Hoe Media24-berigte die waarheid rek

Charles Smith, tans adjunkredakteur van Volksblad, was ten tye van die vorige Amerikaanse presidentsverkiesing die verteenwoordiger van Media24 in Washington DC. Toe was hy so opgetrek met die nuutheid (en kontras) van ‘n swarte in die Withuis dat hy beweer het dat Obama die enigste persoon was wat Amerika kon red. Smith skryf steeds asof hy ‘n gesaghebbende oor hierdie onderwerp is, te oordeel aan sy berig op 28 Oktober in Rapport. Maar hoe objektief doen hy dit?

In Smith se beskrywing van die Republikeinse presidentskandidaat, Mitt Romney, word die volgende woorde gebruik: hy is Mormoons, flambojant en grootpraterig. Later word Romney van grootpratery, dubbelpratery en bontpratery beskuldig. Dat Romney ‘n miljoenêr is, word beklemtoon: “Vir hom draai alles om geld” en “Hy blaas baie van sy fortuin van $250 miljoen” in sy poging om in die Withuis te kom.

Assosiasie met wind speel ‘n groot rol in Smith se tipering van “die windbol van Massachusetts”. “Romney is ‘n opblaaspop wat al hoe groter word hoe meer wind hy opskop.” Hy is so “opgepomp” dat hy die Obama-trefferwoord “hoop” glo “afgestof” het. In werklikheid word die woord “hoop” reeds dekades lank in swartmaggeledere vir pro-swartdoeleindes misbruik (vra maar plaaslik vir bv Russel Botman en Nico Koopman). ‘n Ander opsig waarin Romney glo vir Obama na-aap, is met die verandering-refrein. Maar die aandrang op verandering is nog iets wat kenmerkend van die swartmagbeweging is; ook in Suid-Afrika. ‘n Oomblik se nadenke bring ‘n mens egter tot die besef dat dit nie om verandering as sodanig moet gaan nie, maar eerder spesifiek om verbetering.

Met verwysing na die lang periode toe geen witte daarin kon slaag om die wêreldswaargewig-bokskampioen te word nie, word spottend na Romney as “The Great White Hope” verwys. “Die maklikste manier om hom op te som, is: ‘n ‘Reagan Lite’ en ‘n ‘George W Bush Bright'”. Romney word ook vergelyk met Koos Kombuis se “d**s van Bellville-Oos”. “Hy is ‘n gladde, sjarmante smous wat die Amerikaanse droom aan Yanks opdis met ‘n Colgate-wit glimlag en ‘n Reagan-kuif. En Obama is die Moslem/Arabier/swarte/sosialis wat jóú geld vat en uitdeel. Hy en die regses het die vals beeld van Obama as ‘n swart Frankenstein-monster so goed aan die Yanks verkoop dat hulle dit al glo.”

Geen wonder dat Romney glo “amper per ongeluk” die Republikeinse kandidaat geword het nie. Romney beoog om “Obama se pantoffels uit die Withuis” te “smyt”. Dit is duidelik dat Smith dit nie net teen Romney het nie, maar ook teen die regses. Hy praat nie van die regterflank van die Republikeinse Party nie, maar van die “regterfalanks”; ‘n woordkeuse wat moeilik met die HAT versoenbaar is. In die konteks van regse politiek het Smith ‘n ander naam vir die Amerikaners, naamlik “die Yanks”.

In teenstelling met sy beskrywing van Romney, beskryf Smith die Demokratiese presidentskandidaat, Barack Hussein Obama, as ‘n “eens onstuitbare” en “dienende president”, asook as ‘n “stillerige alleenfiguur”. ‘n Argument wat Obama teen Romney gewen het, word ‘n “bekstilmaker soos min” genoem. “Obama het die afgelope week die derde en laaste openbare debat met gemak gewen – en dit reggekry om Romney te laat lyk na die politieke draaijakkals sonder oortuigings en beginsels wat baie glo hy is.” Eers was Romney glo “so regs as kan kom. Nou seil hy in meer gematigde waters in ‘n poging om soos ‘n staatsman te lyk.”

Geen smeerwoord word oor Obama geuiter nie. Anders as met Romney, word daar ook niks oor bv Obama se hare gesê nie. Ons al gewoond daaraan dat bv Richard Nixon en George W Bush met oorgawe sleggesê word. Politiek-korrek word dit nie met Obama gedoen nie; allermins deur Smith. Bill Clinton word as “daardie ou Demokratiese meester” voorgehou.

Ten slotte word gesê die verkiesing is tussen “Meneer Ego” en “President Geheimsinnig”. Let op hoe hierdie onderskeie aanspreekvorme en beskrywings Obama doelbewus op ‘n hoër trappie as Romney plaas. Dit wil voorkom asof Smith dink dat hy met sy skryfwerk Obama in die Withuis kan hou.

Tydens die vorige presidentsverkiesing is daar van wit Amerikaners verwag om hulle “rassisme” agter te laat en vir Obama te stem. Soos in die vorige rondte, dui persberigte daarop dat die Amerikaanse swartes weer bankvas vir Obama steun. Hieroor rep Smith geen woord nie. By swartes is daar mos nie rassisme nie; daar is net solidariteit. Insgelyks, in die nuwe Suid-Afrika is daar van owerheidsweë nie rassediskriminasie nie; daar is net regstelling.

Smith se eensydige en myns insiens bevooroordeelde beriggewing is nie tot die laaste twee Amerikaanse presidentsverkiesings beperk nie. Onlangs het hy die Boertjiesfees op Bultfontein bygewoon. Blykbaar was die enigste motief vir sy besoek die begeerte om uitdrukking aan sy afkeer van tradisionele Afrikaners te gee. Sy verslag oor die byeenkoms is in By, Die Burger se bylae, gepubliseer. Dit strek oor twee bladsye (22 September, p 8-9).

Smith het na Bultfontein gegaan om nie net snedige teks teen Afrikaners te skep nie, maar ook om foto’s te neem. Die hooffoto toon ‘n swart kind wat ‘n pet met die nuwe landsvlag op sy kop het. Die swarte is op die voorgrond geposisioneer, met wit volkspelers in die agtergrond. Die boodskap is myns insiens duidelik. Die voorgrond toon vir Smith die goeie, aanvaarde hede. In die agtergrond is die slegte verlede. In die teks en foto’s vind ek geen aanduiding dat daar by Smith waardering vir goeie, beskaafde mense is wat hulle kultuur in bv Afrikaans, boeremusiek, boeresport en volkspele uitleef nie.

Hoewel ek teen sensuur gekant is, moet die vraag gevra word of die soort joernalistiek waarna hierbo verwys word, hoegenaamd in eerbare of ernstige publikasies tuishoort. Hendrik Coetzee, Die Burger se inwonende “ombudsman”, se standaardverweer is dat Media24 ‘n etiese kode het waarvolgens sy joernaliste hulle tot die waarheid in beriggewing verbind. My indruk is dat daar meningsvormers is wat weet hoe om die waarheid te rek en daarmee weg te kom.

topcargo отзывы

Maak 'n opvolg-bydrae