Die neus deur Deborah Steinmair. Uitgewer: Human & Rousseau. Prys: R180
Gratis as eboek uitneembaar deur alle PRAAG-lede hier.
Ek was aanvanklik heel opgewonde om Deborah Steinmair se jongste roman, Die neus, te begin lees. Die boek bevat ‘n aantal boheemse, selfs eksentrieke karakters wat die leser met hul aweregse gewoontes en uitsprake amuseer.
Op een stadium in die teks is drie van hulle, vergesel deur ‘n Labrador-gidshond en ‘n pou in ‘n outydse Volskwagen-kewer op pad Pretoria. Soos dit gestel word: “Op die ou end lyk hul deputasie na ’n rondreisende sirkus. Dit bestaan uit: Jesse, Aga, Rob die gidshond, Flaubert die pou en … Xun Wu.” Laasgenoemde is ‘n Chinese dwerg wat ‘n toenemend bose rol in die verhaal speel.
Die neus gee voor om ‘n soort postmoderne speurverhaal te wees waarin die hoofkarakter, Aga Gruber, haar eie herkoms probeer naspeur. Van haar familielede het op ‘n geheimsinnige manier gesterf. Sy word ook aanvanklik dopgehou deur ‘n buurman en die Chinese dwerg wat al hoe meer in haar lewe inmeng. Aga dra ‘n fedora en het ‘n besonder prominente reukorgaan, vandaar die boek se titel.
Die Duitse skrywer Patrick Suskind het natuurlik al ‘n literêre blitsverkoper genaamd Das Parfum in 1985 laat verskyn, dus is ‘n besinning oor reuk en neuse kwalik oorspronklik. Hier en daar filosofeer die verteller ook oor hoe reuk eintlik die bedekte oorsprong van ‘n sesde sintuig en voorgevoelens kan wees, iets waaroor Aga of Agathe (haar volle naam) Gruber in oormaat beskik. Sy weet dikwels presies waar om te kyk of waar om te grawe om foto’s, briewe of ander legkaartstukke te vind waarmee die duistere verlede van haar pa, ‘n geniale olfaktoriese wetenskaplike, ontrafel mag word.
Soos gesê, is ek aanvanklik deur die gegewe geboei. Ook kan Deborah Steinmair ‘n goeie Afrikaans skryf, wanneer sy nie haar karakters, soos veral die agterplaaswerktuigkundige Claude, ‘n oordrewe Engfrikaans laat praat nie. Ongelukkig is ‘n kennis van Afrikaans nie genoeg om as skrywer te kwalifiseer nie.
Want in die tweede helfte van die boek word die aanvanklike geheimsinnighede en belofte eenvoudig nie vervul nie. Die intellektuele uitdaging van haar gegewe blyk vir Steinmair op die duur te groot te wees. Al het sy hoeveel oor die rol van reuk by massasielkunde opgelees (agter in die boek verskyn ‘n lang lys internetskakels as ‘n soort bibliografie), kry sy dit nie reg om iets meer as ‘n ietwat eksentrieke verhaaltjie uit haar stof te tower nie.
Die Nazi’s is na hoeveel Hollywood-films, asook rekenaarspeletjies, ‘n onderwerp wat enige skrywer net met omsigtigheid kan benader omdat die gevaar dat ‘n mens in volslae clichés mag verval, so enorm is. Almal van ons het al die flieks gesien en miljoene tieners het oor die afgelope aantal jare een van die gewildste rekenaarspeletjies, Call of Duty World at War, asook die latere weergawe, Call of Duty Black Ops, gespeel waarin sogenaamde Nazi-zombies as vyande (en teikens) figureer. Een van die amateuragtige aanlynromans wat tans in Afrikaans te lees is – die skrywer erken rondborstig dat hy nie Afrikaans kan spel nie – Doodstraal, maak ook van ‘n Nazi-gegewe gebruik.
Pleks van ‘n “doodstraal” is reuk of die wetenskaplike manipulasie daarvan, die “geheime wapen” waaroor moorde in Die neus gepleeg word. Ook blyk Aga Gruber se moeder een van die berugte Lebensborn-baba’s uit die tweede wêreldoorlog te wees en haar pa, hoewel ‘n Nazi-hater en Sionis, was op die spoor van olfaktoriese metodes om massas mense te beheer of te manipuleer.
Deesdae en waarskynlik vanweë die Naspers-monopolie wat alle fasette van die Afrikaanse kultuur dooddruk, is daar lyk my nie meer goeie uitgewers of redakteurs by Human & Rousseau en ander NB-filiale in die Kaap oor nie. Eintlik is dit hartseer dat Steinmair se teks nie bietjie van sy gemeenplasighede en politieke korrektheid wat plek-plek deurslaan, gesuiwer is nie. Want die potensiaal was daar om ‘n ironiese, slim vermenging van literêre en speurverhaalkodes te pleeg. Dit kon so effens op die model van Umberto Eco of een van my gunsteling- Franse skrywers, Jean Echenoz, geskied het. In Les grandes blondes (Die lang blondines) bied Echenoz ‘n verhaal oor ‘n beeldskone model en sosiopaat wat mans na hartelus vermoor, met hope ironiese implikasies vir die eietydse verbruikersmaatskappy, asook ons obsessie met beeldskone, lang blondines. (Lees gerus ook die novelle deur Echenoz wat PRAAG as Een jaar uitgegee het.)
Pleks van ons op die duur te verveel en te irriteer, kon Steinmair ons dalk geamuseer en geprikkel het. Maar as die twee vriendinne, Aga en Jesse, uiteindelik blyk een of ander lesbiese aantrekkingskrag (nogal “magneties”) tussen mekaar begin voel, hoor ek al een of ander preek oor geslagslykheid en seksuele voorkeur. Net soos wat die Vodacom-advertensies ons ‘n tyd gelede oortuig het dat swartmense selfone baie beter as blankes verstaan, tower Steinmair ook ‘n aangenome jong swartman op, nogal met die Afrikaanse naam Theunis, hoewel hy ook blykbaar ‘n Thabo is, met ‘n hartstog vir Morse-kode en tegnologie.
By hierdie punt rafel die roman vir my heeltemal uit en word dit net nog ‘n sinnelose prul uit Kaapstad wat iewers in die hovaardige redaksiekantore van die Afrikanervyand in Heerengracht bewimpel is.
Elke oordeel oor ‘n boek is seker subjektief, maar uiteindelik onderskei alle groot skrywers hulle deur hul goeie smaak, of ‘n soort varsheid en oorspronklikheid wat uiteindelik die koring van die kaf skei. Die elemente van swak smaak wat in Die neus opstapel, raak op die duur net te veel. As Steinmair boonop Proust in Engels aanhaal – nogal die beroemde passasie oor die madeleine-koekie wat ek al iewers aanlyn in Afrikaans vertaal het, nogal op Litnet as ek reg onthou – dan gooi ‘n mens jou hande in die lug.
Is daar enigiets meer kitsch vir ‘n Afrikaanse skrywer as om Proust in Engels aan te haal? Toegegee, C.K. Scott Moncrieff en Terence Kilmartin het ‘n heel leesbare vertaling van Proust in Engels gemaak wat in ‘n aantreklike hardebanduitgawe in drie dele by Chatto & Windus verskyn het en waarvan ek insgelyks ‘n eksemplaar besit. Maar daar is sekere ongeskrewe reëls vir ‘n Afrikaanse skrywer en ek sou sê een daarvan is om nie Proust in die Rooitaal voor jou leser te smyt nie. Dis sooo… filistyns, so nouveau riche, so Naspers! Dis kort duskant die Sondag se bladsy drie. Dan kan jy maar net sowel vir Julius Malema of Kenny Kunene nooi om saam soesji van skamel geklede dames se lywe af te kom eet. Dit raak blote vertoon, smuk, ‘n bietjie kopieer-en-plak om “literêre gewig” aan jou middelmatige Nazi-storie te verleen.
Weereens, dit kon so anders gewees het. Want ek vermoed die probleem lê nie soseer by Steinmair nie, maar by die Umwelt waarvan daar ook in die boek sprake is. Ons omgewing en veral die media- en uitgewersmonopolie, is nie meer bevorderlik vir goeie of interessante letterkunde nie.
Die vernuftige, slim, ironiese, speelse postmoderne speurroman wat kodes vermeng bly daarom uit by Die neus. Pleks daarvan neem die kitsch en “kamp” situasies of karakters oor en daaragter skuil, wel, bloedweinig met substansie.
Nóg die leser wat op soek is na ‘n behoorlike speurverhaal of roman noir, nóg die literêre leser gaan deur Die neus bevredig word. Dis egter nie te lank nie, en hier en daar skryf Steinmair ‘n paar mooi sinne. Dus kan dit ‘n verveelde aandjie of middag vul.
Maar iewers moet daar beter boeke in Afrikaans versteek wees. Waar is hulle? wonder ‘n mens.
Neem hierdie boek gratis uit by PRAAG se ebiblioteek. Indien u nog nie lid is nie, sluit hier by Klub digiTAAL of by PRAAG aan.
