Dr. Pieter Mulder, adjunkminister van Landbou, Bosbou en Visserye, is die naweek eenparig as leier van die VF Plus herkies.
Alle leiersposisies in die VF Plus word op ’n tweejaarlikse basis deur die party se Federale Raad oor gekies. Die Federale Raad is die VF Plus se hoogste gesagsliggaam en bestaan uit afgevaardigdes uit al nege provinsies. Die naweek se Federale Raadsvergadering was die grootste Federale Raadsvergadering wat nog gehou is, met talle nuwe afgevaardigdes uit alle provinsies.
Mnr. Abrie Oosthuizen, Vrystaatse leier van die party, is as die Voorsitter van die party herkies.
Na sy eenparige verkiesing het dr. Mulder die afgevaardigdes bedank vir hulle vertroue in hom en sy tevredenheid uitgespreek met die entoesiasme en voltallige bywoning van die vergadering. Hy het daarop gewys hoe oorhaastige transformasie en regstelling tot krisisse in staatsondersteunde instellings soos Eskom, SAL, Transnet, SABC en Krygkor gelei het. By al hierdie instellings is die hoofde die afgelope jaar afgedank. Om te kritiseer en te kla alleen gaan egter nie help nie. “Wat lê anderkant kla?” het dr. Mulder gevra. Volgens dr. Mulder lê die VF Plus se beleid en antwoorde anderkant kla.
Dr. Corné Mulder (Wes-Kaapse leier en LP), mnr. Pieter Groenewald (Noordwes-leier en LP), adv. Anton Alberts (VF Plus Parlementslid), mnr. Andrew Gerber (voormalige Noordwes-LPW) asook mnr. Jaco Mulder (Gautengse leier en LPW) is as lede van die VF Plus se Uitvoerende Dagbestuur verkies.
“Die vernuwing van die party was duidelik uit die feit dat soveel jong mense die vergadering bygewoon het en dat twee van die provinsies nuwe provinsiale leiers verkies het,” het dr. Mulder gesê.
Noord-Kaap en Limpopo het nuwe provinsiale leiers aangewys. Mnr. Wollie Burger is as nuwe provinsiale leier vir die Noord-Kaap gekies in die plek van mnr. Carel Boshoff IV wat nie weer beskikbaar was nie. In Limpopo is mnr. Louis Trichardt as provinsiale leier verkies in die plek van dr. Willie Snyman wat uitgetree het.
