ten spyte van wat dit voorafgaan, verteenwoordig die vernuftige slot ‘n totale en duiselingwekkende skok op die sisteem.

Die feit dat ’n mens teen jou eie wil erkenning moet gee aan die uitgewer se stelling dat hierdie waarskynlik ideologies een van die mees gewaagde boeke in die 21ste eeu mag wees, terwyl dit in werklikheid maar net  ‘n ingryping op die mees basiese reg op lewe bevraagteken, is ‘n verdere bewys van die absoluut ondraaglike situasie waarna die boek verwys.

Fransi Phillips is die skryfster van elf boeke en beskik oor honneursgrade in filosofie en kunsgeskiedenis. Tans is sy visepresident van die skrywersvereniging Pretoria-PEN en woon in Moskou.

Данильченко Юрий Харьков

Spesiale aanbod: Paul Kruger + gratis Gelofte as logos

-50% afslag! Vir slegs R200 + posgeld ontvang u hierdie manjifieke hardebandboek van 642 bladsye plus ‘n gratis eksemplaar van Die gelofte as logos, ‘n geloftedagtoespraak van dr. Dan Roodt wat ‘n klompie jare gelede op Naboomspruit gelewer en agterna as ‘n boekie uitgegee is.

Paul Kruger is waarskynlik die grootste en invloedrykste Afrikaner wat ooit geleef het. In hierdie klassieke biografie wat die resultaat is van ongeveer twintig jaar se navorsing, hier en oorsee, skilder D.W. Krüger ‘n prentjie van Paul Kruger as onverskrokke jong Voortrekker, jagter, boer, vader, kommandant-generaal, stryder vir sy volk en uiteindelike president.

Paul_Kruger____n_4ace43b92b359In die 1880s behaal Kruger een diplomatieke deurbraak ná die ander en verseker so dat die Transvaal meer onafhanklik as ooit raak. Hy en sy volk word geag deur die grootmoondhede van Europa en bou ook ‘n enorme gevolg in die Engelse gebiede van Suid-Afrika op, in die Kaapkolonie en selfs in Natal.

Die opbloei van die Zuid-Afrikaansche Republiek onder Kruger was merkwaardig en hy is allerweë vir sy wysheid, verdraagsaamheid en insig geloof. Maar as die onweerswolke van ‘n tweede oorlog teen Brittanje saampak, word Kruger voor die onverbiddelike keuse gestel of hy wil veg of roemloos oorgee.

Benewens die magdom interessante feite wat in die boek ter sprake kom, bevat dit insgelyks vele lesse vir die hedendaagse politiek en die situasie waarin die Afrikaner hom tans bevind.

Klik hier onder of kontak ons by inlig@praag.org.

Paul Kruger-biografie-produkbladsytopcargo отзывы сотрудников

Dis soms wys om te vrees

Met die publikasie van Gustav Venter se debuutroman van 91 000 woorde, Die amigdala van Alrina Smal, het praag.co.za ‘n onderhoud met hom gevoer.

Ten eerste, wat het u besiel om so ‘n omstrede tema te kies (seksuele aanranding van ‘n swartman op ‘n blanke vrou, gevolg deur haar abnormale rassehaat jeens alle swartes)?

Ek het dit aanvanklik as ’n  kortverhaal beplan in reaksie op die beskuldiging, of eerder belediging, van “blanke vrees”. ’n  Paar jaar gelede is daar baie in die liberale pers en vanuit swart geledere gesmaal oor wat hulle as ’n  onredelike vrees onder blanke mense vir swart mag gesien het. Vir hulle was redelike voorsorgmaatreëls soos beveiligde woongebiede asook die uitvlug van blanke mense na die buiteland, ’n manifestasie van hierdie vrees.

Ek het nooit ontken dat dié vrees bestaan nie, maar het deurgaans geredeneer dat hierdie nie ’n  ongegronde vrees is nie. Hierdie is ’n redelike en intelligente vrees. Ek dink daar is te min van hierdie vrees. Ons neem die bedreiging nie ernstig genoeg op nie en daarom sterf soveel van ons mense wreedaardig.

Die vraag wat ek as skrywer gevra het, is wanneer word hierdie vraag ’n nagmerrie en in watter fiktiewe feitestel is dit op sy ergste. Dit gaan natuurlik oor weerloosheid en niks is meer weerloos as ’n vrou wat magteloos in die greep van ’n  man is nie.

Is Alrina Smal se vrees na haar ervaring ’n  abnormale vrees? Ek dink juis dit is normaal, ’n  geregverdigde vrees, as jy dan wil.

Hoe lank skryf u al fiksie en waarom het u tot nou toe gewag om ‘n roman te publiseer?

My eerste poging om ’n  roman te skryf was as sewejarige in Laerskool Bredell! My onderwyseres, Tannie Wolla Troskie (sy was my ma se boesemvriendin) het met elke langpouse die notaboekie waarin ek dit geskryf het, personeelkamer toe geneem om dit vir die ander onderwysers voor te lees, tot hulle groot vermaak. Dit was onbeskaamde plagiaat van Mikro se Ruiter in die nag.

Daar is verwag dat ek ’n  boek voor my tiende verjaarsdag sou gereed hê. Ek is nou vyftig, so ek is veertig jaar agter skedule.

Is dit omdat ek vir iets gewag het? Ek weet nie. Dis nie dat ek nie probeer het nie. Ek het ’n  stapel onvoltooide boeke in my “laai”. Miskien ’n  gebrek aan vertroue in my ambagsvermoë. Ek wou nie iets uitgee voor ek nie seker is dat ek darem die basiese vaardighede van ’n  skrywer opgedoen het nie, en het deurgaans hard daaraan gewerk om dit te slyp. Kom ons sê dan maar dat dit net ’n  baie lang vakleerlingskap was. Wat natuurlik ver van voltooi is.

In Die amigdala van Alrina Smal is daar heelwat sprake van kliniese sielkunde en selfs neurologie. Moes u heelwat oor dié onderwerpe oplees en vanwaar die belangstelling daarin?

Een skrywer wat vir my goedbedoelde raad gegee het was Oom Hendrik (HS) van Blerk. As seun het ek op ’n  Voortrekkerkamp, sonder dat ek weet hy kan my hoor – hy was die busbestuurder – verklaar dat ek ’n  skrywer wil word. Hy het verskyn en vir my gesê as ek ’n  skrywer wil wees, moet ek “alles onder die son weet”. Ek het nie presies geweet wat hy bedoel het nie (ek weet nou nog nie) maar ek het van toe af myself beywer om feite te versamel soos ander mense sê nou maar posseëls versamel. So ek het ’n  belangstelling in heeltemal te veel dinge.

Ek vind neurologie, en veral die ontploffing van kennis daaroor wat deur nuwe tegnologie moontlik gemaak is, baie interessanter as sielkunde. My belangstelling is eerder in sielkundiges as sielkunde. Wat is dit wat iemand  laat glo hy kan in ’n  ander mens se kop rondkrap en dit herbedraad om gedrag te verander?

Nou is dit so dat ek ’n  hele paar sielkundiges leer ken het en almal van hulle is nou goeie vriende van my. Hulle is almal kleurryke mense en heeltemal openhartig oor wat hulle doen, hoe hulle dit doen en wat hulle daarmee wil bereik en nie bereik het nie. Vir ’n  skrywer kan daar beswaarlik ’n  boeiender gedaante as die sielkundige wees.

Die boek speel in Johannesburg af, ‘n stad wat slegs by rare geleenthede in Afrikaanse romans beskryf word. Waarom Johannesburg en nie, sê maar, Pretoria, Kaapstad of een of ander plattelandse dorp nie?

Ek meen die Noord-Johannesburgse Afrikaner bevind hom in ’n besondere, liberale geologiese stratum. In sosiale bewussyn ag hulle hulle as darem ’n  trappie hoër as die Pretorianer. Hulle is nog nie verlam met die angs van selfveragting soos ons dit in blanke Engelse kringe aantref nie, maar hulle voel hulle het die lewe in die rassismeslykpoel oorleef en leef nou werklik in ’n postrassebestel. En hulle glo hulle kan dit doen sonder om hulle blanke identiteit op te offer.

Wat rassebewussyn betref, bevind hulle hulle op die presiese breuklyn wat ek vir my storie nodig gehad het.

Hoe sou u die politiek van Alrina Smal en haar man, Darren, beskryf?

O, ek sou dit heeltemal anders as hulleself beskryf. Soos baie Afrikaners weet hulle instinktief dat die oorplanting van ’n  Westerse politieke stelsel op Afrika eintlik saad op die rotse is. Hulle sien nie kans om vir die ANC te stem nie, maar het terselfdertyd ’n  afsku in die Afrikaner se politieke geskiedenis. Hulle kan polities nie vorentoe nie en hulle kan nie agtertoe nie. So hulle beskou hulleself as “apolities”. Verhewe bo politiek. Raak nie daaraan nie, proe nie daaraan nie. Eintlik het hulle maar net politieke oogklappe op.

Op enkele plekke laat sekere karakters of figure in die boek hulle baie negatief oor swartmense uit en gebruik byvoorbeeld die K-woord. Dink u daar is genoeg spraakvryheid in Suid-Afrika om so iets te verdra of gaan dit dalk hewige reaksie ontketen?

Ek dink gereeld aan die swart predikant in Alan Paton se Cry the Beloved Country se sombere waarskuwing dat blankes eers vir swartmense sal leer omgee wanneer die swartes al begin het om blankes te haat. Dit was ’n  bekende tema in die oorgangsjare, van Harald Pakendorf, Rian Malan, Chris Louw en ander wat probeer het om mense in te lig oor “swart woede”.

As skrywer is dit vir my belangrik om sterk poele van emosie te vind en daarin te delf. Soos wat die heersersklas van die verlede swart woede onderskat het, dink ek blanke woede word nou te gering geag. Geregverdig of nie, daar is ’n  smeulende lawastroom van woede wat deur die blanke gemeenskap strek. Politici en sosialiste het dalk hulle eie redes om verby dit te kyk, maar ek as skrywer wil dit nie miskyk nie.

Gaan dit ’n  wyer, heftige reaksie ontlok? Ek kan maar net so hoop, hoewel dit vir my vergesog voel dat my ou werkie op die wyer gesamentlike bewussyn sal registreer. Maar wie weet? Miskien moes ek dit dan maar onder ’n  skuilnaam uitgegee het. Soos Francois Strydom. Hy was ons hoofseun op hoërskool en hy kon die aandag verwerk.

Ja, die liewe “K-woord.” Ek voel dit is oneerlik om dit so te gebruik. Die woord is “kaffer”. Ek bepleit nie die gebruik daarvan nie, maar ek dink dit is teenproduktief om voor te gee dat die woord “kaffer” nie wyd gebruik word nie. En ja, as daar iets in my boek is wat mense sal ontstel, dan is dit seker dít. In hierdie verwronge gemeenskap is die gebruik van die woord “kaffer” ’n  veel gruweliker misdaad as die aanval van ’n  man op ’n  vrou in haar eie huis.

Toe André Brink in 1973 sy Kennis van die aand gepubliseer het, het die boek destydse norme oortree vanweë die aantrekkingskrag tussen rasse wat dit voorgestel het. Die amigdala van Alrina Smal beeld die teenoorgestelde, naamlik die afstotingskrag tussen rasse, uit. Oortree u ook die huidige sosiale norme wat op rasseharmonie soos op die TV-advertensies ingestel is?

Kan geveinsdheid ’n  werklike sosiale norm wees? Ek is skepties daaroor. Ek het ’n  afsku in die advertensiebedryf se waan van omnipotensie. Dit kom voor asof hulle dink hulle kan ’n  denkbeeldige wêreld skep en dan as ’n  matrys op die gemeenskap afdruk. Dit lyk vir my duidelik dat geen werklike norme gehaal kan word uit ’n  denkbeeldige gemeenskap in ’n  denkbeeldige wêreld nie.

Die advertensiebedryf besef dit en daarom, al verbeeld hulle die Nuwe Suid-Afrika as ’n land waar een en elk se beste pel iemand van ’n  ander ras is, is  hulle nog katvoet om gemengde paartjies in advertensies te gebruik. Hulle weet dit is teen die werklike norme. So oortree ek denkbeeldige norme? Sekerlik. Anders as A.P. Brink wat werklike norme van sy tyd oortree het.

Brink en ander skrywers het hierdie weersin in liefdesverhoudings oor die rassegrense heen as ’n  swakheid gesien wat hulle vir dramatiese doeleindes kon uitbuit. Die swakheid in ’n  boek soos Kennis van die aand as politieke beswaarskrif is dat Brink nooit bereid was om daad by woord te voeg nie. Hy het self nooit ’n  swart vrou gehad nie. Dis dieselfde swakheid wat die liberalis se onstuimigheid teenoor my boek ongedaan sal maak.

Is u bekend met die werk van Georges Bataille, die Franse skrywer en filosoof?

’n  Verbygaande kennis, ja. Ek tref ’n  onderskeid tussen literêre kritiek en literêre teorie. As skrywer het ek, dalk dwaaslik, nog altyd probeer om literêre teorie te vermy, miskien uit bygeloof dat dit my ontwikkeling as skrywer sou knel. Of is dit net my manier om te sê dis bo my vuurmaakplek? In elk geval, hy is een van Oom Hendrik se “dinge onder die son”, en ek kan nie ontken dat ek van sy menings, en die dinge wat hy gedoen het, fassinerend gevind het nie.

Georges Bataille het ‘n hele teorie gebou rondom die beginsel van “oortreding”, dat dit juis die taak van die skrywer is om sosiale norme te bevraagteken en te oortree. Sou u sê daar is ‘n Batailleske element in Die amigdala van Alrina Smal? Of gaan dit eerder om die openbaring van houdings en reaksies wat daarbuite geld, maar wat moontlik bloot deur die media en deur ander skrywers verswyg word?

Ek het geen persoonlike sosiale opdrag wanneer ek skryf nie. Ek sien my taak eenvoudig om ’n  versameling karakters se doen en late te volg terwyl hulle met al hulle manjifieke hartstog en ywer en onbeholpenheid deur situasies spartel. As ek hulle volg en hulle vertrap die slap grensdrade van swak of uitgediende norme, dan is dit maar hoe dit is.

Ek vind dat bymotiewe slordig by ’n fiksiewerk inpas. Dit is, volgens my mening, die sentrale swakheid van ’n  andersins goeie skrywer soos John Irving. Wanneer ek van sy goed lees, is ek by tye so verveeld met sy persoonlike gesanik in die mond van sy protagonis dat ek wil sê: “Ag tog. Hou op kerm en vertel my wat met Owen Meany gebeur het.”

As daar ’n  Batailleske element, soos u dit noem, in my boek is, is dit ’n  gevolg eerder as ’n  oorsaak.

Tog is ek nie blind vir die krag van fiksie om as ’n  soort laboratorium te dien nie. Daarin kan ons elemente waarvan ons weet saammeng en skud en kyk wat gebeur. Dit is wat ek probeer doen het. En ek daag enige iemand uit om vir  my te sê hierdie elemente bestaan nie in die teenwoordige Suid-Afrika nie.

Opvallend in die boek is ook die fyn beskrywings van vroulikheid en hoe Alrina as vrou reageer, nie net op haar seksuele aanranding nie, maar ook in ander situasies. Is daar ‘n sluimerende feminisme by Gustav Venter of ten minste by sy verteller?

Ha! Ek sal erken dat vroue my gunstelinggeslag is. Ek vind vrouens oneindig fassinerend. Ek was vir sewe jaar getroud en het die uitsonderlike voorreg gehad om ’n  ingewikkelde, begaafde, uiters intelligente en temperamentele vrou in die fynste besonderheid te kon waarneem. Ek het toe al begin aantekeninge maak met die hoop dat ek eendag ’n  vrou se gedrag sal kan raak beskryf. Het ek dit reg gekry? As iemand so sê, sal dit die grootste kompliment wees wat ek as skrywer kan kry.

Ek kom uit ’n  gemeenskap waar die vrou ’n  uitsonderlike, onaantasbare plek het. Die geykte uitbeelding van die Afrikanervrou as beteuterde wesentjie wat deur ’n  bombastiese, paternalistiese mansfiguur oordonder word, is vir my niks anders as ’n  karikatuur nie. Ek vind Afrikanervrouens is sterk, seker van hulle vroulikheid en verseker oor hulle plek in die huis en die gemeenskap. Ek het by geen ander volk gesien dat vrouens met soveel respek behandel word soos deur die Afrikaner nie. As feminisme daaroor gaan om die vrou se regte te beskerm en haar posisie te koester, was my oupas albei feministe, my pa ook en dan ek ook. Ek meen Hermann Giliomee skryf ook iewers oor die vroeë dae aan die Kaap waar die Afrikanervrou ’n hoë mate van emansipasie en gelykheid teenoor die man geniet het, en ook eiendom kon besit, anders as in Katolieke lande, byvoorbeeld.

Sou u sê dat Die amigdala van Alrina Smal vir ons ‘n blik op die Nuwe Suid-Afrika, ‘n baie sombere blik, bied?

As skrywer vra ek myself af of ek ’n  lewensgetroue weergawe van die omgewing waarin die verhaal afspeel, geskep het. My doel is om te rapporteer, nie om te beoordeel nie. Maar as ek my werk reg gedoen het, ja, dan sal dit ’n  somber blik wees. Deels is dit omdat die verhaal en die karakter se optrede dit dikteer. Wat met haar gebeur, is ’n  daad van duisternis.

Ek vind Suid-Afrika nie ’n  sombere plek nie. Hier is soveel opwinding en energie en hansworsery elke dag te sien. En dit is juis hoekom hierdie gruwel waaraan soveel van ons vroue onderwerp word, so skel is – in teenstelling.

Op ‘n stadium redelik vroeg in die boek, tydens haar eerste terapiesessie met doktor Ters van Jaarsveld, sê Alrina: “Hierdie ding, hierdie fobie wat gekom het na Dít Wat Met My Gebeur Het, het my verander, presiés in dít wat ek nooit wou wees nie, wat ek in ander mense verag het. As ek maar ’n pedofiel was, as ek maar ’n reeksmoordenaar was. Maar nou is ek iets erger, iets veel erger. Ek is die ellendigste van alle mense. Ek is ’n rassis.” Maar is sy werklik ‘n rassis of is haar reaksie teenoor swartmense onwillekeurig, juis vanweë haar amigdala?

Hierdie is een van daardie ja-en-neegevalle. Sy het ’n  afkeer van swartmense, alle swartmense, ontwikkel. So sy is ’n  rassis, ongetwyfeld. Tog kan sy nie skuldig wees nie. Uit my opgeskorte loopbaan as student in die reg, onthou ek dat opset of nalatigheid ’n onmisbare element in ’n  delik is. Alrina het haar afkeer nie deur nalatigheid en sekerlik nie met opset bekom nie. Daarom is sy nie skuldig nie. Die persoon wat verantwoordelik – en skuldig is – aan die opwekking van Alrina se rassisme is haar aanvaller, Godfrey Semase. Maar dit druis in teen die algemene liberale opvatting in Suid-Afrika waarvolgens net blankes aan rassisme skuldig kan wees.

Dit is die ellende van die hedendaagse Suid-Afrika. Rassisme word eerlikwaar as meer afkeurenswaardig as moord, verkragting of pedofilie gesien. Solank hierdie wanopvatting ons denke strem, sal ons nooit ’n  openhartige gesprek oor ras en rassisme kan hê nie.

U is bekend as ‘n aanhanger van Tom Wolfe, die vader van Amerikaanse “nuwe joernalistiek” en die aanbieding van feite met fiksionele of literêre tegnieke. Is Die amigdala van Alrina Smal bloot fiksie of gebruik u fiksie en die vryheid daarvan om sekere skokkende aspekte van ons werklikheid uit te beeld?

As dit nie vir Tom Wolfe was nie, so ek seker twintig jaar gelede al ’n  boek vir publikasie aangebied het. Dit het my ’n  bykomende tien jaar geneem om soos hy te probeer skryf en nog tien jaar om op te hou om dit te probeer.

Ek dink die vraag wat Wolfe wou beantwoord, werk eintlik andersom. Hy wou weet of die verslaggewingstegnieke wat hy in sy joernalistiek gebruik het, vir fiksie aangewend kon word. Die essensie van die “nuwe joernalistiek” was lewensgetrouheid. Skrywers soos hy, Hunter Thompson, Gay Talese en Jimmy Breslin was nie tevrede met die idee om bloot ’n  lys feite aan te bied nie. Hulle wou die presiese gevoel van ’n  situasie ook oordra. Vandaar hulle ingesteldheid op die fynste besonderhede van wat Wolfe mense se “statuslewe” noem.

Die amigdala van Alrina Smal is op die mees basiese vlak uit en uit fiksie. Daar bestaan nie ’n  persoon met daardie naam sover my kennis strek nie. Maar as ek my werk reg gedoen het, en dis nie vir my om te oordeel nie, is hier ’n  groter waarheid ter sprake.

Is Alrina Smal werklik deur ’n  swartman aangeval? Nee. Sy is ’n  fiktiewe karakter.

Word blanke vrouens, duisende van hulle per jaar, deur swartmans aangeval? Ja. Dit is nie fiksie nie. Dit is die harde, ongenaakbare en uiters tragiese waarheid.

Ek probeer nie mense se optrede verander nie, maar as daar een brokkie raad is wat ek hoop haak aan mense vas wanneer hulle die boek lees, dan is dit dat dit soms wys is om te vrees.

Wat kan ons nog in die toekoms van Gustav Venter as skrywer verwag?

Sug. Ek het in 2002 ’n  boek met die titel “In skaapsklere” geskryf en ek skryf dit nou al vir tien jaar oor. Dit gaan oor ’n  godsdiensswendelaar. Miskien sal ek nou die momentum hê om dit te voltooi.

Maar eers speel ek met die gedagte om die verhaal van die Smal-gesin se trauma voort te sit, dié keer uit die oogpunt van Alrina se man, Darren.

Laai ‘n gratis uittreksel van 24 bladsye in PDF-formaat hier af.

Koop die eBoek (in drie gewilde formate, waaronder PDF) hier of stuur ‘n e-pos aan inlig[by]praag.org.

 

Фильчаков прокуратура харьков

Gustav Venter se ‘Alrina Smal’ verskyn

Alrina Smal is ‘n liberale, welgestelde vrou wat in Northcliff, Johannesburg woon. As sy deur ‘n swartman in haar eie huis aangerand word, ontwikkel sy ‘n fobie jeens alle swartmense wat haar man en diegene rondom haar al moeiliker vind om te hanteer.

Sy word deur die briljante, byderwetse doktor Ters van Jaarsveld behandel, maar niks kan haar van haar vrees vir swartmense genees nie. Intense kursusse in gevegskuns en pistoolskiet stel haar ook nie gerus nie.

Gustav Venter het reeds as joernalis en rubriekskrywer in Afrikaans bekendheid verwerf. In hierdie, sy debuutroman, lewer hy ‘n meesterlike en boeiende verhaal wat geen doekies omdraai oor die abnormale geweld, veral teen vroue, wat in Suid-Afrika tier nie.

Deur haar terapiesessies vir haar “negrofobie”, soos dit ook iewers in Die amigdala van Alrina Smal genoem word, leer ons Alrina se verhaal ken. Die dialoog tussen haar en doktor Ters is oortuigend, soms tegnies sielkundig, maar plek-plek ook kostelik, sodat die leser al hoe verder meegesleur word deur Alrina se pogings om haar vrees te oorwin.

Hoewel die enkele geweldstonele in die boek smaakvol en literêr geskilder word, is dit veral die dialoog wat by tye alle polities korrekte norme oorboord gooi. Die skrywer gee enkele rassistiese karakters vrye teuels om hul menings uit te spreek soos ‘n mens in ‘n etnies verdeelde en geweldgeteisterde Suid-Afrika kan verwag. Dis ‘n boek wat vele na hul asems gaan laat snak, ook die leser wie se simpatie met Alrina se dilemma hom kwalik op die skokkende einde van die verhaal voorberei.

Reeds kan ‘n mens sê dat hierdie roman ‘n nuwe tydvak in die Afrikaanse letterkunde inlui. Wat by sommige skrywers voorheen vae suggestie was, word deur Gustav Venter tot onverskrokke realisme opgetower.

As u vanjaar een Afrikaanse boek lees, moet dit Die amigdala van Alrina Smal wees!

Laai ‘n gratis uittreksel van 24 bladsye in PDF-formaat hier af.

Koop die eBoek (in drie gewilde formate, waaronder PDF) hier of stuur ‘n e-pos aan inlig[by]praag.org.

Александр Фильчаков прокурор

Gratis kaartjies vir ‘Ons vir jou’ aan PRAAG-lesers

Ons gee tans vyf stelle van twee kaartjies elk weg vir die musiekblyspel oor De la Rey, ‘Ons vir jou’, in die Staatsteater. Die vertoning is op 11 Julie 2012 om 20.00 of ‘n ander geskikte datum wat die wenners en die produksie pas.

Om vir die gratis kaartjies in aanmerking te kom, stuur ‘n e-pos aan inlig@praag.org.

Na twee jaar se onophoudelike navrae, word Ons vir jou weer in die Staatsteater aangebied. Ons vir jou, geskryf deur Hertzog-pryswenner, Deon Opperman, en Sean Else en met musiek deur Johan Vorster, is vir die eerste keer in 2008 aangebied en het in 2009 op publieke aandrang teruggekeer. Dié trefferproduksie is reeds deur 45 000 mense gesien.

Opperman sê: “Ek glo dat enige nasie, soos enige mens, wat nie onthou wie hy was nie, nie sal weet wie hy is nie, en nie kan droom oor wat hy nog kan wees nie”.

Ons vir jou vertel die verhaal van ’n kosbare deel van die Afrikanergeskiedenis. Die uitwerking van die Anglo-Boereoorlog op ’n jong Afrikanervolk word met deernis en passie uitgebeeld. Met uitmuntende spel, ontroerende musiek en aangrypende dialoog is Ons vir jou ’n eenkeer-in-ʼn-leeftyd-ervaring.

Aangebied ter viering van die 110de herdenking van die einde van die Anglo-Boereoorlog.

Genre: Musiekspel                    

Wanneer: Vanaf 7 Julie 2012                    ­­­­­

Plek: Operahuis, Staatsteater, Pretoria

Kaartjiepryse: Van R190,00 tot R350,00

10%-afslag op groepbesprekings en 15%-afslag vir lede van die Solidariteit Beweging

Rolverdeling: Rouel Beukes, Michelle Botha, Jannie Moolman, Marisa Drummond, Paul Luckhoff,  Neels Coetzee, David Clatworthy, Norman Anstey en vele meer!

лобановский обыск

Olaf Bouwer, die onverskrokke baasspioen

Brittanje het nog altyd sy Bond gehad, die Amerikaners het deesdae hulle Bourne, maar ons Suid-Afrikaners het eens ons Bouwer gehad: Bouwer, Olaf Bouwer, baasspioen. Hy was die skepping van ’n skimagtige skrywer (moontlik selfs skrywers), Stoffel Pienaar, in die sestigerjare, ’n dekade van hardgekookte aksie en manne van yster wat vasvat wanneer hulle vat, of dit nou ’n vyandige spioen in ’n hysbak of ’n kurweryke meisie in die kooi is.

Olaf Bouwer is ’n yster onder die ysters. Soos dit die beste aksiespioene betaam, is hy ’n man grotendeels sonder ’n verlede. Ons weet hy is gebrei in die Franse Vreemdelegioen, wat sy kosmopolitisme verklaar. Daar was ’n vrou in sy verlede… (Daar is altyd een, nie waar nie?) Olaf is beslis nie ’n werk-in-wording nie. Hy is die afgeronde, baie gedugte, produk, geheel en al lojaal teenoor die organisasie waarvoor hy werk, SS15, wat beskryf word as ’n spioenasienetwerk van vyftien bondgenootlande wat saamgebind word deur hulle anti-kommunistiese ywer. Aaa, dit was die dae, toe ’n mens darem geweet het wie die vyand is.

Die spioene van SS15 is nie sommer net spelers in die plaaslike ligas nie. Hulle is die beste van die beste, die uitsoekagente van die betrokke lande. Hoewel hy te beskeie is om so te sê, (die avonture word in die eerste persoon oorgedra), is Olaf Bouwer die beste van die beste van die beste. Hy is ’n man van aksie, ’n dodelike karateka wat tog in die waarde van ’n goeie ou Boerevuishou op die regte tyd glo. En dít wat nie reg geslaan kan word nie, kan reg geskiet word, iets wat hy met sy getroue Walther P38-pistool doen.

“En onder my linkerarm, in sy spesiale houer, nestel die Walther P.38,” beduie hy, “ — die Duitse outomatiese pistool wat my lewe al telkemale gered en oor die jare ‘n getroue staatmaker geword het. ‘n Pistool nog meer verwoestend en gevaarlik as selfs die berugte Duitse Luger, met sy angeldun loop en in sy magasyn die dood wat daar sluimer in die vorm van agt loodpunt-koeëls. Ek wil liewer nie dink aan die mans, en vroue, wat die Walther P.38 al graf toe gestuur het nie . . .”

Dis net reg dat hy “en vroue” invoeg, want die vrou wat haarself met Olaf verbind, het ’n kort lewensverwagting. ’n Spioen in ’n eenmalige storie kan ’n vrou akkommodeer, maar nie ’n agent in ’n reeks nie. Dáárin word dit van hom verwag om in elke aflewering ’n nuwe skoonheid koud te sit, warm te vry en dan af te staan. Die lewensverwagting van ’n Bouwer-poppie is nog korter as dié van ’n Bond-meisie. En hulle is hulpeloos teen die sjarme van onse Olaf. Selfs wanneer hy net gaan om deur die organisasie se masseuse behandel te word, tuimel dié professionele vrou in sy arms. Dit is natuurlik net ’n voorsmakie van die hoofgevryery met ’n verruklike jong Spaanse meisie.

“Haar lippe is effens oop, uitnodigend en uitlokkend naby aan myne,” beskryf Olaf dié onderhandeling. “Haar arms gly om my nek en sy fluister iets in Spaans. Ons lippe ontmoet. Eers sag, soekend, onseker. Dan dwingend, met hartstog . . .

Buite die grot loei die wind in die donker nag.”

’n Ware man van die tyd praat nie uit die slaapkamer nie. Punt-punt-punt. Maar as jy ’n aanduiding wil hê van die intensiteit van die daad, nou ja, daardie wind loei buite die grot in die donker nag.

Pienaar karring nie juis met karakterisering nie, oftewel dan nie met sy hoofkarakter nie. Olaf is nou nie juis ’n ou wat voor ’n spieël staan om ’n kritiese verslag van sy uiterlike te gee nie; en ook nie werklik van sy innerlike nie. Wat ons van hom weet, kom uit terloopse aanmerkings in die ontvouende verhaal. Hy is ’n man van die wêreld, vlot in die belangrikste wêreldtale. Tog slaan sy Afrikanerheid telkens deur: Hy praat van ’n “Volksie,” en eet langtand aan kontinentale cuisine terwyl hy na ’n behoorlike homp vleis smag.

Hy kan ongenaakbaar wees, maar het tog ’n sagte kern. Bo alles is hy onwrikbaar lojaal teenoor SS15, selfs wanneer die organisasie sy onbesonne rug op Bouwer draai, ’n tema wat die raamwerk van Sending Verraad vorm. Wanneer hy berig ontvang van sy beste vriend en kameraad se dood, en boonop ingelig word dat dié swerkater ’n verraaier was, is sy eie betroubaarheid onder verdenking. In die beste hardgebakte spioenstyl, ruk hy sy Walther te voorskyn en dwing sy pad uit SS15 se hoofkwartier in Londen, waarna hy in sy baas se Citroën vlug “met skreeuende bande”.

Natuurlik is hy op ’n heldetog om die waarheid oor sy vriend se lewe en dood vas te stel. Sy tog lei hom van Engeland via die Mou na Frankryk, België en Spanje. Dit is die mees oortuigende deel van Bouwer in aksie: Sy intieme kennis van die geografie en kulture van die lande waarin hy opereer.

Tempo is alles en in Sending Verraad verloop dinge teen breeknekspoed. Die intriges is goed uitgewerk en gestaaf en Olaf se optredes is vernuftig en boeiend. Anders as Ian Fleming, vermy Stoffel Pienaar die gebruik van foefies en tegnologiese madoedats. Die hoogste tegnologie in die boek word verteenwoordig deur… Bouwer se Walther, wat anders? En dis ’n 9-millimeter wat blaf, knal, skop en vuur spoeg terwyl Olaf geregtigheid uitdeel aan ’n versameling maaifoedies wat dit deur en deur nodig gehad het. Die verhaal het ’n asemvervlakkende klimaks en ’n boeiende ontknoping. In sy kruisvaart word Olaf ondersteun deur ’n kleurvolle rol karakters, wat natuurlik ’n heldin, die beeldskone Maria, en haar hiperintelligente twee wolfhonde insluit.

Vir ’n vermaaklike, boeiende leeservaring, en dit in heerlike Afrikaans, kan jy beswaarlik meer vra as Sending Verraad. Maak soos ek. Ek het die TV afgeskakel, ’n lang beker se skuimende warm kakao gemaak en myself onder ’n donsduvet ingewikkel en my verdiep in Olaf Bouwer se avonture, soos gelees op my Prestigio-e-leser, terwyl ek na rolprenttemas uit die sestigerjare daarop luister.

Olaf Bouwer en Prestigio – ’n onverbeterlike kombinasie.

Данильченео

V-Dare meen daar is ‘n ‘volksmoord’ op SA blankes

Die invloedryke konserwatiewe webwerf, V-Dare, het so pas ‘n resensie geplaas waarin Ilana Mercer se boek oor Suid-Afrika ná !994, Into the cannibal’s pot, onder die loep geneem word. Die resensent, Eugene Girin, haal statistiek uit die boek aan wat aantoon dat ongeveer 10% van alle Afrikanerboere reeds sedert 1994 in plaasmoorde vermoor is.

Volgens Girin “loop blanke boere veral onder ‘n moordveldtog deur wat slegs as ‘n volksmoord beskryf kan word”.

Lees die volledige resensie in Engels hier.

Фільчаков прокурор

‘Lied van my hart’ verower harte

Steve en NadineDeon Opperman & Sean Else groet met twee ekstra vertonings

Na afloop van die eerste vertonings van Lied Van My Hart het dit gegons op sosiale netwerke. Terugvoer van gehore was oorweldigend positief en vol lof en waardering – soveel vertonings, soveel staande toejuigings!

Lied Van My Hart is die skryfspan Deon Opperman en Sean Else se super suksesvolle musiekspel waarin Afrikaanse treffers met ‘n oorspronklike verhaal verweef word. Meer as 19 000 mense het reeds na die Operahuis in Pretoria gestroom, om Lied Van My Hart te ervaar en vir talle was eenkeer net nie genoeg nie.

Deon Opperman sê: “Ons wil hê dat almal wat nog nie in hierdie vertoning van ongelooflike pret kon deel nie, dit wel kan doen voor die gordyn vir die laaste keer sak.” Gevolglik is daar 2 ekstra vertonings op Dinsdag 15 Mei en Woensdag 16 Mei. Dít boonop teen die afslagprys van slegs R195.00 per kaartjie, vir enige sitplek in die teater. Familie- en groepkorting ook beskikbaar.

Met supersterre Steve Hofmeyr en Nádine in die hoofrolle, ondersteun deur groot name soos Elzabé Zietsman, Vaughan Gardiner, Altus Theart en Michelle Botha, is Lied Van My Hart ‘n ster-en-treffer musiekspel skouspel soos nog nooit vantevore. Steve sê dit is vir hom ʼn lagterapie-ervaring. Een van die skaterlag oomblikke is wanneer ʼn aspirant-sanger (Blaise) tydens ʼn oudisie, vir Wayne le Roux (Steve Hofmeyr), sy eie verwerkte weergawe van die lied De la Rey sing. Elzette Kannemeyer (Elzabé Zietsman) ʼn superfeeks, sorg vir spanning en heelwat reaksie uit die gehoor. Jana de Wet (Nádine) is ʼn meisie met ʼn droom – om ʼn popster te word. Sy pak haar tas en verruil haar doodgewone bestaan, vir die roem en rykdom aan die einde van die groot stad se neon-reënboog. Deur haar aangrypende reis sien ons hoe die stad haar onskuld stadig inkatrol en sy in die web van roem verstrengel raak. Sy leer dat bekendheid en rykdom ʼn prys het, en dat die enigste manier om eg te leef, is om trou te wees aan die stem in jou hart…

Bespreking: Computicket-takke of aanlyn by www.liedvanmyhart.co.za
Vervaardigers: Packed House Productions & die Aardklop-Stigting
Rolverdeling: Steve Hofmeyr, Nádine, Elzabé Zietsman, Vaughan Gardiner (Gerhard – Hartland), Altus Theart (Fafa – Getroud Met Rugby), Michelle Botha (Cornia – Getroud Met Rugby), Cobus Venter, Tessa Denton, Johan C Venter (Flip-a-Coin), Edrien Erasmus, Sasha Stroebel en Jaco Muller.

Фильчаков прокурор отзывы

Politokrasie – ‘n vernuwende blik op moderne staatsbegrip

Oorspronklike en vernuwende denkers in die politieke wetenskap en filosofie is in ons moderne tyd so skaars soos hoendertande. Professor Koos Malan het egter deur daardie muur gebreek, en hierdie uitstekende boek die lig laat sien, waarin hy  die ontstaan en ontwikkeling van die moderne staat, of soos hy dit noem: “staatlikheid” ontleed en beskryf, en aan die einde met vefrissende logika en oorspronklikheid ‘n antwoord bring, wat hy “politokrasie” noem.

Hierdie boek is ‘n “moet lees” vir almal wat belangstel in die politiek, politieke wetenskap en staatsleer. Dit is in ‘n boeiende trant geskryf, en nêrens raak Malan in ‘n geykte langdradige akademiese gebrabbel vasgevang nie. Die logika van sy argumente word stapsgewys uiteengesit, en hy bou die ontstaan, ontwikkeling en finale wese van die begrip staatlikheid sistematies uit, tot by die krake in die moderne staat, waarna hy die alternatief aanbied.

Regter Eberhard Bertelsman van die Hooggeregshof beskryf die boek as “’n meesterlike opsomming van die geskiedenis van die Westerse staatsfilosofie, staatkunde en staatsreg…”

Frank Judo, advokaat in Brussel, België, vra die vraag: “Wordt de klassieke trias; monarchie, aristocratie en democratie binnenkort aangevuld met een vierde type, namelijk de politocratie?”

George Barrie van die Universiteit van Johannesburg, sê Malan se beskrywing van politokrasie, wat op daadwerklike demokrasie neerkom, verdien daadwerklike en diepsinnige oorweging.

Malan se ysige nugtere slotsom van die moderne territoriale staat is soos volg:

  • Dit verteenwoordig al vir drie eeue die meestersbegrip van die wêreld se dink en doen in die poltiek en die reg.
  • Dit baken grense af van dít wat doenbaar, denkbaar, haalbaar en toelaatbaar is in die openbare sfeer, en het terselfdetyd ‘n grondige uitwerking op die burgerlike sfeer en die private domein.
  • Die behoefte aan die instandhouding van die staatlike orde het gelei tot die vestiging van die moderne staatlike paradigma, en daarvolgens is wetenskaplike arbeid en ontwikkeling net gerig op die beskerming en instandhouding van die staatlike orde.
  • Een van die basiese uitgangspunte van die staatlike paradigma is dat die staat nie ‘n daadwerklike gemeenskap van mense veronderstel nie, maar dat dit bloot ‘n bevolking van enige aantal mense huisves, ongeag of daar enige bande van taal, kultuur, etnisiteit, godsdiens, afkoms of enigiets dergeliks tussen hulle hoef te bestaan.
  • Die enigste twee gemeenskaplike faktore tussen individue wat die staatsbevolking uitmaak, is, eerstens hulle teenwoordigheid in dieselfde territorium waarvan hulle gebruik maak om private belange te bevorder, en tweedens dat hulle aan dieselfde regsorde onderworpe is. Hulle is met ander woorde losstaande individue wat ‘n atomistiese bestaan ter bevrediging van private behoeftes en ter bevordering van private belange en voorkeure voer.
  • In die mate waartoe individue moontlik wel in ‘n taal-, godsdienstige, etniese, kulturele of dergelike groep ingebind is, is dit blote toeval en vir die inrig van die openbare orde juridies en polities irrelevant. Sodanige groeperings is slegs van private betekenis en mag nie as openbare realiteit hanteer word om sodoende die aard van die staat te bepaal nie.
  • Dus, in die openbare orde – die reg en die politiek – is slegs twee entiteite relevant: die individu en die staat.

Die leser word met die werklikheid gekonfronteer dat die mense binne ‘n staat net gebruik word om die staat as entiteit in stand te hou, en dat die staat nie ter wille van die mense binne sy territorium bestaan nie. Die staat het ‘n eiegeregtige dier geword.

Malan definieer sy nuwe politieke model, politokrasie, soos volg: “Politokrasie omskryf ‘n omvattende politiek-konstitusionele orde – veelsferige regering deur die burgers (politai) van elke politieke gemeenskap oor die besondere res publica – die gemenebes – van die betrokke gemeenskap.” Die begrip politokrasie is ontleen aan die klassieke Griekse begrip polis – die stadstaat. Die politai – die burgers – was die burgers van die polis en was as sodanig daadwerklik vir die regering van die polis verantwoordelik. Verder redeneer Malan dat met politokrasie weggedoen word met burgerskap se uitsluitlike vereenselwiging met die territoriale staat, en verbind dit darenteen primêr met beperkter en hegter tuistelike gemeenskappe waar ‘n res publica in reële terme bestaan en meer regstreeks en intiem deur die burgery beleef word.

Die ontleding van die moderne begrip staatlikheid en die model wat deur Malan omskryf word, bring werklik vernuwende denke oor veral state waar daar meer as een etniese of kulturele gemeenskap binne die moderne territoriale staat byeen is, en elke student van politieke en staakundige wetenskap sal armer wees om nie die boek te lees nie.

Titel: Politokrasie: ‘n Peiling van die dwanglogika van die territoriale staat en gedagtes vir ‘n antwoord daarop
Outeur: Koos Malan
ISBN: 978-0-9869857-3-7
Bladsye: 358
Omslag: Sagteband
Datum: 2011
Uitgewer: Pretoria University Law Press

 

топкарго

‘n Zombie van die Nuwe Suid-Afrika

Ek het so pas Fransi Phillips se roman, Net ‘n lewe, wat verlede jaar die eerste prys in Lapa se romankompetisie gewen het, op een slag klaar gelees. Op die eerste bladsy word die hoofkarakter in ‘n “relatief ordentlike moord” vermoor:

“Dit was ‘n relatief ordentlike moord, gemeet aan Suid-Afrikaanse standaarde. Haar lang, skraal vingers, wat vir my haar beste bate was, is nie afgesny nie en haar gesig is nie vermink nie. Net drie skoon skote deur haar hart.”

Die res van die boek bestaan uit ‘n vertroulike dagboek – die Franse het ‘n mooi woord daarvoor, ‘n journal intime – wat sy gehou het, asook enkele inleidende opmerkings deur haar vriendin, Heleen. In haar testament het sy die dagboek “om een of ander duister rede” aan Heleen, wat reeds in Australië woon, bemaak.

In die kort gedeelte oor “Die erflating”, vertel Heleen:

“Die laaste keer toe ek haar uit Australië gebel het, het sy my vertel dat sy nou net so bang is vir die polisie as die kriminele, omdat ‘n mens nie meer tussen die twee groepe kan onderskei nie. ‘Die polisie verhuur deesdae hulle uniforms aan die kriminele,’ het sy geskreeu van die lag.

My humorsin was nie heeltemal robuust genoeg om dit te akkomodeer nie. ‘Jy moet wegkom,’ het ek geroep. ‘Wat doen jy nog in daardie land?’

‘My lewe is net ‘n lewe,’ het sy gesug.

‘Die lewe is die kosbaarste ding wat bestaan!’

Sy was skielik somber. ‘En ook die nietigste.'”

Só, sommer met die intrapslag, plaas Phillips ons vierkant in die eksistensieel-politieke vraagstuk van die Nuwe Suid-Afrika: om te emigreer, of om te oorleef in een van die gewelddadigste lande op aarde waar anargie op soveel gebiede reeds heers.

Telkens in die boek verwys die reeds ontslape vertelster na haar “dooie taal, Afrikaans” waarin sy teen wil en dank aanhou skryf. Phillips se toon is voortdurend ironies, aweregs, plek-plek selfs kru.

Die blote feit dat hierdie teks met sy gestroopte styl en ontnugterde blik op ons land ‘n romanprys in die huidige Suid-Afrika kon wen, spreek vir my al boekdele, by wyse van spreke. Baie lank is die Afrikaanse letterkunde, ook vanweë die kulturele manipulasie van die Nasperskoerante, deur figure soos Antjie Krog en André P. Brink oorheers wat uit wit skuld en die stereotipering van hul eie mense vir ‘n buitelandse of Engelse gehoor kuns probeer maak het. Nou kom Phillips en toon aan ons ‘n wêreld soortgelyk aan dié wat ons elke dag beleef, waarin menselewens deur geweld verwoes word of waar witmense nie meer geredelik werk kan kry nie.

Om Net ‘n lewe as “polities onkorrek” te beskryf, laat egter nie reg geskied aan die veelkantigheid van Phillips se perspektief op ons tragedie nie. Want die tragedie van die “relatief ordentlike moord” wat die heldin se lewe kortknip, is ook metafoor vir ons almal se lewens wat op soveel maniere deur ‘n onhoudbare maatskaplike toestand geraak word.

Wat die boek verder interessant maak, is hoe ons die onlangse geskiedenis van Suid-Afrika en van die Afrikaner deur die oë van die vermoorde ervaar. Sy is ‘n skryfster wat huweliksprobleme opdoen, teen haar man se wil in die filosofie en Afrikaanse letterkunde belangstel, asook uiteindelik sukkel om werk te kry. Sekere politieke of geskiedkundige gebeure word hier en daar aangestip. Daar is egter ook ‘n sterk elment van outobiografie, met die vermenging van feit en fiksie. Bekende Afrikaanse skrywers en digters, asook politici en akademici, maak op verskeie plekke in die roman ‘n buiging.

Deur hierdie persoonlike geskiedenis, wat plek-plek ‘n lydingsweg word, word die treurige verhaal van die Afrikaner se afgang ook vertel. Dit betrek veral die verhouding tussen skrywers of kunstenaars en die volk, daardie verhouding wat sedert die sestigerjare en die rusie tussen Verwoerd en Van Wyk Louw oor Die pluimsaad waai ver so problematies geword het. Tydens haar studentedae by Tukkies is die heldin deel van ‘n linkse avant-garde-groep. Op bladsy 97 verwoord sy die naïwiteit van die destydse jeug en haar geloof in die mag van kreatiwiteit:

“Party mense dink seker dis cute wanneer ek my volk uitkak in die liberale kampuskoerant. Maar die enigste ding waarin ek regtig glo, is kreatiwiteit. As die ANC aan bewind kom, sal ek vir hulle my staatsfilosofie-taak stuur oor die grondwet wat gebaseer is op kreatiewe vryheid. Ja sure, hulle sal dit dadelik implementeer en dan is die land se probleme opgelos.”

In hierdie sardoniese paragraaf beskryf Phillips eintlik die onnoselheid en wêreldvreemdheid van ‘n hele geslag Afrikaanse skrywers, ons geslag, wat wou “oulik” wees en in die proses as bruikbare idiote tot die magsoorname van hierdie eienaardige, argaïese en kwasikommunistiese bewind bygedra het. Ook in ander passasies kan ons Net ‘n lewe lees as ‘n vorm van literêre en ideologiese selfkritiek.

En dit is iets wat vir my gesond en nódig is. Ek weet nie wie dit gesê het nie, maar ‘n klein kultuur kan nie bekostig om verdeeld te wees nie. Groot lande en nasies kan binne hul grondgebied revolusies of langdurige verdeeldheid tussen Katoliek en Protestant, Links en Regs, oorleef. Maar soos ons onlangse geskiedenis aangetoon het, lei verdeeldheid in eie geledere tussen skrywers en politici, of die versplintering in wedywerende partye en organisasies op die duur tot ‘n soort selfvolksmoord waarvan ons vandag vele van die meer makabere manifestasies beleef.

Iewers beskryf die hoofkarakter haarself insgelyks as “‘n kleptomaniese spook” wat poog om haar lewe van ander kant die graf “terug te steel”. Sy is met ander woorde ‘n soort lewende dooie, ‘n zombie – daardie populêre term vanuit die Negertoorkuns van die eiland Haïti – wat boonop in ‘n “dooie taal”, Afrikaans, skryf.

Maar soos Lazarus uit die dode opgestaan het en soos Afrikaans in die negentiende eeu begin herleef het nadat selfs die NG Kerk volkome verengels is, wéét ons dat Phillips se slagoffer van ‘n “ordentlike moord”, ten minste op skrif, nie heeltemal dood is nie, want sy spook steeds op ‘n skerpsinnige en indringende wyse by ons. Sy is (was) ‘n Afrikanervrou uit die tussenin-wêreld vóór die revolusie, daardie “interregnum” waarvan die Italiaanse kommunis Gramsci gepraat het en wat Nadine Gordimer in haar gewone bewondering vir alles wat Marxisties is as motto by haar novelle July’s People aangehaal het:

“The old is dying and the new cannot be be born; in this interregnum there arises a great diversity of morbid symptoms.”

Maar die heldin van Net ‘n lewe sweer by die God van Kreatiwiteit, iets wat telkens in die boek herhaal word. Uiteindelik, dink ek, wil Phillips vir ons sê dat die skeppingsdaad en selfs letterkunde die potensiaal van bevryding inhou.

In Suid-Afrika is “bevryding” reeds ‘n geykte en verdagte woord, veral besmet deur sy gebruik deur die ANC en SAKP as ‘n “bevrydingsbeweging”. Hoewel Phillips ‘n onthutsende blik op ons sosiopolitieke werklikheid bied, sou ek nie haar boek as “betrokke literatuur” wou beskryf nie, omdat daardie begrip ewe seer besmet is deur sy betekenis van “in ‘n verhouding tot die party te staan”. Soos soveel kommunistiese skrywers van die twintigste eeu wat hul naam en hul kuns aan ‘n politieke party, veral die Kommunistiese Party, vasgeketting het, het ‘n hele geslag plaaslike skrywers hulself as werktuie vir die ANC aangebied. Tot my stomme verbasing het André P. Brink nog onlangs in die Londense Financial Times sy matelose bewondering vir Oliver Tambo as iemand met “morele krag en filosofiese diepte” bely.

Sonder die ANC sou André P. Brink – of Nadine Gordimer en soveel ander – nie oor ‘n identiteit beskik het nie. Fransi Phillips staan in haar nogal postmoderne taalgebruik en lewensbeskouing ver verwyder van die tradisionele Afrikaanse letterkunde van, sê maar, die Dertigers. Tog sluit haar wonderlike vars boek met sy ironiese ontluistering van ‘n hele klomp van Mandela se heilige koeie al bulkend doer uit Qunu aan by die totale voorafgaande tradisie, as ‘n uitdrukking van ‘n bepaalde, inheemse Afrikaneridentiteit. Om Afrikaner te wees, is nie net om Die Stem te sing of om braaivleis, rugby en ander dinge te geniet nie, maar ook om soos die protagonis van Net ‘n lewe verknog te wees aan Marc Chagall of Paul Klee, of om klassieke musiek, kunsgeskiedenis of Westerse filosofie te waardeer.

By al die identiteitsvernietigende hoon wat daar vanuit die Kaapse enklawe en sy magtige media vandag teenoor die Afrikaner uitgegiet word, bespeur ‘n mens tog die herstel, die heling wat ‘n boek soos Net ‘n lewe bied. Dis sekerlik gebroke, elegies en geskied in ‘n mineurtoon. Dis kamermusiek – teenoor die bombasme, die Triomf (die Stellenbosser Marlene van Niekerk se links-fascistiese werk) wat soos rap-musiek vanuit ‘n uitspattige motor in een van ons vervalle middestede dawer.

Ons lewens – en ons kuns – is so nietig in ‘n filistynse land wat om twee ander K’s draai: korrupsie en konsumpsie. Nietemin is die uitsig wat Fransi Philips vir ons bied op ‘n nuwe soort letterkunde, anderkant wit skuld en politieke clichés, so opwindend dat ‘n mens nie anders kan as om te dink dat boeke en woorde dalk tog, soos Van Wyk Louw se “beiteltjie”, klippe en rotse en lande en selfs die aardbol middeldeur kan kloof nie.

Fransi Philips. Net ‘n lewe. Lapa-uitgewers, Pretoria, 2011. ISBN 978-0-7993-5160-6. Prys: R170.

топкарго отзывы

Gratis middagkonsert vandag in Pretoria!

Pretoria-PEN, die skrywersvereniging waarvan dr. Dan Roodt van Praag voorsitter is, bied vandag ‘n gratis orrelkonsert in Pretoria aan. Alle Praaglesers is welkom! Bring ook u vriende en familie saam.

Tyd: 15:00

Plek: Nederduits Hervormde Kerk, Du Toitstraat 169, Pretoria-middestad (agter die Reserwebankgebou)

Orrelis: Hentus van Rooyen, orrelis van die NG Kerk Waterkloof

Veilige parkering op die kerkgronde is beskikbaar

Om 14:00 sal daar ‘n besoek aan die S.P. Engelbrecht-museum, ‘n Afrikaner- kultuurhistoriese museum met allerlei interessante items, plaasvind. U is ook baie welkom om dit by te woon.

Фільчаков прокурор

Dan Roodt publiseer Kindle-boek

Johannesburg in fiveDr. Dan Roodt van Praag het so pas ‘n e-boek in Engels via Amazon.com se Kindle-stelsel gepubliseer met die titel Johannesburg in five. Die verhaal handel oor vyf minutein Johannesburg waartydens ‘n moord in ‘n parkeergarage in Sandton City plaasvind, asook ‘n skaremoord op ‘n Malawiër in Diepsloot.

“Ek was eintlik besig om James Joyce se Ulysses te lees, wat in Dublin binne een dag op 16 Junie afspeel. Daarom dag ek toe, waarom nie ‘n halfuur, of selfs vyf minute van Johannesburg nie?”

Toe hy uitgevra is oor die genre van sy kort Kindle-e-boek, wat as ‘n “Kindle Single” bekendstaan, het hy laggend gesê: “Dis ‘n soort ontmoeting van James Joyce met Mickey Spillane, deureenvermeng met ‘n ietsie van die Franse nouveau roman. Johannesburg is sinoniem met uitspattige inkopies en lukraak moorde, dus het ek dit in my storie probeer weergee. Dis ook baie eenvoudig geskryf, vir die globale leser.”

Waarom skryf Roodt in Engels op Kindle en nie op papier in Afrikaans soos voorheen nie? “Wel, ongelukkig aanvaar Amazon slegs Engels, Frans, Spaans, Duits, Italiaans en Portugees. Miskien sal ek later Frans probeer; dit kan nogal pret wees! Ek ek wil ook vir Amazon kontak om hulle te vra wanneer hulle e-boeke in Afrikaans gaan begin publiseer, aangesien Facebook en al die ander globale internetmaatskappye gaande oor Afrikaans is. En dan was die Afrikaanse literêre establishment nog nooit baie ingenome met my skryfwerk nie. Hoewel ek slegs hier en daar iets in Engels geskryf het, dring ‘n hele klomp mense in die VSA egter daarop aan dat ek meer in Engels moet skryf sodat hulle my óók kan lees. Ek is nogal ontroer deur ‘n groep Amerikaanse studente wat wil hê dat ek aanstaande maand in Februarie ‘n konferensie in Washington moet bywoon, maar ek is nie seker of ek sal kan gaan nie.”

Roodt is ook besig om ‘n bundel van sy essays in Engels saam te stel, wat insgelyks as Kindle-e-boek gepubliseer sal word, met ‘n papieruitgawe wat oor die volgende paar maande sal verskyn. Hy werk ook aan ten minste twee romans in Afrikaans, ‘n wetenskapfiksieverhaal oor ‘n beskaafde planeet wat deur barbare uit die buitenste ruim binnegeval word en ‘n lokasieroman. “Ek wou nog altyd ‘n lokasieroman skryf. Eens op ‘n tyd het my ouers naby die Alexandra-lokasie in Bramley gebly en daar is klokslag elke maand by ons ingebreek, dus meen ek ek het reeds ervaring van die lokasielewe. Ook het ek onlangs heelwat oor Sophiatown en sy bendekultuur gelees, waaronder Nadine Gordimer se ‘A world of strangers’, wat verder my belangstelling in die genre geprikkel het,” sê Roodt.

Intussen kan sy aanhangers hom op die Kindle lees. “Onthou net, jy het nie ‘n Kindle nodig om my Kindle Single te lees nie. Enigiets elektronies met ‘n internetverbinding sal werk: jou rekenaar, jou selfoon, jou tablet, wat ook al. Laai net die toepassing af en siedaar! Gaan na my outeursblad op Amazon.com of na danroodt.com waar ek ook ‘n skakel sal plaas.”

Om ‘n e-skrywer te wees, is harde werk, volgens Roodt. “Dit is e-puttend! Asof ek nie reeds genoeg webwerwe het om na om te sien nie, benewens duisende Facebook- en Twitter-vriende, moes ek nogmaals ‘n tuisblad danroodt.com vir my globale Engelse lesers skep. Dis nog heel eenvoudig, maar ek is van plan om heelwat biografiese inligting daarop te plaas, om ‘n begrip van myself en my lewe in ‘n vreemde land soos Suid-Afrika oor te dra.”

данильченко юрий брониславович прокурор