Venezuela se presidensiële verkiesing sal op 14 April plaasvind.
Venezuela se adjunk-president, Nicolas Maduro, is tans die tussentydse president nadat pres. Hugo Chavez Dinsdag glo aan ‘n hartaanval ná ‘n lang siekbed dood is.
Kort nadat die datum bekendgemaak is, het die hoof opposisie koalisie gesê Henrique Capriles, wat tydens die verkiesing in Oktober teen Chavez verloor het, hul presidentskandidaat sal wees.
Capriles het op Twitter gesê hy is sal binnekort bevestig of hy die nominasie gaan aanvaar.
Volgens die grondwet moet ‘n verkiesing “binne die volgende 30 agtereenvolgende dae” gehou word.
Die regering en die opposisie het in onlangse maande vasgesit oor hoe die grondwet geïnterpreteer moet word indien Chavez sterf.
Chavez het egter voordat hy in Desember Kuba toe is vir kankerbehandeling gesê Maduro moet oorneem as hy nie meer daartoe in staat sou wees nie.
Die grondwet sê die wetgewer se speaker moet oorneem as die president sterf voordat hy in ‘n nuwe termyn ingehuldig word.
Chavez, wat in Oktober herverkies is as president, is weens sy gesondheid nie op 10 Januarie beëdig nie, maar die hooggeregshof het die “vertraging” goedgekeur en beslis dat daar geen onderbreking tussen die twee administrasies was nie.
