Olaf Bouwer, die onverskrokke baasspioen

Brittanje het nog altyd sy Bond gehad, die Amerikaners het deesdae hulle Bourne, maar ons Suid-Afrikaners het eens ons Bouwer gehad: Bouwer, Olaf Bouwer, baasspioen. Hy was die skepping van ’n skimagtige skrywer (moontlik selfs skrywers), Stoffel Pienaar, in die sestigerjare, ’n dekade van hardgekookte aksie en manne van yster wat vasvat wanneer hulle vat, of dit nou ’n vyandige spioen in ’n hysbak of ’n kurweryke meisie in die kooi is.

Olaf Bouwer is ’n yster onder die ysters. Soos dit die beste aksiespioene betaam, is hy ’n man grotendeels sonder ’n verlede. Ons weet hy is gebrei in die Franse Vreemdelegioen, wat sy kosmopolitisme verklaar. Daar was ’n vrou in sy verlede… (Daar is altyd een, nie waar nie?) Olaf is beslis nie ’n werk-in-wording nie. Hy is die afgeronde, baie gedugte, produk, geheel en al lojaal teenoor die organisasie waarvoor hy werk, SS15, wat beskryf word as ’n spioenasienetwerk van vyftien bondgenootlande wat saamgebind word deur hulle anti-kommunistiese ywer. Aaa, dit was die dae, toe ’n mens darem geweet het wie die vyand is.

Die spioene van SS15 is nie sommer net spelers in die plaaslike ligas nie. Hulle is die beste van die beste, die uitsoekagente van die betrokke lande. Hoewel hy te beskeie is om so te sê, (die avonture word in die eerste persoon oorgedra), is Olaf Bouwer die beste van die beste van die beste. Hy is ’n man van aksie, ’n dodelike karateka wat tog in die waarde van ’n goeie ou Boerevuishou op die regte tyd glo. En dít wat nie reg geslaan kan word nie, kan reg geskiet word, iets wat hy met sy getroue Walther P38-pistool doen.

“En onder my linkerarm, in sy spesiale houer, nestel die Walther P.38,” beduie hy, “ — die Duitse outomatiese pistool wat my lewe al telkemale gered en oor die jare ‘n getroue staatmaker geword het. ‘n Pistool nog meer verwoestend en gevaarlik as selfs die berugte Duitse Luger, met sy angeldun loop en in sy magasyn die dood wat daar sluimer in die vorm van agt loodpunt-koeëls. Ek wil liewer nie dink aan die mans, en vroue, wat die Walther P.38 al graf toe gestuur het nie . . .”

Dis net reg dat hy “en vroue” invoeg, want die vrou wat haarself met Olaf verbind, het ’n kort lewensverwagting. ’n Spioen in ’n eenmalige storie kan ’n vrou akkommodeer, maar nie ’n agent in ’n reeks nie. Dáárin word dit van hom verwag om in elke aflewering ’n nuwe skoonheid koud te sit, warm te vry en dan af te staan. Die lewensverwagting van ’n Bouwer-poppie is nog korter as dié van ’n Bond-meisie. En hulle is hulpeloos teen die sjarme van onse Olaf. Selfs wanneer hy net gaan om deur die organisasie se masseuse behandel te word, tuimel dié professionele vrou in sy arms. Dit is natuurlik net ’n voorsmakie van die hoofgevryery met ’n verruklike jong Spaanse meisie.

“Haar lippe is effens oop, uitnodigend en uitlokkend naby aan myne,” beskryf Olaf dié onderhandeling. “Haar arms gly om my nek en sy fluister iets in Spaans. Ons lippe ontmoet. Eers sag, soekend, onseker. Dan dwingend, met hartstog . . .

Buite die grot loei die wind in die donker nag.”

’n Ware man van die tyd praat nie uit die slaapkamer nie. Punt-punt-punt. Maar as jy ’n aanduiding wil hê van die intensiteit van die daad, nou ja, daardie wind loei buite die grot in die donker nag.

Pienaar karring nie juis met karakterisering nie, oftewel dan nie met sy hoofkarakter nie. Olaf is nou nie juis ’n ou wat voor ’n spieël staan om ’n kritiese verslag van sy uiterlike te gee nie; en ook nie werklik van sy innerlike nie. Wat ons van hom weet, kom uit terloopse aanmerkings in die ontvouende verhaal. Hy is ’n man van die wêreld, vlot in die belangrikste wêreldtale. Tog slaan sy Afrikanerheid telkens deur: Hy praat van ’n “Volksie,” en eet langtand aan kontinentale cuisine terwyl hy na ’n behoorlike homp vleis smag.

Hy kan ongenaakbaar wees, maar het tog ’n sagte kern. Bo alles is hy onwrikbaar lojaal teenoor SS15, selfs wanneer die organisasie sy onbesonne rug op Bouwer draai, ’n tema wat die raamwerk van Sending Verraad vorm. Wanneer hy berig ontvang van sy beste vriend en kameraad se dood, en boonop ingelig word dat dié swerkater ’n verraaier was, is sy eie betroubaarheid onder verdenking. In die beste hardgebakte spioenstyl, ruk hy sy Walther te voorskyn en dwing sy pad uit SS15 se hoofkwartier in Londen, waarna hy in sy baas se Citroën vlug “met skreeuende bande”.

Natuurlik is hy op ’n heldetog om die waarheid oor sy vriend se lewe en dood vas te stel. Sy tog lei hom van Engeland via die Mou na Frankryk, België en Spanje. Dit is die mees oortuigende deel van Bouwer in aksie: Sy intieme kennis van die geografie en kulture van die lande waarin hy opereer.

Tempo is alles en in Sending Verraad verloop dinge teen breeknekspoed. Die intriges is goed uitgewerk en gestaaf en Olaf se optredes is vernuftig en boeiend. Anders as Ian Fleming, vermy Stoffel Pienaar die gebruik van foefies en tegnologiese madoedats. Die hoogste tegnologie in die boek word verteenwoordig deur… Bouwer se Walther, wat anders? En dis ’n 9-millimeter wat blaf, knal, skop en vuur spoeg terwyl Olaf geregtigheid uitdeel aan ’n versameling maaifoedies wat dit deur en deur nodig gehad het. Die verhaal het ’n asemvervlakkende klimaks en ’n boeiende ontknoping. In sy kruisvaart word Olaf ondersteun deur ’n kleurvolle rol karakters, wat natuurlik ’n heldin, die beeldskone Maria, en haar hiperintelligente twee wolfhonde insluit.

Vir ’n vermaaklike, boeiende leeservaring, en dit in heerlike Afrikaans, kan jy beswaarlik meer vra as Sending Verraad. Maak soos ek. Ek het die TV afgeskakel, ’n lang beker se skuimende warm kakao gemaak en myself onder ’n donsduvet ingewikkel en my verdiep in Olaf Bouwer se avonture, soos gelees op my Prestigio-e-leser, terwyl ek na rolprenttemas uit die sestigerjare daarop luister.

Olaf Bouwer en Prestigio – ’n onverbeterlike kombinasie.

Данильченео

Maak 'n opvolg-bydrae