Joernalis Chris Louw, is met ‘n kopwond gevind wat dui op selfmoord, het die Noordwespolisie gesê.
“Hy het sy vrou beveel om in die huis te bly, en toe na buite gegaan. Daar is ‘n plek waar hy blomme geplant het, wat ‘n spesiale plek vir hom was soos ons verstaan. En by daardie plek het hy homself met ‘n AK47-aanvalsgeweer geskiet,” het sup. Lesego Metsi, ‘n polisiewoordvoerder gesê het nadat sy lyk op sy plaas naby die Hartbeespoortdam in Noordwes gevind is.
Louw, 56, het sy eie lewe geneem terwyl sy vrou en dogter in die huis was. Sy seun het na die woning teruggekeer toe hy van die voorval in kennis gestel is.
‘n Selfmoordnota is langs Louw se liggaam gevind en nóg een is op sy rekenaar gevind.
“Hy het ‘n selfmoordnota op die 29ste (November) geskryf, maar die datum daarna verander na die 30ste omdat hy nie toe sy lewe kon neem nie,” het Metsi gesê.
Die polisie het ook ‘n harde kopie van die nota gekry wat die datum van die 30ste dra.
Metsi het gesê die polisie het ‘n ondersoek geloods om vas te stel waar Louw die AK47 vandaan kon kry.
“Ons ondersoek ook waar die aanvalsgeweer vandaan kom want Louw se vrou het bevestig dat hy nie die eienaar van die AK47 was nie. Die aanvalsgeweer het roes op gehad, so dit lyk asof dit iewers weggesteek was voor hy selfmoord gepleeg het,” het Metsi gesê.
Familie en vriende het vroeër by Louw se plaas naby die Hartebeespoortdam in Noordwes bymekaargekom om hul meegevoel te toon.
“Dit is altyd ‘n skok en natuurlik was hy ‘n oud-kollega én vriend,” het Foeta Krige gesê, wat Louw se lyk gevind het.
Krige het gesê Louw het Maandagmiddag kort na 14:00 vermis geraak. Die plaaslike buurtwag het gesoek maar kon hom nie vind nie.
Krige het gesê Louw, wat sy voormalige baas by Radio Sonder Grense was, het onlangs ‘n boekkontrak losgeslaan.
Krige sê Louw het die gesig van hedendaagse Afrikaanse debatte verander toe hy uitvoerende regisseur van RSG was en dat hy ‘n “baie liberale Afrikaner” was. Krige is tans die regisseur van Monitor.
Hy het ook die afgelope tyd gereeld oor ‘n vlaag misdade in die gebied vir Beeld geskryf en het sy kommer oor die toestand in die land te kenne gegee.
“In sy laaste artikels het hy die ontnugtering van baie Suid-Afrikaners, wat se verwagting van die nuwe Suid-Afrika nie ‘n werklikheid geraak het nie, uitgebeeld,” het Pieter Mulder van die Vryheidsfront Plus, oor Louw gesê.
Louw het bekendheid verwerf met sy opspraakwekkende “Ope brief aan Willem de Klerk, Boetman is die bliksem in”, wat deur PRAAG uitgegee is. Die ope brief is net gedeeltelik in Media24 weergegee.
Die ope brief het aanleiding gegee tot die Boetmandebat. Hy het in sy brief aan de Klerk die ouer generasie Nasionale Partyleiers daarvan beskuldig dat hulle papbroekige verraaiers was wat bereid was om jong lewens vir hulle ideaal van apartheid op te offer maar daarna eenvoudig oorgestap het na die ANC.
Louw was deel van ‘n sending Afrikaners wat in 1987 met die toe-nog-verbode ANC ontmoet het in Senegal. Hy het eerstehandse kennis gedra van die oorgawe en verraad van die Nasionale Party. Hy gee ‘n omvattende beskrywing daarvan in sy opvolgboek “Boetman en die swanesang van die verligtes”.
Hy was ‘n joernalis vir verskeie publikasies soos Mail & Guardian, Die Landbouweekblad, Vaderland en Oggendblad en het baie artikels vir Beeld geskryf.
Louw word deur sy vrou, seun en dogter oorleef.
Mulder het Louw se eerlikheid geprys. “Ek het groot waardering gehad vir die eerlike wyse waarop hy ander gekritiseer het, ook homself. Die vreeslose manier waarop hy alles en almal gestorm het wat hy as oneerlik beskou het, sal sy groot bydra tot die Suid-Afrikaanse debat bly.”
online casinoОлександр Васильович Фільчаков