China se wapenuitvoere klim

China het Brittanje verbygesteek as die wêreld se vyfde grootste uitvoerder van wapens, het ‘n Sweedse dinkskrum Maandag gesê.

China se wapenuitvoere het met 162% gestyg in die vyf jaar van 2008-2012, vergeleke met die vorige vyf jaar, het die Sweedse Internasionale Instituut vir Vredesnavorsing (Sipri) in sy verslag gesê.

Dit beteken China se aandeel in alle internasionale wapenuitvoere het van 2% na 5% gestyg en die land het van die agste na die vyfde posisie op die lys van uitvoerders gestyg.

Die grootste koper van Chinese wapens is Pakistan, wat 55% van die land se uitvoere koop, gevolg deur Mianmar, met 8% en Bangladesj met 7%, het Sipri gesê.

“China se groter uitvoere word hoofsaaklik gedryf deur grootskaalse wapenaankope deur Pakistan,” het Paul Holtom, direkteur van die Sipri Arms Transfers Programme, gesê.

Nietemin dui ‘n paar onlangse transaksies daarop dat China hom as ‘n belangrike wapenverskaffer aan ‘n toenemende aantal lande vestig.

Sulke ooreenkomste sluit in die verkoop van drie fregatte aan Algerië, agt vervoervliegtuie aan Venezuela en 54 tenks aan Morokko, het Sipri gesê.

Amerika bly die wêreld se grootste uitvoerder van wapens in die tydperk van 2008-2012, met 30% van die internasionale volume.

Rusland is tweede, met 26%; Duitsland is derde, met 7%; en Frankryk vierde, met 4%, het Sipri gesê.

Maak 'n opvolg-bydrae