Die Chinese parlement het Xi Jinping Donderdag as president aangewys, vier maande nadat hy as leier van die Kommunistiese Party verkies is.
Gedurende sy tyd as leier van die Kommunistiese Party het hy onderneem om hervormings deur te voer, ‘n aankondiging wat burgers vol hoop gelaat het. Daar is egter min verandering nog sigbaar.
Sowat 3 000 afgevaardigdes het byeengekom om hul kruisies in Beijing se Groot Volksaal te trek, alhoewel die uitslag reeds vooraf bekend was.
Xi het 2 952 stemme ontvang, met een stem teen hom en drie bedorwe stembriewe.
“Ek maak bekend dat kameraad Xi Jinping verkies is as president van die Republiek van China,” het Liu Yunshan, wat die sessie gelei het, aangekondig.
Die 59-jarige Xi het opgestaan en voor die afgevaardigdes gebuig voordat hy ander beamptes se hande geskud en van die verhoog af gestap het.
Xi se aanstelling as leier van die wêreld se tweede grootse ekonomie sal Vrydag gevolg word deur die benoeming van Li Keqiang as premier.
