Hilary Joffe, woordvoerder van Eskom, sê daar is ‘n gebrek aan reserwekrag en Eskom sukkel om in die elektrisiteitsvraag te voorsien. Daar is tans net 49 dae se steenkoolvoorraad oor.
Werkers by Exxaro, die land se naasgrootste steenkoolprodusent, staak ook tans. ‘n Koeberg-eenheid is reeds weke lank buite werking weens ‘n tegniese probleem en kragdrade van die Cahora Bassa-projek is in vloede beskadig.
Produksie is as gevolg hiervan met 22% verminder.
Die groot Hillside I-kontrak van 1993 tussen BHP, die ANC en president Mandela wat Eskom se surpluskrag goedkoop beskikbaar gestel het, lê egter aan die wortel van Suid-Afrika se kragkrisis. Daarna het Mozal 1, Hillside II, Mozal II en Hilside III gevolg om die land verder op sy knieë te dwing.
Suid-Afrika is ‘n ontwikkellende land met ‘n groeiende industrie, mynbou, bevolking en dus elektrisiteitsaanvraag.
Die rand kan skerp daal weens die moontlikheid van hernude kragonderbrekings in Suid-Afrika.
Peter Attard Montalto, ‘n Nomura-ekonoom in Londen, verwag dat die geldeenheid tot R9,95 teenoor die dollar kan val as die gebeure van 2008 ‘n maatstaf is, het Sake24 berig.
Suid-Afrika sal bes moontlik na beurtkrag moet terugkeer soos in 2008, toe huishoudings en nywerhede in donkerte gehul was.
Die rand het met 15% getuimel in die eerste kwartaal van 2008 nadat ‘n tekort aan steenkool en onderhoud aan kragaanlegte tot beurtkrag gelei het.
Ons geldeenheid het Maandag teen 13:30 naby R9,17 verhandel. Die rand het tot dusver vanjaar met 8% teenoor die dollar gedaal, die swakste vertoning uit 25 geldeenhede in die ontluikende markte.
Nie alleen die arbeidsonrus nie, maar die grootste tekort op die lopende rekening in vier jaar, ‘n groter wordende begrotingstekort en die moontlikheid dat Suid-Afrika se kredietgradering weer hersien kan word, plaas die geldeenheid onder druk.
