Eis teen Transnet namens pensioenarisse

‘n Jare-lange stryd wat die Vryheidsfront Plus (VF Plus) namens pensioenarisse van Transnet voer om vergoed te word vir skade wat lede van die pensioenfondse oor die laaste twintig jaar gely het weens vermeende wanadministrasie van die fondse, het nou gelei tot die indien van die grootste siviele eis in Suid-Afrika se regsgeskiedenis teen Transnet en die regering.

Die VF Plus het na talle navrae en vergaderings met Transnet-pensioenarisse die afgelope jare onderneem om die onreg wat hulle aangedoen is, polities en juridies te behandel en te probeer oplos.

Die VF Plus het die eerste deel van die onderneming nagekom, naamlik om Transnet en die regering hof toe te neem vir die skade wat sy pensioenarisse gely het. ‘n Siviele eis is op Vrydag (26 April 2013) by die hooggeregshof in Pretoria ingedien.

Wat die saak soveel meer geskiedkundig maak, word onderstreep deur die volgende:

1. Die eis beloop bykans R90 miljard. Dit is die grootste regseis in die geskiedenis van Suid-Afrika en natuurlik ook die grootste klasaksie ooit;

2. Die omvang van die saak is duidelik as in ag geneem word dat dit ‘n eis is met twee keer die waarde van die wapentransaksie;

3. Die eis kan Transnet finansieel knak en net die indien daarvan kan lei tot ‘n ernstige afwaartse afgradering van Transnet se kredietstatus en bes moontlik ook die van die staat self;

4. Die eis spruit voort uit waarskynlik die grootste vermeende bedrog nog gepleeg in ‘n pensioenfonds;

5. Die eis raak 66 000 pensioentrekkers en hulle afhanklikes waarvan 62% tans minder as R2 500 ‘n maand kry.

Die VF Plus gaan aankondig wat die binne-parlementêre strategie sal wees aanvullend tot die juridiese noudat die saak by die hooggeregshof aanhangig gemaak is.

Afrikanerkultuurbond verwelkom herstel van Pretoriase straatname

Die Hoofbestuur van die Afrikanerkultuurbond verwelkom die uitspraak in die ‘Straatnaamsaak’, wat deur die Burgerregte-organisasie, Afriforum, teen die Tshwane munisipaliteit aanhangig gemaak is.

Die regspraak van regter Bill Prinsloo in die Pretoria Hooggeregshof, wat beveel dat die verwyderde straat name weer opgerig moet word, word as ‘n tydige en betekenisvolle sege vir die handhawing en bevordering van kultuurregte van etniese minderhede beskou.

In internasionale verband word uitvoerig aandag gegee aan strukture en prosesse wat kultuur- en taalregte van volke beskerm en bevorder, hiervan kan verskeie voorbeelde aangehaal word. Hierteenoor is die ANC-staat se uitvoering van internasionale ooreenkomste en konstitusionele reëlings, ‘n tragedie.

Instede van ‘n nakoming van regs- en wetsreëlings, streef die huidige ANC-staat na assimilering en die uiteindelike uitwissing van die unieke en besondere kultuur-, taal- en historiese erfenis van Suid-Afrika.

Die Afrikanerkultuurbond beywer hom vir die handhawing en bevordering van Afrikaners se identiteit. Hierdie identiteit is die vergestalting van waardes en ideale en word simbolies geartikuleer deur persone of leiersfigure wat ‘n besondere bydrae tot die Afrikaner se voortbestaan gelewer het. Die persone wat deur middel van straat- en skoolname, Hospitale, Museums en ander simbole gehuldig word, is nie net oppervlakkige verwysings nie, maar verpersoonlik die oortuigings van ‘n unieke volksgemeenskap. Wat meer is, is dat die betrokke persone en instansies bykans sonder uitsondering in hulle strewe na behoud van die Afrikanervolkseie en ontwikkeling van die Afrikanervolk, hulle uit oortuiging ook erkenning en waar toepaslik die uitbouing van die volkseie van ander taal- en kultuurgroepe van Suid-Afrika bepleit en bevorder het. Die optrede word gesien in die optrede van die Groottrekleiers, die Boere Republiekleiers en die Afrikanerleiers sedert 1910.

Volgens, dr Christo Pretorius, ondervoorsitter van AKB is die ‘Struggle-ideologie’ van die ANC-staat nie ‘n volhoubare lewensbeskouing nie. ‘Die kern-kenmerke van volke word nie met ‘n rooistreep uitgewis nie.’

Die AKB dra sy waardering aan Afriforum en ander kultuurinstansies oor en verbind hom opnuut daartoe om die brose erfenis van ons gemeenskap te koester en ander volksgemeenskappe se uniekhede te erken.

Engels in howe eggo imperialisme sê VRA

Regter Cynthia Pretorius se pleidooi dat slegs Engels die enigste hoftaal moet geld, is ondeurdag, onverantwoordelik en ongrondwetlik.

Die Vereniging van Regslui vir Afrikaans (VRA) het só gereageer op Pretorius wat Woensdag voor die Regterlike Dienskommissie (RDK) verskyn het om te vra dat Afrikaans afgeskaf word.

Sy is een van drie kandidate vir die pos van adjunk-regter-president van Noord-Gauteng.

Volgens die VRA sal so ‘n besluit die regte van alle landsburgers op regspleging ignoreer.

“Die argument dat Engels gebruik moet word omdat die meeste regters nie Afrikaans magtig is nie, is prinsipieel bedenklik en bowendien elitisties.

“Die howe is daar vir die publiek en nie die publiek vir die howe nie. Die howe en regters dien deur middel van die regspleging die publiek. Dis nie die regspleging en die publiek wat regterlike beamptes moet dien nie. Regterlike beamptes moet die publiek dien.”

Volgens die VRA is daar heeltemal genoeg regters – wit en swart – wat Afrikaans magtig is om sake in Afrikaans te verhoor. “Trouens, daar is gevalle van swart regters wat gereeld uitsprake in onberispelike Afrikaans lewer.”

Die VRA het regters gevra om hulle van standpunte ten gunste van Engels te weerhou. “Sodanige standpunte eggo ou imperialistiese sentimente, maar is nóg in pas met Suid-Afrika se inheemse behoeftes nóg met die eise van behoorlike regspleging.”

Wit bejaarde by pensioenuitkering verneder

Die Vryheidsfront Plus gaan ‘n klag by die Suid-Afrikaanse Menseregtekommissie (MRK) indien na die voorval waarin ‘n 84-jarige vrou van Newcastle, mev. Ria van Straaten, gedwing is om te sing voordat amptenare haar ouderdomspensioen aan haar uitbetaal het.

Die party eis ook die onmiddellike afdanking van al die personeel wat by die voorval betrokke was en dring daarop aan dat die betrokke persone deur die MRK beveel word om mev. Van Straaten te vergoed vir die trauma en vernedering wat sy deurgegaan het.

Adv. Anton Alberts, die VF Plus se woordvoerder oor maatskaplike aangeleenthede, sê mev. Van Straaten is steeds so getraumatiseerd en vernederd dat sy nie oor die voorval wil praat nie.

“Ons gaan ‘n klag by die Menseregtekommissie en die Staatsdienskommissie indien teen die personeel en bestuurder van die betrokke kantoor.

“Die Staatsdienskommissie moet dit ondersoek en ons dring daarop aan dat die skuldiges nooit weer in enige pos in die staatsdiens aangestel word nie.

“Dit is ‘n skande dat ‘n bejaarde vrou wat net haar pensioen wou gaan haal, so verneder is. Dit is ‘n bewys daarvan dat die regering net lippediens lewer wanneer dit by die gelyke behandeling van minderhede kom,” sê adv. Alberts.

Afrikaanse regter pleit vir Engels

‘n Afrikaanssprekende regter wil Engels as enigste hoftaal in Suid-Afrika hoor.

Regter Cynthia Pretorius, van die hooggeregshof in Pretoria, het gesê sy dink nie Afrikaans moet ‘n besondere plek hê nie.

“Ek dink die hoftaal moet Engels wees,” het sy gesê en bygevoeg dat die meeste hofgeskrifte in Engels is en die meeste mense Engels magtig is.

Pretorius hoop kennelik dat die Regterlike Dienskommissie (RDK) haar as een van drie kandidate vir die pos van adjunk-regter-president van Noord-Gauteng sal oorweeg as sy haarself teen Afrikaans uitspreek.

Madala Masuku, Mpumalanga se LUR vir finansies, het haar uitgevra oor ‘n versoek dat sy onttrek aan ‘n onlangse saak omdat sy Afrikaans is en aan die Universiteit van Pretoria gestudeer het.

“Ek dink nie die feit dat ek Afrikaanssprekend is, kan teen my gehou word nie. Dit is hoe ek gebore is. Ek dink nie dit kan teen my gehou word dat ek ‘n wit Afrikaanse vrou is nie,” het sy gesê.

Masuku het gevra hoe sy haar verbintenis tot Afrikaans gaan hanteer. Pretorius het dit baie duidelik gemaak dat sy ‘n hele minderheidsgemeenskap se reg om in hul taal verdedig te word, sal opoffer vir haar ambisie.

“Ek dink ‘n moeilike politieke besluit moet geneem word om Engels die hoftaal te maak,” het sy verklaar. Sy het ook gesê baie Afrikaanse mense hou nie van haar nie omdat sy “liberaal” is.

Regters Audrey Ledwaba en Lettie Molopa-Sethosa is saam met Pretorius kandidate vir die pos.

Pretorius se gunstige uitspraak in die dronkbestuursaak teen Robert McBride, het onlangs wenkbroue laat lig.

Afrikaans verloor ‘n groot gees

Die SA Akademie vir Wetenskap en Kuns se Taalkommissie onder leiding van Tom McLachlan het hulde gebring aan een van Afrikaans se groot taalkundiges, die bekende prof. F.F. Odendal, wat op Saterdag 6 April in Kaapstad oorlede is.

Baie mense sal die naam F.F. Odendal herken omdat dit al so lank prominent op die omslag van die wyd gebruikte Verklarende handwoordeboek van die Afrikaanse taal, ofte wel die HAT, pryk. Hy was trouens van 1971 tot 2005 die hoofredakteur van hierdie gewilde Afrikaanse handwoordeboek.

Prof. Odendal was egter nie net ‘n leksikograaf van formaat nie. Hy was ook dekades lank lid, en later voorsitter, van die Taalkommissie, die liggaam wat verantwoordelik is vir die opstel van die Afrikaanse woordelys en spelreëls. In 1984 het die Taalkommissie onder sy voorsitterskap ook die vertalende Lys klassieke eiename gepubliseer.

Honderde studente van die destydse Randse Afrikaanse Universiteit sal hom ook onthou as uitnemende dosent. Hy was trouens die eerste hoogleraar in Afrikaanse taalkunde aan die RAU.

Hy het ook 25 jaar lank gedien in die destydse komitee vir taaladvies van die SAUK, waar hy ‘n onmisbare bydrae gelewer het, onder meer tot nuutskepping.

Sy nalatenskap op soveel terreine van die Afrikaanse taalkunde is enorm, en die Taalkommissie eer sy nagedagtenis en sy nalatenskap.

Afrikaans het ‘n groot gees verloor, het voorsitter McLachlan gesê.

Spanning tussen landbou en mynbou laai op

Landbougrond, en die spanning tussen landbou en mynbou in Suid-Afrika en wêreldwyd, gaan al hoe meer onder die kollig kom namate dit al hoe moeiliker gaan raak om genoeg kos vir die wêreld se bevolking te produseer op steeds minder beskikbare grond.

Navorsing wat die department van landbou in 2011 gedoen het, het getoon dat ‘n gebied so groot soos die Nasionale Kruger-wildtuin reeds permanent in Suid-Afrika vir landbou verlore gegaan het weens mynbou, verstedeliking en ander ontwikkelings.

So sê dr. Pieter Mulder, adjunkminister van landbou, bosbou en visserye wat vanoggend AgriSA se kongres oor landbou en mynbou in Pretoria geopen het.

Dr. Mulder het in sy toespraak verwys na die skaarste van top-gehalte landbougrond in die land, en die groeiende impak wat faktore soos mynbou en landelike ontwikkeling in ‘n toenemende mate daarop het.

Van ‘n provinsie soos Mpumalanga se totale oppervlak is 4,55 miljoen hektaar sogenaamde graad 1- tot 4 grond. Volgens die klassifikasie-tabel is dit goeie bewerkbare en volhoubare grond wat geskik is vir die kweek van gewasse. Hiervan is 3,17 miljoen hektaar reeds afgestaan aan mynbou en prospektering. ‘n Skokkende totaal van 70% volgens Mulder.

Hy sê mynbou in Suid-Afrika was die grootste dryfkrag agter die ontstaan en ekonomiese ontwikkeling van Suid-Afrika as ‘Afrika se mees gevorderde en rykste ekonomie’. Terselfdertyd speel landbou ‘n uiters belangrike rol betreffende voedselvoorsiening en landelike ontwikkeling wat van kritieke belang is vir die land se sosiaal-ekonomiese en –politieke stabiliteit. Die vraag is hoe hierdie twee aktiwiteite in belang van Suid-Afrika en die toekoms teenoor mekaar gebalanseer word.

Suid-Afrika se oppervlak beslaan 122 miljoen hektaar grond waarvan sowat 100 miljoen hektaar, of 82.3%, as ‘landbougrond’ geklassifiseer kan word. Hoë kwaliteit landbougrond wat geskik is vir intensiewe voedselproduksie in Suid-Afrika beslaan egter net 12,75 miljoen hektaar – dit is slegs sowat 13% van die land se totale oppervlak.

Gegewe Suid-Afrika se eiesoortige klimaatsomstandighede, word 98% van die oppervlak geklassifiseer as gebied met ‘ernstige beperkings’. Dit is weens faktore soos klimaat (reënval), grondoppervlak en -kwaliteit. Hierdie is half-woestyn en woestyngebiede soos die Karoo en die Kalahari-woestyn.

Navorsing toon aan dat die wêreld se graanproduksie sedert 2008 drie keer minder as die aanvraag was. Die globale landboumarkte is ook so wisselvallig dat dit van die grootste belang is dat Suid-Afrika in toenemende mate na homself sal moet omsien was voedselsekerheid aanbetref.

Volgens dr. Mulder is die effek van die skaarste van landbougrond ‘n wêreldwye probleem. Internasionaal het voedselskaarste toegeneem van 800 miljoen mense in 1996 tot 925 miljoen in 2011.

Met die wêreldwye bevolkingsgroei word bereken dat teen die jaar 2030 ‘n bykomende 20 miljoen hektaar landbougrond ontgin sal moet word ten einde genoeg voedsel te kan produseer.

Teen 2050, wanner die wêreldbevolking 9 miljard bereik, sal ‘n bykomende 1 miljard ton graanprodukte en 200 miljoen ton vleis geproduseer moet word om huidige voedselvoorsiening te handhaaf.

Navorsing wat in 2005 in Suid-Afrika gedoen is, dui daarop dat 51,6% van alle Suid-Afrikaners al honger gely het en dat slegs 20,2% geen voedselgebrek ly nie.

Onlangse navorsing van die Waternavorsingskommissie en die Mediese Navorsingsraad het bevind dat ten minste 20 miljoen Suid-Afrikaners van alle ouderdomme honger en ondervoed is.

Tog moet die ekonomiese belangrikheid van die mynbousektor in Suid-Afrika nie misken word nie, sê dr. Mulder. Die land se totale minerale reserwes is van die waardevolste ter wêreld, met ‘n geraamde waarde van R20,3 triljoen.

“Die sektor voorsien werk aan 1,3 miljoen mense. Dit is 2,7% van die land se totale werkkrag. Dit genereer meer as 50% van die land se valuta, lok beleggers en verskaf 13,2% van Suid-Afrika se korporatiewe belasting-inkomste.”

Hy sê om die situasie in Suid-Afrika deeglik te bestuur, is twee woorde veral belangrik. Dit is beskerming en verantwoordelike bestuur.

Dit is die staat se plig en verantwoordelikheid deur die departement van landbou, bosbou en visserye, om deur wetgewing en ander maatreëls toe te sien dat grond behoue bly en bewaar word vir die toekoms. En dit is die plig van die landbouers om die kosbare lewensbron wat in hulle besit is, verantwoordelik te bestuur, sê dr. Mulder.

Rugbyster in roof doodgeskiet

Die voormalige Leeu-rugbyspeler Johan Kemp is Donderdagoggend in sy huis in Fontainebleau, Randburg, doodgeskiet, het Beeld berig.

Volgens lt.kol. Lungelo Dlamini, polisiewoordvoerder, het drie inbrekers Kemp (35) omstreeks 02:00 in sy slaapkamer oorval en hom drie keer in die bolyf geskiet.

Kemp het in 2002 in ses wedstryde vir die Leeus se Vodacombeker-span as stut uitgedraf.

“Ons weet nie hoe die inbrekers ingekom het nie. Daar is geen teken van inbraak nie en die honde het nie geblaf nie,” het Dlamini gesê.

Kemp se vrou, Elaine, is glo ook deur die rowers gedreig.

“Sy vrou, wat ten tyde van die voorval elders in die huis was, het die skote gehoor, na die slaapkamer gegaan en hom dood aangetref.”

Haar juwele, twee selfone en ‘n skootrekenaar is gevat.

Die rowers het glo ook motorsleutels gevra. Hulle wou egter niks weet van die bakkiesleutel wat sy hulle aangebied het nie en het aangedring op die gesin se Corsa-motor. Die rowers is daarmee weg.

Die gesin se twee klein seuntjies, Christiaan (2) en Chris­topher (4), is ongedeerd.

Hul twee honde is met messe gesteek, maar het blykbaar oorleef.

Agang mik vir wit boere

By die opening van die Land Divided 2013-konferensie by die Universiteit van Kaapstad (UK) Sondag, het Mamphela Ramphele gesê die land is armer want Suid-Afrika verloor kommerwekkend baie van sy kommersiële boere na lande na die noorde van ons.

Vyftien jaar gelede was daar 100 000 kommersiële boere in Suid-Afrika, vandag was daar 36 000.

“Dit is kommerwekkend dat Suid-Afrika sy kommersiële boere verloor aan ander lande na die noorde. Ons word vertel dat 50% van die kommersiële boere in Zambië Suid-Afrikaners is. Daar is 800 van hulle in Mosambiek.”

Kommersiële boere is wat nodig is om die opkoms van klein boere aan te moedig en te ondersteun, het Ramphele gesê.

Die vier-dag-konferensie is 100 jaar ná die aanvaarding van die 1913-segregasiewet gehou. Dié wet het swart eienaarskap van grond in Suid-Afrika omskryf.

Die konferensie-organiseerders – die Universiteit van Kaapstad, Stellenbosch en Wes-Kaap – sê dit bied ‘n groot geleentheid vir navorsers, die burgerlike samelewing en die staat om te besin oor die betekenis van “die grondvraag ‘in die Suid-Afrikaanse samelewing”.

Ramphele het gesê dat 19 jaar na demokrasie, die grondvraagstuk steeds “historiese, emosionele en simboliese betekenis” in Suid-Afrika inhou.

Sy het gesê dit beliggaam ‘n “verlore geleentheid”, wat gebruik kan word om die land se ekonomiese groei te verbeter.

“As ons regtig ‘n kreatiewe benadering tot grondhervorming volg, sal ons groei [ekonomies] met dubbelsyfers.”

Ramphele het gesê ongelykheid in Suid-Afrika is struktureel geskep, en daarom “moet dit struktureel reggestel word”.

Sy het ook kritiek gelewer op die ANC se verskansing van stamowerhede.

“Ons moet strukturele ekonomiese ongelykhede aanspreek […] en verseker dat landelike mense burgerregte geniet, eerder as … om onder die gebruiklike gesag van hoofmanne te staan.”

Onder die apartheidsregering, is mag oor grond gekonsentreer in die hande van hoofmanne.

“Die ANC-regering gaan voort om die outokratiese rol van die hoofmanne oor die grond te bestendig, en daardeur marginaliseer hulle gewone mense.”

“Ek kan nie glo dit word gedoen deur ons eie post-apartheid regering nie,” het Ramphele gesê.

Sy het haar gehoor vertel dat die gewillige koper, gewillige verkoper-model van die oordrag van grond aan swart eienaarskap nie gewerk het nie.

NW-premier geskok oor hondeteler se moord

Die premier van Noordwes, Thandi Modise, het haar skok uitgespreek oor die moord op ‘n bekende hondeteler buite Rustenburg.

Eric Labuschane is Donderdag dood in sy huis aangetref.

Sy bejaarde ma, wat aan Alzheimer se siekte ly, is gevind waar sy in die badkamer toegesluit was.

Modise het ‘n beroep op die polisie gedoen om geen steen onaangeroer te laat om die moordenaars vas te trek nie.

Sy het ook gesê boere moet ‘n doeltreffende kommunikasienetwerk hê om plaas-aanvalle te help voorkom.