Die voormalige Leeu-rugbyspeler Johan Kemp is Donderdagoggend in sy huis in Fontainebleau, Randburg, doodgeskiet, het Beeld berig.
Volgens lt.kol. Lungelo Dlamini, polisiewoordvoerder, het drie inbrekers Kemp (35) omstreeks 02:00 in sy slaapkamer oorval en hom drie keer in die bolyf geskiet.
Kemp het in 2002 in ses wedstryde vir die Leeus se Vodacombeker-span as stut uitgedraf.
“Ons weet nie hoe die inbrekers ingekom het nie. Daar is geen teken van inbraak nie en die honde het nie geblaf nie,” het Dlamini gesê.
Kemp se vrou, Elaine, is glo ook deur die rowers gedreig.
“Sy vrou, wat ten tyde van die voorval elders in die huis was, het die skote gehoor, na die slaapkamer gegaan en hom dood aangetref.”
Haar juwele, twee selfone en ‘n skootrekenaar is gevat.
Die rowers het glo ook motorsleutels gevra. Hulle wou egter niks weet van die bakkiesleutel wat sy hulle aangebied het nie en het aangedring op die gesin se Corsa-motor. Die rowers is daarmee weg.
Die gesin se twee klein seuntjies, Christiaan (2) en Christopher (4), is ongedeerd.
Hul twee honde is met messe gesteek, maar het blykbaar oorleef.
