Ashanti-goud in Oslo gegaps

Twee Peruviaanse mans word in Noorweë verhoor waar hulle daarvan verdink word dat hulle verskeie kilogram goud van die koning van die Ashantivolk in Ghana gesteel het.

Die juweliersware wat op meer as ‘n miljoen rand geraam word, was in ‘n tas wat van Koning Otumfuo Osei Tutu se afvaardiging gesteel is terwyl hy gewag het om by ‘n hotel in Oslo in te teken.

Een van die mans het aan die hof gesê hy was onder die indruk dat hy ‘n tas met ‘n skootrekenaar in gesteel het. Die juweliersware word deur die koning gebruik wanneer hy sy seremoniële pligte nakom.

Diplomaat wat vrou slaan, agter tralies

‘n Japannese diplomaat wat in Kalifornië woon, is tot een jaar tronkstraf gevonnis omdat hy sy vrou mishandel het.

Hy sal  in Mei die vonnis begin uitdien.

Yoshiaki Nagaya, vise-konsul by Japan se konsulaat in San Francisco, sal ‘n minimum van ses maande by ‘n tronk in San Mateo uitdien, het die San Francisco Chronicle Maandag berig.

Beamptes van die hof nie bereik word vir kommentaar nie.

Nagaya het in Desember ‘n pleitooreenkoms met die deelstaat bereik. Gevolglik is sy moontlike maksimum vonnis van 20 jaar na slegs een jaar verminder.

Die 33-jarige Nagaya is aangekla van 17 misdrywe, 14 van huishoudelike geweld en drie van aanranding, insluitend dat hy sy vrou met ‘n skroewedraaier gesteek en een van haar tande uitgeslaan het.

Amerikaanse beamptes het gesê sy status as vise-konsul gee hom nie immuniteit teen vervolging van misdade wat nie met sy diplomatieke status verband hou nie.

Die vrou, Yuka Nagaya, het getuig dat hulle huwelik gewelddadig was. Sy en haar man het glo baie gestry oor haar vermoedens dat hy ontrou is. Sy het teruggekeer na Japan.

Bykomend tot sy tronkstraf moet Nagaya 104 ure se berading vir huishoudelike geweld voltooi.

China se wapenuitvoere klim

China het Brittanje verbygesteek as die wêreld se vyfde grootste uitvoerder van wapens, het ‘n Sweedse dinkskrum Maandag gesê.

China se wapenuitvoere het met 162% gestyg in die vyf jaar van 2008-2012, vergeleke met die vorige vyf jaar, het die Sweedse Internasionale Instituut vir Vredesnavorsing (Sipri) in sy verslag gesê.

Dit beteken China se aandeel in alle internasionale wapenuitvoere het van 2% na 5% gestyg en die land het van die agste na die vyfde posisie op die lys van uitvoerders gestyg.

Die grootste koper van Chinese wapens is Pakistan, wat 55% van die land se uitvoere koop, gevolg deur Mianmar, met 8% en Bangladesj met 7%, het Sipri gesê.

“China se groter uitvoere word hoofsaaklik gedryf deur grootskaalse wapenaankope deur Pakistan,” het Paul Holtom, direkteur van die Sipri Arms Transfers Programme, gesê.

Nietemin dui ‘n paar onlangse transaksies daarop dat China hom as ‘n belangrike wapenverskaffer aan ‘n toenemende aantal lande vestig.

Sulke ooreenkomste sluit in die verkoop van drie fregatte aan Algerië, agt vervoervliegtuie aan Venezuela en 54 tenks aan Morokko, het Sipri gesê.

Amerika bly die wêreld se grootste uitvoerder van wapens in die tydperk van 2008-2012, met 30% van die internasionale volume.

Rusland is tweede, met 26%; Duitsland is derde, met 7%; en Frankryk vierde, met 4%, het Sipri gesê.

China wys nuwe president aan

Die Chinese parlement het Xi Jinping Donderdag as president aangewys, vier maande nadat hy as leier van die Kommunistiese Party verkies is.

Gedurende sy tyd as leier van die Kommunistiese Party het hy onderneem om hervormings deur te voer, ‘n aankondiging wat burgers vol hoop gelaat het. Daar is egter min verandering nog sigbaar.

Sowat 3 000 afgevaardigdes het byeengekom om hul kruisies in Beijing se Groot Volksaal te trek, alhoewel die uitslag reeds vooraf bekend was.

Xi het 2 952 stemme ontvang, met een stem teen hom en drie bedorwe stembriewe.

“Ek maak bekend dat kameraad Xi Jinping verkies is as president van die Republiek van China,” het Liu Yunshan, wat die sessie gelei het, aangekondig.

Die 59-jarige Xi het opgestaan en voor die afgevaardigdes gebuig voordat hy ander beamptes se hande geskud en van die verhoog af gestap het.

Xi se aanstelling as leier van die wêreld se tweede grootse ekonomie sal Vrydag gevolg word deur die benoeming van Li Keqiang as premier.

Habemus Papam!

Van “die einde van die aarde,” het die Katolieke Kerk ‘n verrassende nuwe leier Woensdag aangewys, ‘n pous van Argentinië, wat die naam Franciskus dra. Hy is ‘n herder, eerder as ‘n bestuurder om ‘n kerk en geloof in krisis te lei. Hy is die eerste Pous van die Nuwe Wêreld en die eerste nie-Europeër sedert die Middeleeue.

Vroeër Woensdag, met krete van blydskap uit die skare, onder ‘n see van sambrele, het wit rook ‘n paar minute na 19:00 geborrel uit die koperskoorsteen bo die Sistynse Kapel. “Habemus Papam!” – “Ons het ‘n pous!” – Hulle het gedreunsing terwyl die klokke in die St Petrus-basiliek en katedrale regoor Rome gebeier het.

Die basiliek is op Petrus se graf gebou, neffens die plek waar Nero hom laat doodmartel het. In 1506, onder pous Julius II, word die eeue-oue kerk gesloop en in 1626 is die nuwe St-Petrusbasiliek, ‘n mengvorm van Renaissance-en barokstyl, uiteindelik klaar. Om die koste van die gebou te dek verkoop die Kerk aflatings, ‘n praktyk wat in Duitsland sou lei tot die Protestantse Reformasie van Maarten Luther.

In Duitsland het kanselier Angela Merkel sy aanwysing verwelkom en gesê dis verblydend dat hy uit Suid-Amerika kom. “Selfs ver buite die Katolieke vorm van geloof verwag mense ‘n rigtingaanwysing van hom – nie net in geloofskwessies nie, maar vir vrede, geregtigheid en die integriteit van die Skepping.”

Merkel is die dogter van ‘n Lutherse pastoor.

Kardinaal Jorge Mario Bergoglio, die aartsbiskop van Buenos Aires, wat byna sy hele loopbaan in Argentinië deurgebring het, is die eerste pous uit die Amerikas, die eerste Jesuïet en die eerste Francis, vernoem na St Franciskus van Assisi, die nederige monnik wat sy lewe gewy het daaraan om die armes te help. Die laaste nie-Europese pous was Sirië se Gregorius III van 731-41.

Die nuwe pous het skamerig aan die duisende wat in ‘n koue ysreën gewag het, gesê. “Dit lyk asof my broers die kardinale ‘n man van die einde van die aarde gekies het, maar hier is ons. Dankie vir die verwelkoming.”

Latyns-Amerikaners, wat 40 persent van die wêreld se Katolieke uitmaak, was uitgelate met gille deur TV-aanbieders en baie trane van blydskap. In Buenos Aires het toeters weerklink.

“Dit is ‘n groot geskenk vir die hele Latyns-Amerika. Ons wag al 20 eeue. Dit was die wag werd,” sê Jose Antonio Cruz, ‘n Fransiskaanse monnik by die St Francis van Assisi kerk in Puerto Rico. “Almal van Kanada af na Patagonië voel geseënd.”

“As ‘n stryder vir die armes en die mees kwesbare onder ons, dra hy weer die boodskap van liefde en medelye wat die wêreld vir meer as 2000 jaar geïnspireer het – sodat ons in mekaar, die aangesig van God sien,” het President Barack Obama in ‘n verklaring gesê.

As die 266ste pous, erf Francis ‘n Katolieke kerk in ‘n krisis, gekenmerk deur seksmisbruikskandale, interne verdeeldheid en kwynende getalle in dele van die wêreld waar die Christendom eers vir eeue sterk gestaan het.

Terwyl Latyns-Amerika steeds die grootste blok van Katolieke op ‘n enkele vasteland verteenwoordig, is die mededinging van aggressiewe evangeliese kerke in lande soos Brasilië kommerwekkend, waar die getal Katolieke van 74 persent van die bevolking gedaal het in 2000 tot 65 persent vandag.

Katolieke gons steeds oor sy toespraak verlede jaar toe hy mede-kerk amptenare van skynheiligheid beskuldig het omdat hulle vergeet het dat Jesus Christus melaatses gewas het en saam met prostitute geëet het.

Bergoglio se nalatenskap sluit in sy pogings om die reputasie van ‘n kerk wat baie volgelinge verloor het deur versuim om Argentinië se moorddadige 1976-1983 diktatorskap openlik uit te daag, te herstel. Sy eie rekord as die hoof van die Jesuïete-orde in Argentinië is polities gelade.

Onder Bergoglio se leierskap, het Argentinië se biskoppe uitgereik na die mense en ‘n kollektiewe verskoning in Oktober 2012 vir die kerk se mislukkings om sy kudde te beskerm, aangebied. Maar die verklaring blameer die era se geweld in ongeveer gelyke mate op beide die junta en sy vyande.

“Bergoglio is baie krities oor menseregte oortredings gedurende die diktatorskap, maar hy het ook altyd kritiek op die linkse guerrilla, hy vergeet nie van die ander kant nie,” sê sy biograaf.

Die Vatikaan-woordvoerder, Federico Lombardi, ook ‘n Jesuïet, het gesê hy was veral verstom deur die verkiesing gegewe die feit dat die Jesuïete tipies posisies van gesag in die kerk vermy.

Obama waarsku teen Chinese kuberaanvalle

Barack Obama, president van Amerika, het in ‘n onderhoud, wat Woensdag uitgesaai is gesê dat verskeie kuberaanvalle teen Amerikaanse maatskappye, deur die Chinese staat geborg word.

In ‘n onderhoud met ABC het Obama ook gewaarsku dat enige “oorlog-retoriek” vermy moet word wanneer kuberaanvalle bespreek word.

Die president het ook gevra dat die Kongres kuber-sekuriteit moet versterk.

Obama se opmerkings kom na die Amerikaanse departement van verdediging bekend gemaak het dat hulle beplan om spesiale kuber-taakmagte op te lei wat sal help om kuberaanvalle op die land af te weer.

Obama se opmerkings kom kort nadat sy vise-president en ander prominente persoonlikhede se bankbesonderhede gekraak is en aan die publiek beskikbaar gestel is.

Argentyn is nuwe pous

Kardinaal Jorge Mario Bergoglio van Argentinië is as die nuwe Pous aangewys. Die 76-jarige kardinaal van Buenos Aires is die eerste kardinaal uit die Jesuit-orde en ook iemand in meer as ‘n duisend jaar wat buite Europa aangewys word om die Rooms Katolieke Kerk te lei.

Hy het voor ‘n reuse skare op St Petrusplein in die Vatikaanstad sy buiging gemaak. Hy is die eerste pous in honderde jare om ‘n heel nuwe naam te kies en sal bekend staan as Pous Franciskus die Eerste.

Die nuwe pous het sy voorganger, Pous Benedictus die Sestiende, vir sy diens aan die kerk bedank. Hy het ook die seën uitgespreek oor die wêreld, asook alle mans en vroue, en ‘n beroep op alle gelowiges gedoen om “saam te stap en saam te werk”.

Swart rook het sedert eergister slegs vyf keer uit die skoorsteen van die Sixtynse Kapel geborrel voordat wit rook gisteraand sigbaar geword het. Die skare op die plein en sowat 1,2 miljard Katolieke wêreldwyd, moes egter nog langer as ‘n uur wag om te hoor wie hul nuutverkose geestelike leier is.

Pous Franciskus het tot gisteraand in ‘n gewone woonstel gewoon, vir homself gekook en van openbare vervoer gebruik gemaak.

Obama gaan SA besoek

Pres. Barack Obama gaan Suid-Afrika later vanjaar besoek.

Hy sal na verwagting ook binnekort Patrick Gaspard as die VSA se nuwe ambassadeur in Suid-Afrika aanwys.

Dit sal dieAmerikaanse president se tweede ampsbesoek aan Afrika wees. Hy het Ghana in Julie 2009 besoek.

“Obama se besoek aan Afrika sal op vier pilare rus: die bou van demokrasie, veiligheid, handel en ontwikkeling,” het ‘n Amerikaanse regeringsamptenaar gesê.

Ontleders het reeds opgemerk dat die VSA beplan om hul betrokkenheid in Afrika uit te brei.

 

Venezuela maak verkiesingsdatum bekend

Venezuela se presidensiële verkiesing sal op 14 April plaasvind.

Venezuela se adjunk-president, Nicolas Maduro, is tans die tussentydse president nadat pres. Hugo Chavez Dinsdag glo aan ‘n hartaanval ná ‘n lang siekbed dood is.

Kort nadat die datum bekendgemaak is, het die hoof opposisie koalisie gesê Henrique Capriles, wat tydens die verkiesing in Oktober teen Chavez verloor het, hul presidentskandidaat sal wees.

Capriles het op Twitter gesê hy is sal binnekort bevestig of hy die nominasie gaan aanvaar.

Volgens die grondwet moet ‘n verkiesing “binne die volgende 30 agtereenvolgende dae” gehou word.

Die regering en die opposisie het in onlangse maande vasgesit oor hoe die grondwet geïnterpreteer moet word indien Chavez sterf.

Chavez het egter voordat hy in Desember Kuba toe is vir kankerbehandeling gesê Maduro moet oorneem as hy nie meer daartoe in staat sou wees nie.

Die grondwet sê die wetgewer se speaker moet oorneem as die president sterf voordat hy in ‘n nuwe termyn ingehuldig word.

Chavez, wat in Oktober herverkies is as president, is weens sy gesondheid nie op 10 Januarie beëdig nie, maar die hooggeregshof het die “vertraging” goedgekeur en beslis dat daar geen onderbreking tussen die twee administrasies was nie.

Bom ruk Kaboel met Amerikaanse besoek

‘n Selfmoordbomaanval en geweervuur het die middestad van Kaboel geruk tydens ‘n besoek aan die Afghaanse hoofstad deur die VSA se minister van verdediging, Chuck Hagel.

Plaaslike polisie het die aanval naby die ingang na die ministerie van verdediging bevestig.

SkyNews berig nege burgerlikes is in die aanval dood. Hagel was nie ten tye van die ontploffing in die gebou nie, volgens plaaslike owerhede.

Hy het Vrydag in Afganistan aangekom vir sy eerste besoek as minister van verdediging aan die land.

Hagel het tydens ‘n toespraak gesê daar lê talle uitdagings voor in die oorhandiging van die land se sekuriteit aan Afghaanse magte.

NAVO en die VSA is besig om hul magte uit die land te ontrek. Maar, sê Hagel, “ons is steeds in ‘n oorlog gewikkel.”

Hy het gesê dit was nooit die VSA se stragegie om vir ewig in Afganistan te bly nie, maar dat die land en sy bondgenote gefokus moet bly op die taak wat hulle daar het.