Berlusconi moet agter tralies

‘n Italiaanse hof het Donderdag die voormalige premier Silvio Berlusconi tot een jaar tronkstraf gevonnis in verband met ‘n meeluister-skandaal.

Berlusconi sal heel moontlik teen die besluit appelleer en vir eers uit die tronk bly.

Die 76-jarige is skuldig daaraan bevind dat hy gereël het dat die polisie ‘n politieke teenstander van hom afluister, waarna hy die inligting wat daardeur verkry is, aan ‘n koerant gelek het.

Berlusconi se broer besit die koerant.

Berlusconi appelleer tans teen ‘n ander ‘n skuldigbevinding vir belastingbedrog en word ook deur aantygings in die gesig gestaar dat hy met ‘n minderjarige prostituut seks gehad het.

Oscar se pa looi ANC oor misdaad, plaasaanvalle

Oscar Pistorius se pa, Henke, het die ANC uitgesonder as verantwoordelik vir die hoë voorkoms van misdaad teen wittes in Suid-Afrika, berig die Telegraph.

Henke het gesê die ANC-regering se onvermoë om gewelddadige misdaad te bekamp daartoe lei dat baie Suid-Afrikaners vuurwapens besit.

Die Pistorius-familie wat ooms en neefs insluit, besit glo altesaam 55 vuurwapens.

Volgens Henke is die wapenversameling vir jag, maar sluit ook wapens vir selfverdediging in. Henke het kapings en plaasaanvalle teen wit boere uitgesonder.

“Sommige van die vuurwapens is om te jag en die handwapens word gebruik vir beskerming. Dit sê iets oor die ANC-regering; kyk na die misdaadvlakke teen witmense. Hoekom is beskerming so swak in die land? Dit is ‘n aspek van ons samelewing,” het hy gesê.

“Jy kan nie op die polisie staatmaak nie, nie omdat hulle ondoeltreffend is nie, maar omdat die misdaad so erg is.”

‘n Woordvoerder van die ANC, Ishmael Mnisi, het Henke se uitlatings as “kommerwekkend” beskryf.

“Misdaad is iets wat almal in die land raak. Ons het erken dat dit ‘n probleem is, maar die regering doen baie om die kwessies aan te spreek.

“Dit regverdig nie dat ‘n persoon ‘n vuurwapen kan gebruik om moord te pleeg of vuurwapens in sy huis te hou nie. Mense moet misdaad by die polisie aanmeld. Oscar se pa het geen reg om dit te sê nie. Dit is ‘n baie kommerwekkende stelling.”

Chavez verloor stryd teen kanker

Latyns-Amerikaanse leiers betreur die dood van die president van Venezuela, *Hugo Chavez. Chavez is gister dood na ‘n lang stryd teen kanker. Hy was 58.

Die voormalige valskermsoldaat het Venezuela 14 jaar lank regeer. Hy is in Oktober herverkies vir ‘n volgende termyn van sewe jaar, maar is weens sy siekte nooit ingehuldig nie.

Chavez se liggaam sal in staatsie lê tot met sy begrafnis wat vermoedelik Vrydag sal plaasvind.

Die visepresident Nicolas Maduro sal waarneem as president en ‘n verkiesing moet ingevolge Venezuela se grondwet, binne 30 dae uitgeroep word.

VSA se besnoeiings knou weermag

Pres. Barack Obama en vooraanstaande Republikeinse kon teen Vrydag nie ooreenkom oor maatreëls om $85 miljard (sowat R770 miljard) se outomatiese begrotingsbesnoeiings te verhoed nie.

Dié besnoeiings se impak sal nou in die Amerikaanse weermag en verskeie ander staatsinstellings gevoel word.

Beide Obama en die Republikeinse het teen Vrydagaand ná ‘n noodvergadering by die Withuis gesê hulle kan steeds nie ooreenkom oor die weg vorentoe nie. Die twee groepe verskil oor die president se aandrang dat belastingverhogings ‘n noodsaaklike deel is van enige plan om die land se skuldlas van $16,6 biljoen te verminder.

Obama het Vrydagaand ‘n dokument onderteken wat die besnoeiingsmaatreëls van krag maak. Hy het tot Vrydag middernag gehad om oor die kwessie te besluit.

Obama en die leiers van die Republikeine stamp koppe oor dié kwessie sedert die opposisie meer as twee jaar gelede ‘n meerderheid in die Huis van Verteenwoordigers behaal het.

Die inkrimping van die begroting, wat fondse na talle regeringsdepartemente besnoei, is in 2011, toe dit aanvanklik voorgestel is, as só onaantreklik beskou dat beide partye waarskynlik sou probeer het om ‘n beter oplossing te vind. Weens die twee jaar wat die partye daaroor kibbel, het dit nog nie gerealiseer nie.

Die besnoeiings is van toepassing op die res van die finansiële jaar, wat op 30 September tot ‘n einde loop.

“Laat ons duidelik wees. Niks hiervan is nodig nie,” het die president ná die vergadering in die Withuis gesê.

“Dis ‘n keuse wat Republikeine in die kongres gemaak het” om te verhoed dat belastingskuiwergate uitgeskakel word wat rykes bevoordeel.

Oscar Pistorius haal die voorblad van TIME

Die Paralimpiese atleet Oscar Pistorius wat van moord aangekla word, is op die Maart-uitgawe van die tydskrif Time wat Vrydag in die Verenigde State, Asië en die suidelike Stille Oseaan beskikbaar is.

Op die voorblad staan Pistorius hemploos in ‘n oefenbroek met sy ikoniese lemme. Die woorde “Man. Superman. Gunman.” is oor sy foto gedruk.

Volgens die tydskrif se webwerf is daar ‘n artikel van ses bladsye, getiteld: “Oscar Pistorius and South Africa’s culture of violence”.

Pistorius word daarvan beskuldig dat hy sy vriendin, Reeva Steenkamp, op Valentynsdag in sy huis vermoor het. Hy het die aanklag ten sterkste betwis. Die ster-atleet is verlede week borgtog van R1 miljoen toegestaan.

In ‘n beëdigde verklaring wat hy as deel van sy borgtogaansoek ingedien het, het Pistorius gesê hy het gedink daar is ‘n inbreker in die huis toe hy die skote afgevuur het.

Italië se komediant laat politieke krisis verdiep

Die politieke krisis in Italië het verdiep, nadat twee partyleiers die moontlikheid verwerp het om ‘n regering te vorm en ‘n nuwe verkiesing af te weer.

Die populistiese leier van die Vyfster-beweging, Beppe Grillo het toenadering van die sentrum-linkse leier Pier Luigi Bersani met beledigings verwerp, terwyl Bersani se junior koalisie-vennnoot Nichi Vendola ‘n regeringsalliansie met die sentrum-regse groepering onder leiding van Silvio Berlusconi verwerp het.

Grillo se party het teen alle verwagtinge in deur derde te eindig, vir ‘n opskudding gesorg.

Die voortslepende onsekerheid in die Eurogebied se derde grootste ekonomie het markte aanvanklik skerp laat daal, maar teen gister was daar weer bestendigheid.

Grillo het die skynbaar onmoontlike vermag deur alleen op sosiale media – en die groot geld nie – staat te maak om die korrupsie in die politieke klas in Italië aan die kaak te stel. Sy byeenkomste is deur honderde duisende jong Italianers met tersiêre opleiding ondersteun. Grillo is ‘n komediant van beroep.

Duitse regering wil verregse party verbied

Duitsland se federale regering beplan om wettige pogings om die land se grootste ver-regse party te verbied, te steun.

Die Duitse nuusagentskap DPA berig dat die Minister van Binnelandse Sake Hans-Peter Friedrich Maandag verklaar het dat die regering Duitsland se 16 deelstate sal volg om ‘n verbod op die Nasionaal-Demokratiese Party te vra.

Die Ministerie van binnelandse sake se amptenare kon nie onmiddellik vir kommentaar bereik word nie.

Die regering het die NPD beskuldig van die bevordering van ‘n rassistiese, xenofobiese en anti-Semitiese agenda in skending van die land se grondwet.

Duitsland se Federale Konstitusionele Hof het ‘n versoek deur die federale regering ‘n dekade gelede verwerp om die party te verbied nadat dit aan die lig gekom het dat die getuienis van betaalde regeringsinformante binne die NPD gebruik is om die party te diskrediteer.

Omdat die NPD setels in twee nasionale parlemente hou, ontvang hulle meer as 1 miljoen Euro aan openbare befondsing jaarliks​​.

Hillary se opvolger Kerry doen ‘n eierdansie

Amerika se nuwe topdiplomaat is reeds verstrengel in probleme en verwarring vóór sy beplande reis waarvan die belangrikste fokus internasionale aksie in Sirië is.

John Kerry sou in Londen Maandag aankom op die eerste been van sy toer na nege lande in Europa en die Midde-Ooste, maar amptenare skarrel nog om ‘n beplande vergadering tussen die nuwe Amerikaanse staatsekretaris en die leiers van die Siriese opposisie vir Donderdag te red .

“Nou, laat ek dit duidelik maak, ons sal voortgaan om nou saam te werk met ons Britse bondgenote om die groeiende humanitêre krisis aan te spreek, en die Siriese opposisie te ondersteun. Ons koördineer met die Siriese opposisie, ons koördineer met die VN en met ander ten einde te help om verligting aan die slagoffers wat hulp nodig het te verleen,” het Kerry gesê.

Die leiers van die Siriese opposisie dreig om die vergadering in Rome te boikot, volgens die New York Times, “om protes aan te teken teen wat hulle sien as swak internasionale steun.” Die administrasie het Amerikaanse ambassadeur in Sirië Robert Ford na Kaïro gestuur om te probeer om die rebelleleiers te oorreed om in Rome gesig te wys om nie vir Kerry ‘n verleentheid te skep nie.

Die Europese Unie het besluit om hierdie week nie ‘n einde van sy embargo op die verskeping van wapens aan die Siriese opposisie toe te laat nie, maar die Verenigde Koninkryk het nogtans deur middel van ‘n slu maatreël toelaatbare nie-dodelike ondersteuning aan die gewapende opposisie ingesmokkel wat nagvisiebrille, gepantserde voertuie en koeëlvaste kleding insluit, het senoir Amerikaanse amptenare gesê.

Amerika se sogenaamde vyande, Al Kaida, vorm deel van die Siriese opposisie wat president Assad wil ontsetel.

Daar is dus geen verwagting dat die Obama-administrasie sy nuwe onwilligheid om wapens aan die Siriese rebelle te verskaf, sal laat vaar nie.

“Ek hoef niks verder by te voeg op ons benadering tot wapens in Sirië nie,” het die amptenaar gesê.

Wie boesem die minste vertroue in?

Altyd gedink politici boesem die heel minste vertroue in? Toe nie! Daar is ‘n spesie wat nog swakker vaar, naamlik Britse joernaliste.

Volgens ‘n Ipsos MORI peiling wat Vrydag verskyn het, vertrou slegs 21 persent van volwassenes in Brittanje joernaliste om die waarheid te vertel, en 72 persent vertrou hulle nie.

Selfs lede van die parlement in die algemeen het beter as verslaggewers gevaar. Daar het 23 persent hulle vertrou om die waarheid te vertel, ten spyte van hul bewese vermoë om skandale te genereer.

“Die resultate kan eenvoudig die toestand van Britse joernalistiek weerspieël,” skryf Harvey Morris skryf in The International Herald Tribune. Natuurlik het van die voormalige poniekoerantwerknemers agv die onlangse telefoon-afluisterskandaal bygedra tot die verlies aan geloofwaardigheid.

Die kwessie van vertroue is te wyte aan vinnige tegnologiese verandering, wat twyfelagtige praktyke van sommige van die rooi-skrif koerante in Brittanje oopgevlek het.

Nuuslesers het beter gevaar, met 69 persent van die respondente wat hulle vertrou om eerlik te wees. In die peiling se kruistabelle, kan jy sien dat die inwoners van multikulturele Londen joernaliste die meeste vertrou, terwyl die etniese wit Skotte hulle die minste vertrou.

In die VSA, vaar joernaliste ietwat beter as mense wat versekering en motors verkoop in ‘n onlangse peiling oor eerlikheid en etiek. Veertig persent van Amerikaners vertrou die media volledig om akkuraat en regverdig rekord te hou.

Switsers hou EU-perdevleis op rakke

Switserse supermarkte het Woensdag sekere perdevleis-produkte van hul rakke gehaal ná dit aan die lig gekom het dat haglike toestande heers op sommige plase waar perde vir vleis geteel word.

Die meeste perdevleisprodukte van Frankryk en Pole, waar dit algemeen beskikbaar is, word egter steeds te koop aangebied.

Nuwe bewerings oor die mishandeling van perde waarmee in die Amerikas geboer word, het aan die lig gekom ná die Europese perdevleis-skandaal ook op ander kontinente opslae gemaak het.

In die jongste voorval is ‘n ingevoerde lasagne-dis van winkelrakke in Hongkong verwyder.

Die Duitse afslag-supermarkgroep Lidl sê hy het alle perdevleis-produkte van sy rakke in Switserland verwyder, terwyl die land se tweede grootste supermarkgroep, Coop, gesê het hy het sowat 20 worsprodukte wat perdevleis bevat, onttrek.

Dié stappe kom te midde woede oor ‘n ondersoekende verbruikersprogram wat Dinsdagaand op ‘n Switserse televisiekanaal uitgesaai is. Die beeldmateriaal het uitgeteerde en siek perde gewys wat op plase buite die EU in sommige lande aangehou word wat vleis aan Switserse winkels verskaf.

Die dierebeskermingsvereniging in Zürich het ondersoekbeamptes na Kanada, die VSA, Mexiko en Argentinië gestuur, lande wat groot hoeveelhede perdevleis verskaf, om te ondersoek hoe die diere aangehou, vervoer en geslag word.

“Ons ondersoekbeamptes het gevind dat die perde geteel word in toestande wat nie voldoen aan enige van die norme wat in Switserland en die Europese Unie aanvaar word nie,” het Sabrina Gurtner, die projekleier, gesê.

Coop het nietemin gesê hy sal voortgaan om vars perdevleis te verkoop en het uitgewys dat hy 70% van sy perdevleis van Frankryk ontvang en die ander 30% van Pole.

Switserland se grootse supermarkgroep, Migros, het intussen gesê hy sal geen perdevleis-produkte onttrek nie en sê hy vertrou sy Kanadese verskaffer.

Gedroogde perdevleis-produkte word oor Switserland heen aangetref.